Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

God speaks to us through our loves

Lectio Divina

Go to the limits of your longing – Rainer Maria Rilke

God speaks to each of us as he makes us, then walks with us silently out of the night.

These are the words we dimly hear:

You, sent out beyond your recall, go to the limits of your longing. Embody me.

Flare up like flame and make big shadows I can move in.

Let everything happen to you: Beauty and terror. Just keep going. No feeling is final. Don’t let yourself lose me.

Nearby is the country they call life. You will know it by its seriousness.

Give me your hand.

Wat my hier tref, is die intimiteit, die erns van hierdie proses van God se begeleiding. God bedoel dit ernstig met ons elkeen se pad. Hy vat ons hand. Ons word nie sommer net in hierdie wêreld ingeslinger nie. Ons is nie gevrywaar van enige ervaring nie: ‘Let everything happen to you, beauty and terror’, maar God is daar. Hy verwag ook nie van ons ’n effentjiese lewe nie: Flare up like flame and make big shadows I can move in.

Iewers het iemand gesê: “God speaks to us through our loves.” Dit het by my vasgesteek. Hoe praat God, hoe WERK God met ons deur ons voorliefdes?

Die MEER bekende aanhaling in hierdie trant is die gesegde van Paula D’Arcy: “God comes to us disguised as our lives.” Dit word gewoonlik geïnterpreteer dat God op die een of ander manier teenwoordig is in alle uitdagings en pyn wat ons op ons pad teëkom, en my individuele taak is om God te herken in hierdie pyn en uitdagings, en om daardeur te groei. As ek die uitdaging as ’n groeitaak kan verstaan, kan ek iets verstaan van God se werk in my lewe.

MAAR die uitdagings – net soos die armes – sal altyd by ons teenwoordig wees. Wat van die plesiere van ons lewens? Die dinge wat ons diep bly maak? “God speaks to us through our loves” – dit is vir my goed om te besef dat God tot ons toetree, toenadering soek, deur die voorliefdes van ons lewens.

Audrey Blignault was ’n bekende Afrikaanse essayis wat bundels laat verskyn het met titels soos Die vrolike lied, die Blye daeMet ligter tred … Sy het op ’n stadium die retoriese vraag gestel: “Moet ’n mens dan altyd net deur swaarkry groei? Kan ’n mens nie ook deur blydskap groei nie?” Natuurlik kan ons nie ontken dat dit swaarkry is wat dikwels diepte aan mense se bestaan verleen nie, maar dit is net so waar dat swaarkry mense se menswees ook totaal kan verwoes en vernietig.

Ek gesels onlangs met my seun wat in München woon oor sy naweek-staptogte op die ruggraat van die hoogste berge in die Alpe. Hy sê: Alle ander gedagtes, alle ander stimuli val weg, dit is net hy en die konsentrasie, die bewustheid van die volgende tree – hy is ten volle een met die duiselingwekkende landskap waarin hy sy voete die een tree na die ander neersit. Daar is ’n besef van die grootsheid van alles, en van sy klein, maar baie spesifieke plek in hierdie heelal. God praat met hom deur sy voorliefde vir hierdie asemrowende landskap en die manier waarop hy sy krag daarteen kan toets.

Ek antwoord dat ek, net soos hy, stap deur die landskap van my tekeninge. Elke merk wat ek maak, is ’n tree wat ek gee, ’n konneksie wat ek maak met iets groter as ek, daardie objek wat ek teken. Dit is my voorliefde. Dit maak my oë oop. Dis nie die produk, die tekening, wat vir my saak maak nie, maar daardie moment wat ek intens gefokus is op die are van ’n blaar, die growwe bas van ’n boomstam, die elegante manier waarop blare hulself aan ’n tak rangskik. Ek word deel daarvan, ek raak ondergeskik. My oog, die objek wat ek sien, my hand, die potlood en die papier word een. My asemhaling raak dieper en stadiger. Dit is visio divina, die manier waarop ek God in my wêreld sien. Ek luister. Ek hoor ’n vliegtuig in die verte, die zoem van ’n insek, voëls wat kwetter, ’n blaar wat val. Audio divina – God praat in my oor.

Oor die praktyk van visio divina sê die digter John Moffitt:

To look at any thing,

If you would know that thing,

You must look at it long:

To look at this green and say,

“I have seen spring in these

Woods,” will not do – you must

Be the thing you see:

You must be the dark snakes of

Stems and ferny plumes of leaves,

You must enter in

To the small silences between

The leaves,

You must take your time

And touch the very peace

They issue from. – John Moffitt

Waarby ek wil uitkom, is dat ek as ’n unieke mens geskep is, as ’n skerfie van God. Hoe kom ek by my eie unieke goddelike natuur uit? Wat is my essensie? Wat het my essensie te doen met groei tot gelykvormigheid aan God? Wat was God se bedoeling met my deur sekere voorliefdes in my te plant? En as retreat-houer en spirituele begeleier moet ons vir onsself vra: Hoe begelei ek iemand om hulle unieke essensie te ontdek, om dit te respekteer en uit te leef? … met dankbaarheid omdat dit God se unieke vingerafdruk op my is. Ek moet al meer word wat God my bestem het om te wees – dit is my outentieke self. En hoe weet ek wat God vir my bestem het? Deur my voorliefdes.

Hoe werk dit? Ek dink dit het te doen met die gees en energie wat ’n mens uitstraal as jy voel jy is “in esssensie”. Jy is ingestem op God. Jy is ’n regstreekse kanaal vir die Heilige Gees, ongeag of jy met jou kleinkinders speel, of jou groentebedding kompos gee, of ’n gedig skryf, of kook dat die stoomwolke staan, met jou hond gaan stap, of brood gee vir ’n bedelaar. Of deur ’n malende massa in ’n besige winkelsentrum beur. Daar is ’n nie-tasbare realiteit wat tot stand kom, daar is ’n vonk wat spring van mens tot mens, van aarde tot mens, van klip tot mens, van plant tot mens, van dier tot mens – en omgekeerd. God soek toenadering deur kind en dier en grond en klip en boom en blom. Deur kwas en papier, deur die misterie van woorde en getalle, deur die geheimenisse van die heelal. God is eindelose variëteit. Die Heilige Gees is vreugdevolle inspirasie. Jesus is ons broer wat ons voorgegaan het in die genieting van wat hierdie wêreld bied … in so ’n mate dat hy uitgekryt is as ’n vraat en ’n wynsuiper! “Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.” Jesus het voluit geleef.

Die Prediker sê: “Eet jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n bly gemoed.” Ek word uitgenooi om deel te hê aan hierdie oorvloedigheid – en ek kan dit ten volle geniet slegs as ek myself volledig herken as God se unieke instrument in hierdie wêreld.

Rom 12:1–3: Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge [simpatie, mededoë, om sag te wees, ‘moved to compassion’] van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie {ek sou hier wou sê: Moenie dat die wêreld ’n bloudruk op jou afdruk nie}, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. … vir my as unieke individu.

Daar bestaan natuurlik by sommige mense, en in sommige Christelike rigtings, die stoïsynse beskouing dat ek dit wat my plesier gee, moet offer en prysgee. Askese word gerespekteer; ’n selfopofferende lewenshouding word gesien as ’n welgevallige offer in God se oë. Vriendin Miekie, ’n uitnemende kunstenares en kunsdosent, het grootgeword in ’n huis waar die hele familie in verskillende hoedanighede met maatskaplike werk geassosieer was. As kind het hulle haar tekenwerk aktief ontmoedig – “jy moet iets doen wat nuttig is vir ander mense”. Sy kon die voorliefde nie onderdruk nie; sy vertel sy het soms onder die bed gelê en teken. Maar al was sy suksesvol in die kunsrigting wat sy teen alle weerstand in wél gekies het, het sy tot met haar ontydige dood nog steeds skuldgevoelens bly koester oor dit wat haar bly gemaak het.

Word die offermotief in ons godsdiens dalk soms oorbeklemtoon? Ek het op ’n keer in Brussel besoek afgelê by ’n jong Suid-Afrikaanse egpaar wat namens ’n SA gemeente sendingwerk in België gedoen het. Die jong vrou het my vertel hulle maak nie vordering met hulle sending nie en haar man, ’n sterk introvert, boerseun uit die destydse Oos-Transvaal, verkeer in ’n diep depressie, hy lê lang tye van die dag en staar na die plafon. Ek het in my enigheid gewonder of hy werklik gekies het vir sy voorliefde, en of daar nie dalk een of ander bloudruk van selfopoffering en die lofwaardigheid van sendingwerk op hom afgedruk is nie.

Ek wil verwys na ’n tyd in my eie lewe toe ek platgeslaan was deur ’n bepaalde ervaring. Ek het feitlik nie meer geweet wie ek was nie. My jongste, ’n seun van dertien, het kort-kort geselsies met my aangeknoop: Ma, wat was jou beste fliek ooit? Ek moes krap deur my gestolde brein om uiteindelik met ’n antwoord vorendag te kom. En dan kom hy met die volgende vraag: Hoekom? Weer moes ek grawe vir ’n verduideliking. Môre dieselfde ding: Ma, wat was jou mooiste boek ooit? En as ek antwoord, kom hy weer met: Hoekom? Ma, wat is jou mooiste liedjie ooit? Hoekom? Ma, wat was jou lekkerste vakansie ooit? Hoekom? Ma, wat is jou lekkerste kos? Hoekom?

Ek erken dat ek eerder sou wou sê: “Man, ek weet nie! Hou op om my so te grou!” Maar uit respek vir my kind en eintlik omdat dit vir my so ’n vreemde ervaring was, het ek antwoorde opgediep … en geleidelik agtergekom daar loop ’n lyn deur my antwoorde, dit begin vir my ’n prentjie vorm van myself. Ek dink nie dit was die bewuste bedoeling van die dertienjarige nie, maar dit het vir my ’n lewenslyn geword – terug na myself, selfs met groter duidelikheid as voorheen. Ek moes rekenskap gee van my voorliefdes, die goed wat vir my energie gee. Hoekom hou ek so baie van bitter sjokolade, van stadige Franse films, van swem in oop waters, van kliprantjies klim in die Karoo, van ry op agterpaaie en grondpasse? Van koffie en koek saam met ’n vriendin? Van teken en verf? Van nie-fiksie lees eerder as fiksie? Hoekom was ek as kind so lief vir boomklim en swaai ry? Hoe het dit my laat voel? Watter ervarings van konneksie was daar? In hierdie drumpeltyd tussen wêrelde het die volgehoue vrae vir my ’n deur na myself oopgemaak. Ek kon uiteindelik sê: Dit is ek. Dit is my essensie. Dit is die dinge wat van my ’n unieke mens met ’n wyer en dieper gees maak. Ek mag my voorliefdes uitleef; God het my lief vir my voorkeure.

In ’n Gedig deur die Poolse Nobelpryswenner Wislava Szymborska gee sy uitdrukking aan hierdie soort keuses en voorkeure:

POSSIBILITIES – Wislava Szymborska 

I prefer movies.

I prefer cats.

I prefer the oaks along the Warta.

I prefer Dickens to Dostoyevsky.

I prefer myself liking people

to myself loving mankind.

I prefer keeping a needle and thread on hand, just in case.

I prefer the colour green.

I prefer not to maintain

that reason is to blame for everything.

I prefer exceptions.

I prefer to leave early.

I prefer talking to doctors about something else.

I prefer the old fine-lined illustrations.

I prefer the absurdity of writing poems

to the absurdity of not writing poems.

I prefer, where love is concerned, nonspecific anniversaries

that can be celebrated every day.

I prefer moralists

who promise me nothing.

I prefer cunning kindness to the over-trustful kind.

I prefer the earth in civvies.

I prefer conquered countries to conquering countries.

I prefer having some reservations.

I prefer the hell of chaos to the hell of order.

I prefer Grimm’s fairy tales to the newspapers’ front pages.

I prefer leaves without flowers to flowers without leaves.

I prefer dogs with uncropped tails.

I prefer light eyes, since mine are dark.

I prefer desk drawers.

I prefer many things that I haven’t mentioned here

to many things I’ve also left unsaid.

I prefer zeroes on the loose

to those lined up behind a cipher.

I prefer the time of insects to the time of stars.

I prefer to knock on wood.

I prefer not to ask how much longer and when.

I prefer keeping in mind even the possibility

that existence has its own reason for being.

Dis nie net krisisse en donker ervarings wat ons van onsself vervreem nie. Dis dikwels bloot die eise van die lewe wat maak dat ons voortvaar van die een verpligting na die ander, sonder om stil te word met onsself. Dis die druk en voorskrifte en verwagtinge van die kontekste waarin ons ons bevind: Familie, gemeenskap, kerk, heersende idees in die samelewing, die skaarsheidskonsepte van die Westerse ekonomie … en ons pas aan en pas in by die bloudruk wat hierdie kontekste op ons afdruk sonder om na te dink.

Die voorliefdes waarna ek verwys, niks te doen het met ‘ego’ nie. Richard Rohr beskryf in Falling Upward die spiritualiteite van die twee helftes van die lewe. Die eerste helfte van die lewe is die tyd waarin die individu bou aan ’n identiteit: Dit het te doen met jou plek in die samelewing, dit wat die gemeenskap van jou verwag – studie en opleiding, ’n goeie werk, ’n mooi gesin, ’n motor, ’n huis; alles eksterne dinge wat merkers is van die mate van sukses wat jy in die oë van die samelewing behaal het. Die tweede helfte van die lewe is dan die fase waarin daar (hopelik) mettertyd ontslae geraak word van die eksterne identiteit om die innerlike “ek” onbelemmerd te kan ontmoet. Die ego-dinge word afgeskud maar die essensie bly – en word helderder.

’n Kleibeeld van Evette Weyers beeld hierdie ego-aspekte mooi uit: ’n Koplose figuur met ’n masker in die hand en op sy rug ’n koker met nog meer maskers. Hierdie koplose man is sonder ’n “self”, hy is algeheel vervreemd van homself, maar hy het ’n masker gereed vir elke geleentheid.

As ek die voorskrifte en maskers kan laat gaan, as ek ophou om weerstand te bied … kan ek dalk veilig begin voel om my hart en my sintuie oop te stel vir God se verrassings, vir die vloei van die lewe, vir die organiese ontwikkeling van dinge volgens God se plan.

John O’Donohue sê:

I would love to live

Like a river flows

Carried by the surprise

Of its own unfolding

’n Mens kan  hierna verwys as ’n spiritualiteit van momente en ontmoetings. Dis ’n spiritualiteit wat gegrond is in die klipharde werklikheid, dis ’n belewing van non-dualiteit in die eenvoudigste ervarings. ’n Vriendin vertel: “Ek het as kind op ’n keer kaalvoet in ’n erosiesloot agter ’n tarentaal aangeloop. Ek het gekyk hoe hy loop, wat hy doen, hoe hy is. Ek het vir my meneer ’n opstel daaroor geskryf.” Dis ’n heilige ontmoeting.

Mary Oliver se kort gedig:

Instructions for living a life.

Pay attention.

Be astonished.

Tell about it.

