Só het ons die herfsvergadering van die Moderamen afgesluit, een dag vóór Hemelvaart, by die mooi ontmoetingsplek langs die Renosterspruit, oos van Bloemfontein – Kopano Nokeng. Met Lied 286: “Here God van liefde, waar ons ook mag gaan,wil ons in u skadu by U staan.”
Verteenwoordigers uit al die ringe van die NG Kerk Vrystaat, wagtend op Hom wat ons geroep het en voor ons uitgaan. Ons het wéér – soos daardie Dinsdag, 18 April met die Buitengewone Sinodesitting – teruggeblaai na die verhaal oor die “wolk bokant die tabernakel”, die Tent van Ontmoeting (Eksodus 40 en Numeri 9). Wéér het ons gelees: Wanneer die wolk opgelig en geskuif het, het Israel hul kamp opgebreek en gevolg; wanneer die wolk gaan staan of vertoef het, het Israel tot rus gekom, hul tente opgeslaan, gewag. “Op al hulle trekskofte”, só was die ritme; só hul roete aangedui; dít die rede vir hul uittog en deurtog en intog: Gód gaan ons vooruit, kyk die wolk (Eksodus 40:36, 38). Die afgelope Woensdagoggend het ons met mekaar daaroor gepraat dat dit nie net God is wat vóór ons uitgaan nie, dit is ook óns wat voor Hóm staan. Moses, die geroepene, wat nie die Tent van Ontmoeting kon ingaan nie “omdat die wolk daaroor vertoef het en die heerlikheid van die Here die tabernakel gevul het” (Eksodus 40:35). Heilige ontsag, diep respek, God is hier teenwoordig…
En ons, drie-en-twintig lede van die Moderamen, leraars en kerkraadslede. Ons deel lief en leed met mekaar: Een se vrou het onlangs ‘n beroerte gehad, hy is besorgd oor haar tuis; ‘n ander se vrou het ‘n groot operasie ondergaan en ontvang behandeling; dan was ons oudste ouderling pas twee weke in die hospitaal met Covid. Dit gaan beter in die gemeentes, hoor ons; oral is daar nuwe lewe ná die pandemie. In ons ontmoeting, ook ses verteenwoordigers van die Algemene Sinode onder leiding van ds. Nelis Janse van Rensburg. Eers kon hul onderskeie vliegtuie uit Kaapstad en Johannesburg nie land nie: ‘n Dik laag mis het oor die Vrystaat gehang, van die Drakensberge tot omtrent bý NAMPO. Ons praat oor hoe so iets jou sig beperk, jou versigtig maak, jou laat wag sóós met die wolk in die woestyn voor Israel destyds. Ses jong dominees was ook na die ontmoeting genooi, komende van Jacobsdal tot Sasolburg. Want die bedoeling was om met mekaar te praat oor die besluit van die Vrystaatse Sinode om nie uit algemene sinodale verband te tree nie; 18 April se keuse oor Artikel 37. Daar was dankbaarheid én besorgdheid in ons gesprek hieroor; harde, reguit woorde het geval; daar ís frustrasies én vrae oor hoe nou verder. Punt vir punt het ons die inhoud van Bylaag 19 – ons standpunt as NG Kerk Vrystaat oor die Skrif as Woord van God; oor ons gereformeerde belydenis; oor wat ons van die Bose glo; oor menslike seksualiteit, die huwelik, selfdegeslagverbintenisse en die pastorale hantering daarvan in gemeentes; oor teologiese opleiding en oor ons identiteit as Kerk van Christus – aan die ASM-verteenwoordigers verduidelik. Oók dat daar gemeentes en leraars in die Vrystaat is wat ‘n meer finale standpunt teenoor die Algemene Sinode wou stel; ‘n gemeente wat geskryf en gevra het: “Gaan die AS die werklike erns van die saak verstaan?” Saam kom ons ooreen om ons besluit van 18 April in spesifieke beskrywingspunte aan die Algemene Sinode in Oktober te gaan voorlê. Ds. Nioma Venter, ondervoorsitter van die ASM, reageer ná die gesprek: “Hoe trek ons verder van hierdie plek af? Ons het inderdaad nodig dat die Here sal vooruitgaan.” Een van die jong dominees whatsapp: “Baie dankie dat ek vandag deel kon wees van die gesprek, dit het my regtig hoop gegee vir ons kerk. Ons Here stap saam…”
‘n Belangrike deel van hierdie moderamenvergadering het oor die aanwysing van ons Vrystaatse afvaardiging na die Algemene Sinode gegaan. Benewens die vyf lede van die Interimkomitee, het die Ringe 13 leraars en 14 kerkraadslede aangewys, uit élke Ring een of twee verteenwoordigers; platteland, groot dorpe en die hoofstad; 26 mans en ses vroue; ‘n handvol afgetredenes en vyf twintigjariges. Ringe moet nou nóg vyf kerkraadslede aanwys om ons afvaardiging (37) voltallig te maak.
Verskeie ander punte op ons agenda het oor die roeping van die NG Kerk Vrystaat gehandel; waarheen stuur God ons nou, en met wat in die hand? Daar is die ontplooiing van ons nuwe barmhartigheidsaksie en ons samewerkingsooreenkoms met Engo; daar is gepraat oor die Hoopfonds en voortgaande hulpverlening by Jagersfontein; daar was dankbaarheid oor die seëninge wat meer as 800 tieners uit verskillende Vrystaatse dorpe by die afgelope IMAGINE-saamtrek beleef het; daar’s ‘n nuwe gesprek oor die Kopanong-studentebediening in Bloemfontein aan die gang; daar is ‘n verskeidenheid retreats en werkswinkels wat verder vanjaar vir leraars en gemeenteleiers aangebied word; probleme wat huweliksbevestigers ervaar is bespreek; inligting word ingewin oor die moontlike ontwikkeling van Mooigenoeg Kampterrein en ander verwante sinodale eiendomme; goeie nuus is vir gemeentes oor hul pro rata’s op pad…
Dit was ds Dries Cronjé van Viljoenskroon (Ring van Valsrivier) wat ons vergadering afgesluit het met ‘n herinnering aan Jesus se woorde in Johannes 14 oor die weg, waarheid en lewe, wat Hyself is. Dat die eerste Christene “mense van die Weg” genoem was. Dat Hý die Weg is waarop ons moet gaan. Toe laat hy ons Lied 286 sing, oor die God van liefde in Wie se skadu ons wil staan, soos in die skadu van die wolk bokant die Tent van Ontmoeting bedags; snags deur sy ligglans omgeef. Gekoester. Verseker. En toe die middag se skaduwees lank begin raak oor Kopano Nokeng – die naam beteken: “Ontmoeting by die rivier” – het ons huis toe gegaan. In Augustus DV, sal die Moderamen weer ontmoet, dán in Welkom.
Mag Hy wat ons in Christus tegemoet gekom het, ons in die komende Pinksterweek opnuut deur sy Woord en Gees inspireer en stuur.
Foto’s: Verskaf