Deur Mariëtte Odendaal
RFF | Deel 1 van 7
“As goeie beheerliggame aangestel word, kan dit daartoe lei dat opleidingsinstansies beter funksioneer en beter uitkomste gelewer word. Wanbestuur sal ook op hierdie manier in die kiem gesmoor kan word en goeie, deursigtige bestuur en uitvoering kan weer die vertroue van donateurs wen wat daartoe kan bydra dat inisiatiewe opnuut ondersteun word.”
Dr Nico Mostert | Vennote in Getuienis
Die Reformed Family Forum (RFF), bestaande uit die algemene sekretarisse van al ons NG Kerkfamilies in Suid-Afrika en ons Gereformeerde susterskerke in Sub-Sahara- Afrika, vergader een maal per jaar.
Vanjaar het dit vanaf 23 tot 26 Oktober by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (AMSS) in Wellington plaasgevind. Die byeenkoms het afgeskop met ds TK Ilesanmi as gasspreker. Hy is die uitvoerende direkteur van Leadership Development Initiative (LDI) in Suid-Afrika en die onderwerp wat bespreek is, was “Good governance as a key to a more sustainable church and church institutions”.
Ná heelwat groepbesprekings tydens die aanbieding het ons by dr Nico Mostert, uitvoerende amptenaar van Vennote in Getuienis, meer gaan uitvind oor wat hy ná die drie dae wyser is oor dié onderwerp. Ons wou ook weet wat hy kan toevoeg uit sy jare lange ervaring in hierdie veld.
Nico, dis nogal ’n komplekse onderwerp. Wat het julle hierop laat besluit?
“Ek en dr Daniël de Wet, my kollega in die Wes-Kaap, het besef dat ons RFF-kerke met baie administratiewe uitdagings te kampe het, aangesien ons kerkstrukture oor die jare verskillend ontwikkel het. Waar die NG Kerk ’n baie gedesentraliseerde stelsel het wat die bedieninge in streeksinodes betref, het van ons susterskerke meestal ’n gesentraliseerde pad gevolg. Hulle werk dus meer sentraal vanaf ’n algemene sinodale vlak af. Werksaamhede soos hul jeug- en armoedeverligtingsprogramme sorteer dus meestal onder die mandaat van hul algemene sinodale kantore.
“Vennote vanuit ander denominasies en donateurs skakel dan by hierdie programme en instellings in en raak daarby betrokke, maar dit moet natuurlik alles bestuur word.
“Ons het mettertyd agtergekom dat sommige van dié projekte sleg ten gronde begin gaan; dermate dat baie van die vennote en donateurs nie meer saam met van hierdie kerke die programme wil doen of ondersteun nie. Dit is as gevolg van ’n verlerlei faktore, soos byvoorbeeld verkeerde aanstellings in die bestuur, ondeursigtigheid met finansies, inmenging deur kerkleiers in operasionele aangeleenthede, ensovoorts.
“Een groot verandering wat in ons kerkfamilie uitgelig kan word, is verskuiwings wat in teologiese opleidingsinstellings begin plaasvind het. Baie van die tradisionele teologiese skole of opleidingsinstansies het oor die jare universiteitstatus begin aanneem. Kerke het dus nou universiteite begin ontwikkel waar hulle teologiese opleiding doen, maar omdat dit nie altyd finansieel volhoubaar is nie, bied hulle dan ook ander studierigtings aan om die pot aan die kook te hou.
“Die dilemma is egter dat hierdie universiteite in baie gevalle deur predikante en nie bestuurkundiges in die veld van hoër onderwys nie, bestuur word. Sinodebesluite word dikwels geneem sonder om die praktiese gevolge daarvan vir hoër onderwysinstellings of universiteite te verreken. Die kombinasie van verkeerde besluite en aanstellings skep ’n legio probleme.
“Omdat die speelveld van hoër onderwys en die universiteitswese ’n baie gespesialiseerde veld is, is daar armlengte-afstand nodig om gehalte-onderrig en volhoubare bestuur te verseker. As daar dus nie die nodige bestuursafstand tussen die kerk en die instellings is nie, is daar voortdurende inmenging, en dit bemoeilik en verlam die effektiewe bestuur van hierdie instellings. ’n Harde realiteit is dat van ons familiekerke tans finansieel swaar gebuk gaan onder die las van hoër onderwysinstellings en universiteite wat nie goed funksioneer nie.”