Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Gehoor van Skriflesing?

Deur dr Martin Laubscher, Erediens Netwerk

Een van die oomblikke in die weeklikse liturgie op ‘n Sondagaand in die Presbiteriaanse kerk op Stellenbosch wat ‘n groot indruk op my as student gemaak het, was wanneer een van die lidmate na vore sou stap terwyl die plaaslike predikant van die gemeente, David Hunter, eenkant sou gaan sit – en die Skriflesing van die teks vir die aand se prediking aan die gemeente sou voorlees. Hoewel ek in daardie stadium min blootstelling aan hierdie praktyk gehad het, en geen agtergrond nie, was ek dikwels beïndruk met hoe goed die betrokke lidmate die Skriflesing sou doen, en dan veral hoe aandagtig die einste prediker daar sou sit en luister na die voorlesing. Dit was asof hy nooit klaar kon luister na die teks nie. Ek het dikwels die ervaring gehad dat hy luister om te hoor of daar nie dalk nóg iets is om aan die gehoor te gee in die prediking hierna nie. Trouens, mettertyd het ek selfs tot die insig gekom dat dié einste geloofsgemeenskap teenwoordig ook deur die bank só in afwagting sou sit en gehoorsaam luister na die Skrifte wat voorgelees word.  

Dit is dalk die rede waarom vandeesweek se lesing my ook so intens getref het toe ek lees wat Constance Cherry skryf in haar boek The Worship Architect (2021) oor die belangrikheid van openbare Skriflesing in die erediens.

“Today there is a new dilemma in many churches. The amount of time devoted to preaching is not compromised, but the public reading of Scripture is all but gone. … Perhaps a new reformation is in order so that the public reading of Scripture can resume its rightful place in Christian worship regardless of service style” (85).

Een moontlike manier om hierop te reageer, is om te sê dat die punt nie soseer is om die Skrifte te lees nie, maar veel eerder dat dit iets is om gehoor te word en dan veral om aan gehoor te gee. Ek onthou ook hoe ek destyds aangegryp was deur Dirkie Smit se Neem, lees! (2006) wat vertel hoe ‘n eintlik relatief onlangse verskynsel dit is om die Skrifte stil-sag-by-jouself te lees (teenoor die voorlees en aanhoor daarvan in gemeenskap). Anders gestel, ‘n mens kan beswaarlik die teks interpreteer deur nie ook veral daarna te luister en te hoor watter klank (musiek) vir ons skuilgaan in die bladsye (bladmusiek) van die Skrifte nie. Om te verstaan wat daar staan, veronderstel dat ons hoor en beweeg/dans na gelang van die klank daarvan. Dit is nie bloot net informatief nie, maar per-formatief. Die Woord wil nie net in die gedagtes gaan lê nie, maar oor die tong rol … en die tonge aan die rol sit. Dit is nie, sou ek vir ‘n oomblik kon sê, waarop dit soseer neerkom nie, maar veel eerder waarop dit uitmond!   

Die geklank en toon van die Woord, skryf (as ek nou reg onthou) Fleming Rutledge iewers, was al te dikwels die redding van vele predikers en preke. Dit word dan só voorgelees dat ons as luisteraars in die proses gehoor-én-gelees word. G’n wonder dat Cherry omtrent die helfte van haar hoofstuk rondom die “diens van die Woord” afstaan aan praktiese advies, wenke en oefeninge om hierdie deel van die liturgie met die nodige piëteit opnuut weer te herontdek vir ons dag en tyd nie. Jy wonder dalk: Hoor ek reg? Ek hoor nog iemand sê: Hoor-hoor daardie kosbare oomblik in die weeklikse liturgie!

Die Skrifte wil gehoor word – dit wil ons lees – en dalk is dit iets om opnuut weer aan gehoor te gee … 



116 | Maatskaplike NOODLYN