Ekself het onlangs so ’n ervaring gehad terwyl ek op ’n voetpad in ’n natuurreservaat gestap het. Op een plek was daar ’n skaars merkbare wildspaadjie wat regs uitgedraai het en ek het dit op die ingewing van die oomblik gevolg (hoewel die bordjies sê: Bly op die voetpaaie). Ek het skielik, en vreemd, ’n duidelike belewenis gehad van hoe ’n bok op daardie paadjie moes voel, of amper: Hoe ek die bok word. Ek het later ’n haiku geskryf:

Op die wildspaadjie / trap ek self bokspoortjies en / spring van klip tot klip

’n Heilige moment.

’n Vrou het onlangs op ’n retreat gesê sy hou daarvan om soggens haar dogters se hare te vleg. ’n Ritueel, ’n ontmoeting, ’n heilige moment. Die diepte-dimensie van elke ervaring is die teenwoordigheid van God.

Mense wat toetse doen met allerlei masjiene wat hulle aan mense koppel om hul emosies na te vors, sê daar is basies net twee emosies waaruit alle ander emosies spruit: Vrees en liefde. Ek dink dis belangrik om hierdie onderskeid te ondersoek met die mense wat ons begelei. Die maskers wat ons opsit, is gewoonlik vreesgedrewe. Ons kan op die pad van selfontmoeting begin deur te vra: Wat is jou passie?  Waarom was Miekie se voorliefde vir kuns net so belangrik as haar familie se diens aan minder-bevoorregdes?

’n Vriendin het op sestig – uit nood – haar eenvoudige huis in ’n gastehuis omskep, en haar passie vir haar gaste ontdek. Hulle kom weer en weer terug. Haar gasvryheid het haar bediening geword.

TEGNIEKE om leiding te gee in die ontdekking van myself, my voorliefdes:

Die hoekom-vraag: Rekenskap aan myself: Hoekom geniet ek dit? En ook: Hoe laat dit my voel?

Joernaalwerk: Baie mense skram weg hiervan – miskien huiwerig om met jouself gekonfronteer te word? Gee prompts.

Haiku: Dokumentering van ’n moment

Beweging: Stap, draf, dans, fietsry … motorfiets ry, bergstap soos my kind

Kom terug na die binnekind. Speel! Kontak met kinders: Joyce Rupp, skrywer, retreatleier, spirituele begeleier: In haar boek May I have this dance is daar ‘n hele hoofstuk oor ‘The Playground of God’. Sy praat oor haar streng Duitse opvoeding: “I know that my German upbringing with its strong emphasis on work and responsibility contributed to my loss of my inner child … No one ever encouraged me to be spontaneous, to wonder, to let myself be unproductive. Play is an inner attitude. What may be work for one person may be play for another. I know from my teaching days how vital it is for me to stay connected to young children. I know that I will not be a whole person until I can allow my inner child to romp and skip freely.”

Direkte ervaring van die natuur, met jou hande! Mandalas in die natuur.

Kyk na skadu-aspekte: Wie sê dit hou nie ook ’n geskenk in nie? Wat moet ek laat sterf? Wat moet ek laat groei? My lewe is soos ’n skildery waarvan die komposisie vereis dat sekere elemente teruggestoot moet word terwyl ander na vore moet kom, versterk moet word, die helder eienskappe wat my bly maak en my energie gee. Dit skep uiteindelik ’n gebalanseerde “self”.

Ons totale bestaan IS GODSDIENS: Die volgende wysheid kom uit ’n Boeddhistiese konteks:

‘We are crafting’ … ons is almal makers, skeppers:

WE ARE CRAFTING:

The sage crafts the self

The farmer crafts the field

The woodworker crafts furniture

The most important quality is to sustain the practice.

Dit is vir my die wese van die kontemplatiewe benadering: Wees getrou in jou praktyk – wat dit ook al is – en herken God in alles.