Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Halal en haram

Ons het verlede keer gekyk na ’n aantal reëls (honderd om presies te wees) wat Moslems se daaglikse lewens tot in die fynste besonderhede reguleer. Daar is egter nog ’n stel van vyf beperkings wat inspeel op hulle daaglikse lewe. Hierdie beperkings kom daarop neer dat alles in Islam wissel tussen dit wat óf verbode óf verpligtend is.

Eerstens is daar fard (verpligtend), dan mustahab (dit word aanbeveel), daarna mubah of halal (toelaatbaar), vierdens is daar makruh (nie aan te beveel nie) en laastens haram (verbode). Om verwarring te voorkom, kyk ons net na twee uiterste punte, halal en haram (die “h” word uitgespreek soos ’n “g”).

Die term (en saak) halal is van daaglikse, selfs uurlikse belang vir toegewyde Moslems, aangesien hulle moet seker maak dat dit wat hulle doen, eet, dra, aanraak en koop halal is. Voedsel is een gebied waar halal-sertifisering baie algemeen is. Sekere voedselsoorte is altyd haram (verbode), byvoorbeeld varkvleis. Ander vleis is egter nie noodwendig altyd halal nie. Om as halal te kwalifiseer, moet die dier of voël geslag word deur die keel af te sny en dit te laat uitbloei terwyl ’n bepaalde gebed oor die dier gebid moet word. Die kort gebed lui: “In die naam van Allah. Allah is die allergrootste.”[1]

Alkohol is altyd haram. Groente en suiwelprodukte van diere wat halal is, is ook halal en mag geëet of gedrink word. Halal-sertifisering is soms selfs op items soos heuning en gebottelde water te vind. Hoewel dit vreemd is om die halal-teken op water te vind, is dit waarskynlik aangebring om Moslems te verseker dat die produk nie met varkprodukte of alkohol in aanraking was tydens die verpakkingsproses nie. Dit is vir toegewyde Moslems ook belangrik om te weet wat die bestanddele van kosmetiese middels, medisyne en handsaniteerders is, om aanraking met alkohol en gelatien afkomstig van varke te voorkom.

Daar is ook in die Islamitiese finansiële stelsel ’n vorm van haram, wat riba genoem word. Dit kom daarop neer dat dit verbode is om rente te eis van ’n persoon wat aan jou geld skuld. Dit impliseer ook dat rente wat ’n persoon by die bank kan kry, verbode is. Baie handelsbanke het dan ook produkte om hulle Moslemkliënte se godsdienstige vereistes in aanmerking te neem. Islam het ten doel om liefdadigheid te bevorder en ander te help, deur  sentimente van selfsug te verwyder wat sosiale antipatie kan skep. Deur riba verbode te maak, skep sharia-wetgewing geleenthede waarin mense aangemoedig word om liefdadig op te tree — onder andere om geld uit te leen sonder rente[2].

Ons vind in die Bybel, byvoorbeeld in Esegiël 18:13,17 sterk uitsprake teen onbillike rentes wat gevra word om lenings terug te betaal, en dit word as afskuwelik beskryf en selfs in dieselfde asem as afgodery genoem. Rente as sodanig word egter nie veroordeel nie.

Daar is nog heelwat te sê oor die halal-teken. Ons kyk by ’n volgende geleentheid daarna.

[1] Sookhdeo, P. 2020. Understanding Living Islam. Isaac Publishing: Vienna VA

[2]  Hayes, A. 2022.  What Is Riba in Islam, and Why Is It Forbidden? Investopedia