Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Gaan voor ons uit, Here”

Algemene Sinode 2023 | Spiritualiteit en Liturgie: Refleksies van afgevaardigdes

Die 18de Algemene Sinodesitting van die NG Kerk het plaasgevind vanaf Sondag 15 Oktober tot Vrydag 20 Oktober 2023 te Birchwood in Boksburg. Die agenda se buiteblad het dadelik die oog gevang met die treffende illustrasies van Moses se lewe, deur dr Nico Simpson. Hierdeur het afgevaardigdes reeds ‘n voorsmakie gekry van die beplande spiritualiteit en liturgie wat die sinodesitting gaan omraam.

Die fokusteks was Eksodus 33:12-23, en die tema van die sinodesitting ‘n gebed “Gaan voor ons uit, Here”. Met die oog op die opening en afsluiting van die Algemene Sinode 2023 en elke dag se wydingsgeleenthede, is dié bede voorlopig in “kleiner”, korter gebede verdeel en waaruit die betrokke dag se groter gesprekstemas en spiritualiteit sal vloei:

Sondag(aand): “Laat ons U hier ontmoet, Here”

(Eksodus 33:1-13, in ‘n erediens ter opening van die Sinode)

Maandag: “Laat ons u aangesig, u heerlikheid sien, Here”

(Eksodus 33:18-23 & 34:34:5-7, ‘n dag van teologiese nadenke en verwondering oor Wie God is en hoe ons sy Woord hoor)

Dinsdag: “Laat ons u land, u paaie sien, Here”

(Eksodus 33:13, ‘n dag van nadenke en gesprek oor ons konteks en nood in Suider-Afrika)

Woensdag: “Laat ons u Kerk sien, Here”

(Eksodus 33:16-17, ‘n dag van nadenke en gesprek oor wie ons as kerke is, ekumenies en in gemeentes)

Donderdag: “Laat ons u rus, u guns sien, Here”

(Eksodus 33:14, ‘n dag van nadenke en gesprek oor die beloftes van God van herstel en heling)

Vrydag(oggend): “Laat ander u teenwoordigheid by ons sien, o Heer”

(Eksodus 33:16-34:10 en met ‘n erediens ter afsluiting van die week)

Die algemene indrukke van die spiritualiteit en liturgie van die Algemene Sinode word deur ds Jan Lubbe, nuwe moderator van die Algemene Sinode, beskryf as ‘n deurlopende liturgie. Dit het Sondagaand met ‘n erediens begin en prof Nelus Niemandt het die Woord treffend bedien, so onthou ds Carli Fourie. Die preek kortliks opgesom, Eksodus 33 vertel dat God se sigbare rug metafories verwys na God se liefdevolle karakter. Tog vertrou ons op hierdie liefdevolle Vader sonder dat ons Sy gesig kan sien en ooit die Vader ten volle sal ken, God bly vir die mens ‘n misterie.

Elke daaropvolgende dag het drie wydingsgeleenthede gehad. Die oggendwydings was ‘n meer formele liturgie, met ‘n fokus op dele van die Eksodus 33-teks. Die middagwydings se fokus vanuit Miga 6, het dan ook ruimte geskep vir diepe verootmoediging. Die sinodelied wat deur ds Zander van der Westhuizen geskryf en gekomponeer is, is hier gesing – en dit was besonders, sê ds Anandie Greyling. Die woorde en ook die melodie draai steeds in haar gedagtes. Die aandwydings het gefokus op die pelgrimspsalms, met ‘n besondere aansluiting by die tema van die betrokke dag. Volgens ds Anandie Greyling het die pelgrimspsalms die sinodegangers gestem vir die nag se rus, ná ‘n lang dag.

Die spiritualiteit en liturgie van die sinodesitting is beplan en aangebied sodat sinodegangers tydens elke deel van die dag bewus sal wees van die diepe verlange na God se teenwoordigheid aan die een kant, en dan aan die ander kant die bewussyn dat God wel hier teenwoordig is.      

Die verskillende simbole, soos geïllustreer op die buiteblad van die agenda, was reg deur die week ook sigbaar vir sinodegangers, dit is ook as gesprekspunt gebruik tydens die middagwydings. Sondagaand was die kandelaar prominent – simbool van God se teenwoordigheid. Maandag was dit die brandende bos – die roeping van Moses en ook die besef van God se teenwoordigheid. Dinsdag die huilende oog – huilend oor ons lande en kontekste, maar ook oor dit wat in die woestyn gebeur het met die goue kalf. Woensdag was die pad wat deur die see oopgemaak is deur God – en ons eie verlange na daardie pad, en ook die vertroue dat God dit sal doen. Donderdag die kruik – ‘n teken en herinnering van God se versorging. En Vrydag die staf – die bevestiging dat die Here ons vooruit gegaan het.

Ds Christo Weideman vertel dat daar moeite gedoen is om met elke wydingsgeleentheid ‘n ander liturg uit die tien sinodes te gebruik, sowel dames as mans, en van verskillende ouderdomme. Dit was lekker om na verskillende stemme en aanbiddingstyle te luister. Sinodegangers is op verskeie maniere by die spiritualiteit en liturgie van die sinodesitting betrek; die samesang en musiek, onder die leiding van ds Zander van der Westhuizen, blyk een van die hoogtepunte te wees. Die optrede van die Chamber Vox Choir het ook heelwat hartsnare geroer. Simboliese handelinge en rituele wat aangesluit het by die tema, het sinodegangers ook lyflik ingenooi tot aktiewe deelname, nie net aan die betrokke liturgieë nie, maar ook die roeping van die tekste. Die inruim van stilword-tye en gebede het die sinodegangers werklik tot stilte geroep, daaruit het gebede kon opgaan vir mense en sake, en vanuit hierdie stiltes is hoop wel gebore, so vertel ds Jan Lubbe.

Die gebruik van responsoriese liturgieë het beklemtoon dat dit nie net een persoon is wat aan die woord is nie, maar elke sinodeganger se stem kon gehoor word. Ouderling Neville de Bruyn verwoord dat almal nie ewe gemaklik met responsoriese liturgieë is nie. Tog het die erns van die inhoud daarvan duidelik na vore gekom, en sodoende het sinodegangers tot die diepe besef gekom van waarmee die vergadering besig is. Die tafelgesprekke was ook kosbaar en die diepte daarvan bevestig dat God deur Sy Gees in ons elkeen werk en deur saam te gesels, kon ons na ‘n nuwe diepte in die teks en in onsself beweeg, so sê die nuwe assessor van die Algemene Sinode, ds Maartje van der Westhuizen.  

Die ontwerpspan het met groot moeite, harde werk en deeglike voorbereiding verseker dat die sinodevergadering deur Woord en lied, gebed en simboliek, stilte en saam praat sinodegangers begelei het om alle sake en gesprekke in afhanklikheid van God aan te pak. Dit het die vergadering gefokus gehou op God wat voor ons uit gaan en ons lei.

Laastens word die spiritualiteit en liturgie van die Algemene Sinode met enkele woorde as volg beskryf: Opregtheid, intense verlange, diepe afwagting en afhanklikheid, die tasbare teenwoordigheid van God self in sy Gees en in mekaar, geïntegreerde-vrede, ernstig en vertrouend / afwagtend op God se leiding, diepe ontmoetings met die lewende Almagtige God.

Gaan voor ons uit, Here!

116 | Maatskaplike NOODLYN