Deur Mariëtte Odendaal
“As goeie beheerliggame aangestel word, kan dit daartoe lei dat opleidingsinstansies beter funksioneer en dat beter uitkomste gelewer word. Wanbestuur sal ook op hierdie manier in die kiem gesmoor kan word en goeie, deursigtige bestuur en uitvoering kan weer die vertroue van donateurs wen, wat daartoe kan bydra dat inisiatiewe opnuut ondersteun word.”
Dr Nico Mostert
Vennote in Getuienis
Die Reformed Family Forum (RFF), bestaande uit die algemene sekretarisse van al ons NG Kerkfamilies in Suid-Afrika en ons Gereformeerde susterskerke in Sub-Sahara- Afrika, vergader een maal per jaar.
Nico, nadat jy na almal tydens die konferensie geluister het, wat sou jy sê is ons kerkleiers se grootste persoonlike uitdagings in die bestuur van gemeentes?
“Hierdie kerkregeringstelsel was nie aangepas om in Afrika diens te doen nie; dis in baie gevalle ’n Europese of Amerikaanse stelsel wat op Europese of Amerikaanse denke en ordereëlings geskoei is. In die Afrika-konteks werk dit heeltemal anders. Ander stelsels wat dikwels baie meer effektief is, funksioneer hier. Ons het nooit hierdie stelsels laat integreer of geïnterkulturaliseer met inheemse Afrika-stelsels nie. Ons het eenvoudig net gesê: ‘Dis soos jy ’n kerk regeer en dis hoe dit moet werk.’
“Ons familiekerke se uitdaging is dus nou dat ons ’n bepaalde struktuur in stand moet hou wat van ons NG Kerk-voorouers geërf is. Dit word egter al moeiliker om hierdie stelsel te bly implementeer, want hierdie stelsel is vreemd en duur. Dit werk op bepaalde aannames, naamlik dat jy bepaalde strukture en mense in plek moet hê om bepaalde uitkomste te kan genereer.
“Mettertyd is hierdie stelsel egter al deur die susterskerke geïnterkulturaliseer, maar in baie gevalle het ons dit ongelukkig verder ver-Europees of ver-Amerikaans in plaas daarvan om dit minder Europees of Amerikaans te maak. Weens kapasiteitsprobleme ten opsigte van goeie bestuursvaardighede en nypende finansiële druk kan ons dikwels hierdie groot, lomp stelsel net nie meer in stand hou nie.
“So, met toenemende armoede op ons kontinent is geld die groot uitdaging; finansiële ondersteuning is nodig om hierdie stelsels te kan onderhou. Daar is strukture en poste geskep en gemeentes kry swaar om hierdie strukture aan die gang te probeer hou. Tog voel hulle dis hoe hulle dit moet doen en hoe die kerk moet funksioneer.
“Wat egter nie gebeur nie, is dat daar dikwels nie ’n kritiese evaluering van ons ekklesiologie en modelle van kerkregerings plaasvind nie. Krities-evaluerende vrae soos ‘Kan ons dit anders doen; iets wat dalk meer inheems en baie meer koste-effektief sal wees?’ is baie belangrik.”
| verskaf deur dr Nico Mostert: Groepbesprekings tydens die aanbieding van ds TK Ilesanmi oor ‘Good governance as a key to a more sustainable church and church institutions’.
| verskaf deur dr Nico Mostert: Ds TK Ilesanmi en dr Nico Mostert.
Kontak gerus vir meer inligting:
Dr Nico Mostert | missio@ngkvs.co.za