Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Formule vir Sinodale Bydrae (Pro-rata)

By die laaste sinodesitting is die sogenaamde “dertig persent”-besluit geneem. Hiervolgens moes gemeentes se bydraes vir werk in meerdere verband (algemeen bekend as pro-rata bydraes) met 30% verminder word tydens die reses. Dit is sedertdien gedoen en die bedrag wat verhaal word van gemeentes het jaarliks verminder. Die dilemma is egter dat baie gemeentes finansieel swaarkry en daarom nie hulle (volle) bydrae kan betaal nie. Ongelukkig gebruik gemeentes wat doleer dit ook as rede waarom hulle nie hulle ooreengekome verantwoordelikheid met die sinode nakom nie. Hierdie faktore plaas druk op die werksaamhede van die sinode.

Daarom is Ondersteuning voortdurend besig om te kyk na die begroting. Ons mikpunt is om die bydrae van gemeentes verder te verminder oor die volgende aantal jare. Daarmee saam word ook gekyk na ʼn nog eenvoudiger formule vir die berekening van die maandelikse bydraes van gemeentes. Die beginsels waarvolgens hierdie formule saamgestel word, gebruik dieselfde Bybelse beginsels wat tans gebruik word naamlik: 1) Almal moet billik behandel word. Daarom gebruik ons een formule wat oral toegepas word. 2) Almal moet kans kry om deel te neem aan die werk in meerdere verband. Daarom kan ʼn gemeente wat die minimumbedrag van R400pm betaal, ook deel in die werk van die sinode. 3) Van hulle wat meer het, word meer gevra. Daarom gebruik ons ʼn glyskaal waarvolgens ryker gemeentes meer betaal as armer gemeentes.

As jy ʼn inset wil lewer in die ontwerp van ʼn nuwe formule, is jy welkom om vir my ʼn e-pos in dié verband te stuur na leon.foot@telkomsa.net.