Ons het reeds gesien dat daar sedert Mohammed se sterwe ’n skeur in Islam ontstaan het tussen Shi’iete en Sunni’s. Die groot verskilpunt was die aanwys van ’n leier om Mohammed op te volg, maar daar het ook intussen ander verskille tussen hierdie twee groepe ontwikkel wat dogma en gebruike betref. Die Soefi’s, waarna ons in hierdie stukkie kyk, kom egter voor in gemeenskappe waar daar sowel Sunni’s en Shi’iete is, hoewel die meerderheid van hulle Sunni’s is. Hulle groepering sentreer egter nie rondom dogmatiese verskille nie, maar eerder rondom ‘n bepaalde spiritualiteit.
Dit is moeilik om enige mistieke beweging in ‘n paar paragrawe te beskryf – so ook Soefisme. Dit is egter belangrik om ten minste ‘n basiese begrip van Soefisme te hê, aangesien ‘n beduidende aantal Moslems in Suid-Afrika aan hierdie groepering behoort en ook omdat hulle moskees in die algemeen meer toeganklik vir ons is as ander.
‘n Skrywer vat Soefisme in kort saam as: “Sufism may be best described as Islamic mysticism or asceticism, which through belief and practice helps Muslims attain nearness to Allah by way of direct personal experience of God”.[1] Die vier beginsels[2], naamlik bekering, opregtheid, meditasie en liefde vorm die stadiums van die Soefi se transformerende reis. Dit beklemtoon ook die belangrikheid vir hulle om menslike beperkings te aanvaar, sowel as Allah se onbeperktheid.
‘n Fundamentele komponent van die Islamitiese geloof is die beoefening van ‘n lewenswyse wat lei tot intimiteit met Allah in die hiernamaals. Volgens Soefi’s kan hierdie nabyheid egter reeds in hiérdie lewe verwesenlik word. Daar word dikwels na Soefisme verwys as ‘n sekte binne Islam, maar Soefi-denke strek heelwat verder as die Sunni-Shia skeiding, ook oor sosio-ekonomiese grense en geografiese gebiede heen en sluit die sprekers van baie tale in. Soefi-ordes, bekend as Tariqas, word oral in die Moslemwêreld aangetref.
Hoewel die strukture tussen die onderskeie Soefi-ordes verskil, is die basiese komponente dié van die murshid (die geestelike gids of mentor), en die murid, ‘n volgeling wat trou aan die murshid beloof. Hierdie geestelike gidse ontleen hul gesag aan ‘n opeenvolging van gidse wat deur geslagte kan terugreik na ‘n prominente heilige of mistikus en uiteindelik na die profeet Mohammed self. Die rol van die murshid is om op ‘n individuele grondslag op te tree as ‘n fasiliteerder en mentor vir die murid oor hoe om die goddelike te ervaar. Ervaring is juis die punt waaroor dit vir hulle gaan.
Hierdie ervaring word gekoppel aan die opdrag aan Moslems om tyd te bestee aan die herhaling van die name van Allah, om aanvullende gebede te bid, en kan uitgebrei word na ander aktiwiteite wat bydra tot die bereiking van ‘n ekstatiese ervaring en ‘n konneksie met die goddelike.
Ander praktyke of rituele waarby Soefi’s betrokke raak, sluit in gebede en vas, die viering van die profeet Mohammed se verjaardag, die besoek van en uitvoering van rituele by heiligdomme en grafte, meditasie en onthouding. Sommige Soefi-ordes gebruik gewyde musiek en rituele bewegings, soortgelyk aan dans, om die ervaring van die nabyheid aan Allah te verinnig.
Hoewel Soefisme ‘n bepaalde uitlewing van ‘n valse godsdiens is, is die beginsel van mentorskap eintlik ‘n saak wat uit die Christelike godsdiens kom. In 2 Timoteus 2:2 sê Paulus byvoorbeeld vir Timoteus: “Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer”. Dit sal tot voordeel van die kerk wees om weer die saak van mentorskap op te neem en uit te brei.
[1] Tony Blair Institute For Global Change, What is Sufism? 1 Desember 2017
[2] Aishah Al-Ba Uniyyah, 2016. The Principles of Sufism. NYU Press: New YORK