Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Het Jesus self gesȇ dat Hy God is?

Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis

Hierdie vraag raak so baie ander sake in die gesprek met Moslems. Uit die aard van die saak raak dit die leer van die Drie-Eenheid. Islam verwerp die leer oor die Drie-Eenheid as politeïsme. Om na Jesus te verwys as die Seun van God veronderstel reeds die leer oor die Drie-Eenheid.

In die Koran, Sura 23:91, staan daar dat Allah nie ‘n seun kan hê nie, want hulle sal voortdurend in stryd wees met mekaar, sodat die een die oorhand oor die ander moet kry. Islam verwerp die leer van die Drie-Eenheid en noem dit lasterlik, trouens die grootste van alle sondes. Ons sien hierdie leer egter as die kern van ons godsdiens.

Dit is vir ons as Christene genoeg om te bely dat die Bybel in die algemeen (en op grond daarvan ook ons belydenisse) dit duidelik stel dat Jesus God is. In gesprekke met Moslems is een van die eerste vrae wat hulle egter stel: “Het Jesus ooit sélf gesê dat Hy God is? Gee my net een teks waar Jesus dit self sê!”

Hierdie tipe vraag onderstreep hoe belangrik dit is om die Bybel goed te ken. Baie Christene word onverhoeds gevang. Sommige mag dan dink aan Jesus se verskyning voor Pilatus (Matteus 27:11-14) en dit as antwoord aanbied. Moslems doen hulle huiswerk goed en plant juis hierdie vraag. Hulle sal dan tereg uitwys, in die eerste plek, dat die vraag van Pilatus nie gehandel het oor Jesus se Godheid nie, maar oor sy koningskap. Tweedens sê die Here Jesus dan dat dit nie Hy is wat so sê nie, maar dat Pilatus die een is wat dié aanspraak maak (vgl die 2020-Vertaling).

Maar sê die Here Jesus dan self dat Hy God is? Ja, Hy doen dit wel! Die Evangelie van Johannes wemel eintlik van die voorbeelde, as jy weet hoe om daarna te soek. In Johannes 8:28 sê die Here Jesus byvoorbeeld: “Eers wanneer julle die seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, …”. In dieselfde hoofstuk sê die Here Jesus in vers 58: “Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.”

Hierdie woorde, “Ek is wat Ek is”, verwys terug na Eksodus 3:14 waar die Here Homself aan Moses openbaar. Daar staan: “Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” Die Naam “Ek is wat Ek is” word in die Bybel uitsluitlik vir God gebruik. Wanneer die Here Jesus in Johannes 8 dus op hierdie manier na Homself verwys, dan sê Hy onomwonde: “Ek is die Here! Ek is God! Ek is die God wat myself al aan Moses openbaar het. Ek is die Ewige, want voordat Abraham was, is Ek al wat Ek is.”

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus.