Liturgiese voorstel
Sondag 29 Januarie 2023 | 4de Sondag ná Epifanie
God nooi ons uit en ons kom tot rus
Verwelkoming
Aanvangslied
LB 511 Lei U ons, Lig (vers 1-2)
Aanvangswoord (Jesaja 9:1 & 5; 2020 Vertaling)
“Die volk wat in duisternis ronddwaal, het ‘n groot lig gesien;
hulle wat in ‘n stikdonker land woon – oor hulle het ‘n lig geskyn.
Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee.
Die heerskappy is op sy skouer.
Hy word genoem:
Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”
Seëngroet
Steek die Christuskers aan.
God die Vader, die Skepper van lig,
Christus, Lig vir die wêreld,
en die Heilige Gees wat God se lig deur ons skyn, groet ons!
Respons
LB 202 Prys Hom, die Hemelvors (vers 1-3)
Wet (uit Miga 6; 2020 Vertaling)
Die Here kla Sy volk aan dat hulle die verhouding met Hom as veeleisend beskou – dit is ‘n las op hulle skouers wat hulle moeg maak…
Die Here het ’n saak teen sy volk, Hy het Israel aangekla.
“My volk, wat het Ek aan jou gedoen en hoe het Ek jou vermoei? Antwoord My!
Ek het jou immers laat optrek uit Egipteland, uit die plek van slawerny het Ek jou losgekoop.
Ek het Moses, Aäron en Mirjam voor jou uitgestuur.
My volk, onthou tog wat Balak, die koning van Moab beplan het, en wat Bileam, die seun van Beor, hom geantwoord het.
Onthou wat gebeur het van Sittim tot by Gilgal, sodat jy die regverdige dade van die Here kan erken.”
Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is:
Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?
Skuldbelydenis
LB 238 God, enkel lig, voor u gesig (vers 1, 3, 4 & 5)
Doopherinnering (Jesaja 49:1 & 6; 2020 Vertaling)
“Die Here het my reeds geroep toe ek in die moederskoot was; Hy het reeds my naam genoem toe ek in my moeder se liggaam was.
Hy het gesê: ‘Ek gee jou as ‘n lig vir nasies, sodat my heil sal strek tot aan die uiteindes van die aarde.”
Gee aan gemeentelede die geleentheid om vorentoe te kom na die doopvont en hulle name in die water te skryf om hulle te herinner dat God hulle geroep het om sy lig op die aarde te wees.
Loflied
LB 488 Helder skyn u lig vir die nasies (vers 1-5)
God praat met ons en ons luister
Epiklese
Respons
LB 253 U het die brood gebreek (vers 1-2)
Skriflesing
Matteus 5:1-12
Preek
God stuur ons om te leef
Gebed (uit Matteus 5:3-10)
Voorganger: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
Gemeente: Here, maak ons dankbaar vir elke seëning wat ons van U ontvang.
V: Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.
G: Here, maak ons u troosters vir mense wat swaarkry.
V: Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.
G: Here, laat ons nou reeds u koninkryk uitleef.
V: Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.
G: Here, maak ons oë oop om onreg raak te sien.
V: Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
G: Here, maak ons harte sensitief vir ander se nood.
V: Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
G: Here, help ons om ons oë op U te hou en te doen wat U wil is.
V: Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.
G: Here, laat ons hande en voete vrede bring oral waar ons gaan.
V: Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
G: Here, maak ons sterk selfs wanneer dit moeilik is om u lig in hierdie wêreld te laat skyn.
Afkondigings
Offergawes
Roepingslied
VONKK 277 U is die lig wat deur die donker skyn (vers 1-3)
Seën (uit Matteus 5:13-14, 16)
Julle is die sout vir die aarde.
Julle is die lig vir die wêreld.
Laat julle lig só voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.
Antwoord
LB 471 Soek allereers die koninkryk van God (x1)