Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Generasie Bagasie

“As jy onverwerkte bagasie het, kan dit jou verhouding tussen God ons Vader, familie en ander blok. Daarom is dit belangrik om daaroor te praat; om bevryding en jou seën te kry.” 

’n Generasie Bagasie-kursusganger

Ons almal kry soms ’n uitdagende pakkie om in ons lewens te dra. Hierdie bagasie kan soms baie swaar word. Ongelukkig ignoreer ons dikwels die effek wat dit op ons het en word dit nooit regtig verwerk nie; iets wat maklik van geslag tot geslag oorgedra kan word.

Daar is egter raad hiervoor. Vanaf 4 tot 6 Augustus het ’n groep mans en twee vroue saam met prof Wentzel Coetzer ’n Generasie Bagasie-naweek, gefasiliteer deur ds Christo Weideman, op Clarens deurgebring. Wentzel se boek, Generasie Bagasie, is as bron van inspirasie vir dié naweek gebruik en die tema was Vind weer die menswees in jou manwees.

In hierdie tyd het die groep saam beleef hoe God die kringloop van generasie-bagasie deurbreek en manwees herstel het.

Die geskiedkundige en helende waarde van die omgewing

Die naweek het plaasgevind in die Clarens Hermitage en die aanbieding was in die geskiedkundige Kruger-saal van die NG Gemeente Clarens. Ds Jan Venter, die pastor loci (plaaslike leraar) het ’n reuse-aandeel in die reëlings en organisasie van die naweek gehad. Kursusgangers het in gastehuise van hul keuse gebly. Meer as vierduisend Vrystaters is gedurende die Anglo-Boereoorlog in hierdie gebied getraumatiseer toe hulle noodgedwonge oorgegee het aan die Britse owerheid en hul vroue en kinders moes agterlaat. Hier is generasie-bagasie opgedoen wat vir generasies daarna nog ’n effek op nageslagte gehad het.

Die rustige Clarens-omgewing is omring met die Rooiberge in die Brandwaterkom en is uitnemend geskik vir hierdie soort wegbreeknaweek. Soos een kursusganger dit beskryf: “Die natuurskoon en atmosfeer het so ’n warm, verwelkomende atmosfeer in die winterkoue geskep; almal het dadelik tuis gevoel.”

Die doel van die naweek

Die aanbieding het ’n veilige ruimte geskep waartydens mense openhartig en vrymoedig oor hul ‘bagasie’ kon praat. Dit het die geleentheid gebied waartydens mense ’n helingsproses kon begin stap met kundige begeleiding, veral ten opsigte van selfondersoek en -evaluering.

“Ek het gewonder waarom ek die naweek moes bywoon; wat die doel daarvan is,” vertel een kursusganger. “Ek het ook maar my pakkie bagasie om aan te werk. Gedurende die naweek het ek egter toenemend ‘n dringendheid ervaar om ander se bagasie te help aanspreek.”

Wat was die inhoud van die aanbieding?

“Die aanbieding was gerig op mense wat graag meer wou weet oor die impak van generasie-bagasie,” verduidelik Wentzel. “Hulle wou verstaan hoe dit uitmond in verhoudings en watter herstelprosesse vanuit die Skrif en praktyk heling bring.”

Met hierdie inligting kon die groep dit toepas op hul eie gesins- en familie-omstandighede, traumatiese gebeure wat hulle self deurgegaan het en vriende wat hulle ken wat daarmee worstel.

Wentzel het ses temas ingelei: ‘n Oorsig van generasie-bagasie; voorbeelde vanuit die navorsing van Christen-psigiaters; mense wat hul seën misgeloop het; oortollige bagasie wat afgelaai moet word; die impak en genesing van pa-wonde en die tuiskoms van geestelike weeskinders.

Laasgenoemde het plaasgevind in die Boskerk buite Clarens en is gevolg deur nagmaalsbediening deur ds Christo Weideman. Hy was ook verantwoordelik vir al die stiltetye gedurende die naweek.

Watter impak het die aanbieding op die groep gehad?

Een van die kursusgangers vertel: “Dit het my oë geopen vir die rede agter die herhalende griepaanvalle in my seun se lewe. Ek besef nou dat ek die verantwoordelikheid het om die bagasie te help identifiseer en af te laai; ek sien daarna uit om met die gesprekke te begin. Bid asseblief vir ons.”

Tydens die naweek is daar ook nuwe vriendskappe gesmee; iets wat kan uitloop op vernuwing van die kerk. “Christus se genade, liefde en heling het soos ‘n stroom sterk hierdie naweek gevloei,” is die mening van een van die kursusgangers.

Henk Vermeulen sê: “Vir só lank is hieroor geswyg. Wat ’n stukkie bevryding was dit nie om hieroor openlik te kon gesels nie.”

’n Ander kursusganger sê: “Dit is belangrik om ander se stories te ken om sodoende hul optrede te kan verstaan. As jy onverwerkte bagasie het, kan dit jou verhouding tussen God ons Vader, familie en ander blok. Daarom is dit belangrik om daaroor te praat; om bevryding en jou seën te kry. Dit het ons toegerus om ander se nood raak te sien en dan te help.”

Wentzel vertel: “Hierdie soort aanbiedings baat die kerk deurdat dit die inspraak van die Gees in ons gebrokenheid deur die koinonia en Skrif bewerkstellig. Die herstel van ons manwees beteken dat ons ons diens in die Here se Koninkryk met minder belemmering kan verrig; ons soek nie meer verskonings nie.”

En nou, wat lê voor?

“Ons het so ‘n aanbieding broodnodig omdat ons gebuk gaan onder soveel bagasie,” sê Wentzel. “Ons kan doodgewoon nie effektief deelneem aan die lewenswedloop terwyl ons ons onverwerkte bagasie bly saamdra nie.”

“’n Mens wil nie inmeng nie, en jy voel onbekwaam, maar die seerkry daarbuite is ondraaglik en ek mag nie meer uitstel nie,” sê ’n ander kursusganger. “Daar is minstens drie mense met wie ek nou kontak moet maak. Hulle seer ken ek al lank; dis tyd dat ons openlik daaroor praat. Bid asb vir my daarvoor.”

Sleutelnotas het die aanbieding bondig saamgevat. Die boek dien as aanvullende materiaal en gee goeie leiding oor hoe om die relevante aspekte verder te neem, te verstaan en te bestuur.

Henk Vermeulen se wens is dat die kerk hierin mekaar moet begin bedien om binne God se helingsproses saam vorentoe te gaan.

Vir meer inligting kan ds Christo Weideman by dscweideman@gmail.com gekontak word.