Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Groter as die groot K

Deur Maryna van Wyk, vryskutjoernalis en kopieskrywer

Dit is weer die groot K maand … die maand waarin ons slagoffers van borskanker ondersteun en gedenk deur pienk aan te trek, 5 km te stap, ’n T-hemp te koop, geld te skenk of wat ookal.

Ons vorm ‘n susterskap vir elke familielid of vriendin wat deur die behandeling moet gaan asook diegene wat ‘n bors of beide verloor het.

Ek sukkel om hierdie vreeslike siekte by die naam te noem. Dit is seker maar uit respek vir hierdie groot moordenaar van ons tyd.

My eerste kennismaking as klein dogtertjie met die groot K was toe my tannie in die laat sestiger jare in ‘n Pretoriase staatshospitaal met kolon kanker gediagnoseer is. Die dokters het gesê sy het maar ‘n paar maande oor om te lewe. Tannie Priscilla het kort voor hierdie skokkende diagnose geboorte geskenk aan haar enigste kind, ‘n klein blouoog seuntjie met spierwit hare. Die erfgenaam van die familieplaas in die ou Wes-Transvaal.

My oupa wou nie aanvaar sy oudste dogter gaan nie haar seun sien grootword nie. Sy gaan hom nie op sy eerste skooldag vergesel nie, en sy gaan nie deel in die vreugde wanneer hy eendag voor die kansel staan en later die boerdery oorneem nie.

Ons familie het in daardie tyd gehoor van ‘n vrou in Pretoria wat mense gesond bid. Nie in ‘n kerk nie, maar in haar “spreekkamer” by haar huis. Geloofsgenesing soos ons dit nie vandag ken nie. Sy was glo landwyd bekend en mense van heinde en verre het haar besoek.

Dié geloofsgeneser het vir tannie Priscilla gebid. En ja, my tannie het daarna ‘n lang lewe gehad. Sy is volkome genees deur die krag en genade van onse Hemelse Vader en Almagtige Skepper.

Hierdie storie wat my ma so graag oorvertel het, was nog altyd vir my ‘n storie van hoop en van God se eindelose genade.

Die groot K bly maar iets wat niemand van ons wil hoor wanneer ons aan die ander kant van die dokter se tafel sit nie. Dit is ‘n pad van vrees en vertwyfeling van die onbekende wat elke mens alleen met God moet stap. Al wat mense met die gevreesde siekte dan ook kan doen, is om aan Sy Hand vas te hou.

Ek weet vandag daar is hoop omdat die mediese wetenskap soveel verbeter het, veral wanneer die groot K betyds gediagnoseer word.

Ek glo egter meer in God se genade. So ook in die lewensplan wat Hy vir elkeen van ons het. Meer nog …

Ek glo met my hele hart in die krag van gebed!