Kom daar ooit ‘n tyd, en is dit dalk selfs nou, dat predikers die ketters en skurke
onder ons by name moet begin noem en uitwys?
In ‘n tyd waarin daar soveel strominge – selfs kampe, ja pole – bestaan, is dit in elk
geval ‘n alledaagse verskynsel. Daar is ‘n “ons” en daar is ‘n “hulle”; een word
geïdealiseer en die ander is (amper) die duiwel homself. Min grys gebiede, alles
swart en wit. Ons hande is immers skoon en gereinig (“spierwit”), en die ander is die
sondebok (“swartskaap”) wie se bloed nou maar kan vloei. Sulke populistiese
retoriek en allerlei verdagmakery klink dalk ietwat oordrewe, of dalk allermins. Alte
dikwels is dit die botoon in talle van die gesprekke rondom ons.
Dit is juis dié soort van problematiek wat Angela Dienhardt Hancock – wie ‘n paar
jaar gelede ‘n uitstekende studie oor Karl Barth se Emergency Homiletics 1932-
1933 gedoen het – onlangs in een van haar artikels probeer aanspreek. Sy reageer
einde verlede jaar in Theology Today (die teologiese joernaal van Princeton
Theological Seminary) in ‘n artikel op ‘n ander kollega se werk in die homiletiese
gemeenskap wat aanvoer dit is nou ons tyd en verantwoordelikheid as predikers
om die sogenaamde Nazi’s in ons midde te begin uitwys. Of, soos die persoon dit
stel, “as preachers we are called to arms ‘punching Nazi’s!’” Daar is immers, so loop
die argument, soveel ooglopende proto-Nazi’s in ons midde – ketters, valse profete,
skurke, sondaars, dwase, kortom: almal wie duidelik die pad byster is – dat
predikers eenvoudig die soort van (mense as) kankers moet begin uitwys.
Om verskeie redes is dit uitermatig problematies as teoloë, en veral predikers,
meelopers word van hierdie soort van denke en benaderings. Buiten dat dit nie net
verdere polarisasie bewerk nie – en sodoende self aandadig is aan die kanker van
verwydering en vervreemding; mense nog verder buite hoorafstand bring van
mekaar; en dus allermins as effektiewe kommunikasie beskou kan word – is die
waarskynlik nog groter probleem hier die wyse waarop dit in wese, teologiese
gesproke, die pot mis sit. In die verband steun Hancock weer op Barth se werk wat
nou amper ‘n eeu later nog net so, en dalk selfs nog meer, betekenisvol is. Hancock
wys op die volgende drie aksente wat van kritieke belang is in die soort van
gesprekke.
Eerstens, alhoewel ons (en hulle) bepaalde identiteitsmerkers nie kan ontken nie, is
dit natuurlik ‘n kritiese vraag of die merker waarmee ons onsself tans so toedraai,
die enigste merker is waarmee ons (en hulle) identiteit mee beskryf sou kon word.
Meer nog, buiten die feit dat enige mense se identiteit nie sommer gereduseer kan
word tot net een bepaalde merker nie, is die ander wesenlike vraag natuurlik of
daardie een merker werklik die diepste aanduiding is van ons identiteit. Kortom, is
die heel eerste saak wat ons oor menslike identiteit sou kon noem nie die feit dat
alle mense voorwerpe is van God se ewige liefde nie? Mense is en bly altyd meer as
die somtotaal van allerlei merke-tekens-en-kleure op hul lywe, en daarom is en bly
elkeen van ons ten diepste, of ons dit nou weet/glo of nie, iemand vir wie Jesus
Christus gesterf en opgestaan het voor.
Tweedens, bogenoemde ontken allermins ‘n tweespalt in die stryd tussen die goeie
en die slegte. Daar is inderdaad so ‘n geveg aan die gang, maar in plaas daarvan dat
dit tussen óns en húlle sal wees – die twee of selfs meer verskillende kampe/pole
waartussen die oorlog woed – is dit veel eerder ‘n geval van ‘n stryd en oorlog wat
in onsself plaasvind. Anders gestel: Die eintlike stryd en oorlog rondom identiteit
woed meer in onsself as tussen ons – ja, in elke mens, daai sondaar, volgens Luther,
wat so ‘n goeie swemmer (in die doop se verdrinkwater) is! In plaas van die stryd
van meet af en deurgaans te verteken as ekstern van aard, roep dit ons om in die
spieël van die doopwater ons stryd na wording in terme van wie ons regtig is, dalk –
juis met die aanbreek van Pase om die draai – opnuut weer as ‘n interne saak te
beleef. “Hulle”, of hul nou Nazi’s is of nie, staan nie buite en ver van ons nie, maar
skuil dalk veral diep binne in myself. Daarom, voor ons die loopgrawe teenoor
mekaar begin opstel, nog verder en dieper uit grou, eerder ‘n blik oor myself voor
die spieël oor die geregverdigde sondaar wie ek (ook/veral) is.
Daarmee is dit ten derde duidelik dat allerlei identiteitsmerkers nie ontken of
verdwyn nie, maar wel in die lig van bogenoemde gesien wil word. Anders gestel:
Die geskiedenis word nie nou hiermee uitgewis nie, maar juis anders gemaak. Alle
identiteite word dus geanker en afgelei vanuit Sy identiteit wie juis self kom
geskiedenis maak het. Soos dit al duideliker en sterker teen die einde van Barth se
werk blyk: “His-story is our history”. Of, in Afrikaans: Die “geskiedenis” dui nie op
skeiding nie, maar versoening (en dan boonop trinitaries ingebed met geregtigheid
en eenheid). Sy geskiedenis lees ten diepste nie as die “geskeidenis” nie, maar van
lig wat triomfeer oor duisternis, lewe oor dood, en daarom veral ook nie ‘n gebroke
liggaam wat vasgeloop en toegesluit in die graf “bestaan” nie, maar veel eerder
opgewek leef en opstandig bly getuig van nuwe horisonne wat die verbeelding (van
ons identiteit) aangryp.
Mag die geskiedenis, en ja veral óns geskiedenis tesame, algaande dit nie
weerspreek nie, maar wéér en al gaande hiervan spreek.