Vanuit Islam hoor mens dikwels die beskuldiging teenoor Christene dat hulle nie weet wie die Christelike kerk werklik is nie, aangesien daar so baie Christelike denominasies is. Na aanleiding van die Here Jesus se gebed in Johannes 17 oor eenheid in die kerk, is dit ‘n beskuldiging wat ons ernstig moet opneem.
Die ironie van hierdie beskuldiging is egter dat Islam self, van sy geboorte af, ‘n diep verdeelde godsdiens is. ‘n Verdeeldheid wat daagliks tot bloedvergieting onder die aanhangers van die verskillende groeperings lei. Onlangs sê ‘n Moslem vir my dat die enigste persoon wat ‘n Moslem meer haat as ‘n Jood, is ‘n Moslem wat aan ‘n ander groepering as hyself behoort. Dit was dalk nie ‘n dogmatiese stelling nie. Dalk het dit bloot die ervaring van hierdie spesifieke persoon verwoord. Dit gee egter ook uitdrukking aan die diepte van die skeur wat tussen die verskillende groepe in Islam heers.
Ons gaan in die volgende paar aflewerings in kort kyk na wat hierdie verskillende groepe glo. Dit behels onder andere groepe soos Sunni’s, Shi’iete, die Baha’i, Babisme en Soefies. In hierdie kort artikel kyk ons egter net baie kripties na hoe hierdie skeur ontstaan het.
Die heel eerste verdeeldheid in Islam, tussen Sunni’s en Shi’iete, het nie plaasgevind as ‘n kwessie van verskillende oortuigings nie, maar as gevolg van politiek en die rol van leierskap in die gemeenskap. Die kwessie het gesentreer rondom die vraag wie die Moslem-gemeenskap moes lei ná Mohammad se dood[1].
Toe Muhammad op sterwe gelê het, het hy sy beste vriend, Abu Bakr, aangestel om die gemeenskap in gebed te lei. Na Mohammad se dood het baie van sy volgelinge gevoel dat die leierskap van die gemeenskap moet gaan na die persoon wat die beste geskik is vir die taak. Hulle het in ooreenstemming met Islamitiese leringe en onderhandelings deur die oudstes vir Abu Bakr verkies. Diegene wat daarmee saamgestem het, het bekend geword as Sunni’s (volgelinge van die tradisie van Mohammed).
’n Kleiner groep het geglo net iemand van Muhammad se familie — naamlik sy neef en skoonseun, Ali — moet hom opvolg. Hierdie groep het bekend geword as die volgelinge van Ali; in Arabies die Shiat Ali, of bloot Shia. Die kern van die probleem is dat Mohammad sonder ‘n manlike erfgenaam gesterf het, en hy het nooit duidelik gesê wie hy as sy opvolger sou wou kies nie[2].Uiteindelik het die Sunni-meerderheid gewen en Abu Bakr gekies om die eerste kalief, of leier, van die Islamitiese gemeenskap te word. Ali het uiteindelik die vierde kalief geword, maar eers nadat die twee wat sy voorgangers was, albei vermoor is.
Ali self is in 661 vermoor, terwyl die bitter magstryd tussen Sunni’s en Shi’iete voortgeduur het. Dit was nie net beheer van Mohammad se godsdienstige en politieke nalatenskap wat op die spel was nie, maar ook ‘n finansiële fortuin, in die vorm van belasting en tantième wat deur die verskillende stamme betaal is, wat onder die vaandel van Islam verenig is.
Ons kyk volgende keer DV na die teologiese verskille tussen hierdie twee hoofgroepe in Islam.
[1] Archer, P. 2014. Religion 101. Avon, Massachusetts: Adamsmedia
[2] Hazelton, L. 2009. After The Prophet. The Epic Stoy of The Shia-Sunni split in Islam. Doubleday: Toronto