Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Islam verwerp die leer oor die Drie-Eenheid as politeïsme

Die term “Drie-Eenheid” kom nie in die Bybel voor nie. Tertullianus (150–240 nC) was waarskynlik die eerste kerkvader om die term te gebruik[1]. Die hele Bybel, van begin tot einde, is egter vol van die saak dat God drie Persone in een Wese is. Die Vader is God (Jakobus 1:17, Deuteronomium 32:6, Johannes 10:29), die Seun is God (Kolossense 1:15,16; 1 Johannes 5:20, Johannes 8:28,58) en die Heilige Gees is God (Handelinge 5:3,4, Jesaja 40:13). Dan is daar ook nog die Drie-eenheidsformules wat dit bevestig: Matteus 28:19; 2 Korintiërs 13:13, 1 Petrus 1:2; 1 Korintiërs 12:4 en 2 Tessalonisense 2:13-15. Die leer oor die Drie-Eenheid is die kern van die Christelike geloof, en dié wat dit nie aanvaar nie, is tradisioneel ketters genoem.

Islam erken nie Jesus as die Seun van God nie en beskou die leer oor die Drie-Eenheid as lasterlik. Die Koran noem op verskeie plekke dat God één is (bv Suras 16:51, 44:8, 47:19) en monoteïsme of tawhid is die kern van die leer van Islam. Moslems beweer dat die leer van die Drie-Eenheid nie monoteïsme is nie, maar politeïsme. Vir hulle is dit shirk, die onvergeeflike sonde, naamlik om te beweer dat God gelykes het. Dit is die ergste vorm van afgodediens.

Daar is verse in die Koran wat die kwessie van die Drie-Eenheid aanspreek. In Sura 4:171 staan daar byvoorbeeld[2]: “O mense van die Boek, moenie die bepalinge van julle godsdiens verontagsaam nie, en sê niks anders van Allah as die waarheid nie. Die Messias, Jesus, die seun van Maria is slegs ’n boodskapper van Allah … En sê nie: Drie-Enige. Maar staak dit … Allah is ’n enkele God…”.

In Sura 5:72,73 staan daar ook: “Hulle het beslis nie geglo wat sê: “Allah is die Messias, die seun van Maria” terwyl die Messias gesê het: “O kinders van Israel, aanbid Allah, my Here en julle Here.” Inderdaad, hy wat ander met Allah assosieer – Allah het hom die Paradys verbied, en sy toevlug is die vuur. En daar is nie vir die oortreders enige helpers nie. Hulle het beslis nie geglo nie wat sê: ‘Allah is die derde van drie.’ En daar is geen god behalwe een God nie. En as hulle nie ophou met wat hulle sê nie, sal ’n pynlike straf die ongelowiges onder hulle sekerlik tref.

Uit hierdie en ander verse (Sura 5:77-79, 5:116) is dit duidelik dat Maria, eerder as die Heilige Gees, volgens hulle, ingesluit is by die Drie-Eenheid. Mohammad het dus verkeerdelik aanvaar dat Christene glo dat God ‘n seksuele verhouding met Maria gehad het wat die geboorte van Jesus tot gevolg gehad het. Hy neem ook aan dat Christene Maria aanbid. Toe Mohammad uitgevra is oor die Heilige Gees, kon hy nie die vraag beantwoord nie. Die Koran (Sura 66:12) beskryf Jesus as die “Gees van God” wat in Maria ingeblaas is. Islam bly dus in gebreke om die Heilige Gees te sien en te  verstaan as ‘n Persoon van die Drie-Eenheid.

In ons gesprekke met Moslems is dit uiters noodsaaklik om te besef dat as hulle die woord “Drie-Eenheid” gebruik, dat dit wat hulle daarmee bedoel, nie is wat die Bybel, of ons as Christene, daarmee bedoel nie. As hulle die term gebruik, gebruik die geleentheid om hulle te vra hoe hulle die saak van die Drie-Eenheid verstaan, en verduidelik dan vir hulle wat die Bybel, en ons as Christene, daarmee bedoel.


[1] Rohr, R. 2016. The Divine Dance. New Kensington, Pennsylvania: Whitaker House, bl 48

[2] Die Heilige Quran, vertaal in Afrikaans. 2000. IDM Publications: Durban