Die Christelike godsdiens is by uitstek ‘n sending-georiënteerde godsdiens. Dit is so na aan die kern van ons godsdiens dat Dietrich Bonhoeffer tereg gesê het dat die kerk nie ‘n sending het nie, maar dat die sending eerder ‘n kerk het. Die kerk doen ook nie sending nie, dit is ‘n sending.
Die meeste ander godsdienste is nie na buite gerig nie. Hulle het met ander woorde nie, om Christelike terminologie te gebruik, ‘n sendingvisie nie. Islam is egter anders. Hulle het ‘n baie sterk oortuiging om die hele wêreld vir Islam te wen. Hierdie uitwaartse beweging noem hulle dawa. Om dit in ‘n paar woorde op te som, sal ons nie ‘n behoorlike begrip daarvan gee nie. Ons sal by nog ‘n geleentheid na die betekenis daarvan kyk.
Islamitiese bronne, teologie en geskiedenis leer dat alle Moslems betrokke moet raak by Islamitiese uitreik of sending. Dawa beteken letterlik “oproep” of “uitnodiging”[1]. In dawa word nie-Moslems genooi om Islam as die ware en finale godsdiens te aanvaar. Bekering vind, volgens hulle, plaas wanneer ‘n nie-Moslem die Islamitiese geloofsbelydenis (shahada) opsê: “Daar is geen god behalwe Allah nie en Mohammed is sy boodskapper”. Moslems noem hierdie ‘n “terugkeer” eerder as “bekering”, omdat hulle glo dat elke mens by geboorte ‘n Moslem was, waarna sommige afgedwaal het en ander gelowe gevolg het.
In hierdie sendingdoel lyk Islam soos ander sending-godsdienste. Daar is egter twee baie belangrike verskille tussen byvoorbeeld Christelike sending en Islamitiese sending. Die eerste verskil is dat die meeste Christene tevrede is om sending as ‘n tweerigting-proses te sien, met elke geloof wat die vryheid het om sy boodskap te verkondig en ander te probeer oortuig. Moslems sien dawa egter as ‘n eenrigting-straat. Hiervolgens het slegs Islam die reg om homself te propageer. Hulle verwerp alle Christelike sendingaksies en poog om dit te onderdruk en as aggressief, bedrieglik en boos af te maak.
Die ander sleutelverskil is dat dawa meer is as net die oproep aan ‘n individu om Islam te aanvaar. Dit sluit ook in die “opdrag van wat goed is en die verbod op wat sleg is”, beide in Islamitiese samelewings én in samelewings waar Moslems in die minderheid is. Dit beteken dat die oogmerke van dawa onder andere die vestiging van ‘n Islamitiese staat insluit onder sharia-wetgewing en die oorheersing van nie-Moslem nasies. Dit gaan dus uiteindelik om die wêreld onder bevel te bring van die “goeie”, wat dan Islam sou wees.
Dit ‘n baie wye onderwerp met baie implikasies vir die kerk. Ons sal weer daarna kyk.
[1] Sookhdeo, P.2014. Dawa. The Islamic Strategy for Reshaping The Modern World. Isaac Publishing: McLean VA