Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Goeie bestuur – die sleutel tot ’n meer volhoubare kerk en kerklike instansies

Deur Mariëtte Odendaal

“As goeie beheerliggame aangestel word, kan dit daartoe lei dat opleidingsinstansies beter funksioneer en dat beter uitkomste gelewer word. Wanbestuur sal ook op hierdie manier in die kiem gesmoor kan word en goeie, deursigtige bestuur en uitvoering kan weer die vertroue van donateurs wen, wat daartoe kan bydra dat inisiatiewe opnuut ondersteun word.”

Dr Nico Mostert
Vennote in Getuienis

Die Reformed Family Forum (RFF), bestaande uit die algemene sekretarisse van al ons NG Kerkfamilies in Suid-Afrika en ons Gereformeerde susterskerke in Sub-Sahara- Afrika, vergader een maal per jaar.

Wat sou jy sê is die grootste struikelblokke in die leierskap van ons kerke in Afrika?
“Ten opsigte van ons kerkregeringstelsels is daar grootliks drie tipes: in die eerste plek die episkopaalse stelsel wat werk met die biskop of die pous wat die gesag het en die besluite neem, en die ander kerkvergaderings is dan raadgewend tot die besluite van hierdie persoon. Tweedens is daar die presbiterale stelsel waar lerende (leraars) en regerende ouderlinge saam regeer en waar hulle volgens ons belydenisskrifte nie bo mekaar verhewe is nie. Dieselfde aantal leraars as ouderlinge regeer die kerk. Derdens kry ’n mens die kongregasionalistiese (congregationalist) stelsel waar onafhanklike gemeentes self besluite neem oor hoe hulle regeer moet word.

“Die model waarmee die NG Kerk sendingwerk gedoen het en waaruit ons susterskerke in Afrika ontstaan het, is ’n presbiteraal-sinodale stelsel. Ons kerkrade, wat uit leraars, ouderlinge en diakens bestaan, vergader en daarmee vorm ons ringe en sinodes. Dis ’n baie plat struktuur met ’n moderator as voorsitter van die sinode.

“Die uitdaging wat ek by sommige van ons kerkleiers merk, is dat hulle geskuif het van ’n presbiterale na ’n meer episkopaalse stelsel. Dit beteken dat van die moderators en moderature hulleself al hoe meer as biskoppe begin beskou. Hulle wil dan ook graag ’n bepaalde mag en identiteit aan die taak koppel. In sommige gevalle word die moderatuursposisies ook net deur leraars beklee; daar is dus geen interaksie met ouderlinge nie.

“Dit maak die leierskap baie uitdagend, want jy sit met leierskappe soos moderature wat al hoe meer met ’n episkopaalse mag- en gesagstruktuur funksioneer. ’n Uitvloeisel daarvan is dat daar dikwels buite kerkordes opgetree word en dit soms selfs na goeddunke eensydig verander word. Dit lei tot baie spanning en konflik binne die kerke.

‘n Outokratiese leierskapstelsel is nie vir ons kontinent vreemd nie, omdat die gesagstruktuur van ‘n stamhoof of hoofman van ’n area vir ons ’n aanvaarbare struktuur is en waar hulle outokraties in die besluitnemingsmandaat optree.

“In ons Gereformeerde verstaan kies ons egter juis die presbiterale stelsel waar die ouderlinge saam met die leraars regeer.

’n Subtiele skuif in ’n kerkregeringstelsel veroorsaak dat dit die kerkregering bemoeilik, veral vir die algemene sekretarisse wat dan dikwels ten opsigte van besluitneming nie in ag geneem word nie. As Gereformeerdes moet ons waak teen die geneigdheid na ’n episkopaalse stelsel. Die presbiterale stelsel waarvoor ons kies, wil juis gelykheid binne die kerk daarstel waar ons saam met mekaar, en nie teenoor mekaar nie, kan besluite neem.”

 | verskaf deur dr Nico Mostert: Groepbesprekings tydens die aanbieding van ds TK Ilesanmi oor ‘Good governance as a key to a more sustainable church and church institutions’.

 | verskaf deur dr Nico Mostert: Ds TK Ilesanmi en dr Nico Mostert.

Kontak gerus vir meer inligting:

Dr Nico Mostert | missio@ngkvs.co.za

Vorige skakels na hierdie artikels:
116 | Maatskaplike NOODLYN