Eugene Peterson (1932-2018) en predikante
Ek het die boek Working the Angles. The Shape of Pastoral Integrity (1987) van Eugene Peterson by die sinode se mediateek geleen. Peterson was ‘n baie bekende en gesogte skrywer van talle boeke… veral bekend vir sy parafrase-vertaling van die Nuwe Testament The Message (2002). Maar nou moet ek erken dat ek (skandelik!) nog geen van sy boeke gelees het nie. Daarom het ek besluit ek moet tog maar hierdie ou een lees. As ek geweet het waarvoor ek in is, het ek dit dalk nie gedoen nie…
In hierdie boek klim hy onder ons predikante in. Sy eerste woorde is: “American pastors are abandoning their posts, left and right, and at an alarming rate. They are not leaving their churches and getting other jobs. Congregations still pay their salaries… and they continue to appear in pulpits on Sundays. But they are abandoning their posts, their calling”. Wow! Die predikante het niks meer geword nie, sê hy, as “shopkeepers”, en die winkels wat hulle bestuur is die kerke.
Hy is van mening dat daar basies drie take van die bediening is wat die roeping van die predikant inhou, en hierdie is stil, eensaam en trek nie baie aandag nie: Gebed, die lees van die Bybel, en geestelike begeleiding (3). Tog vra die praktyk van predikante om baie ander dinge te doen om sy werk te doen, dinge wat heeltemal niks te doen het met die drie basiese take nie. Tong in die kies sê hy dat hy ‘n effektiewe opleidingsprogram kan aanbied vir die mense wat die kerk wil hê: (a) ‘n kursus in kreatiewe plagiaat; (b) stem-oefeninge vir gebed en berading; en (c) effektiewe kantooradministrasie. Hy lag nie meer hieroor nie, want hy is bevrees dat dit inderdaad so geword het. Jy doen wat die gemeentelede wil hê. Dit is die verskil tussen ‘n roeping en ‘n werk (11). Dit is baie moeilik om iets anders te doen as wat die mense om jou van jou verwag.
Dan gaan hy voort om te skryf oor die “driehoek” van die bediening, naamlik die drie fundamentele take van gebed, die lees van die Skrif en geestelike begeleiding van mense. Vandaar die titel van die boek: “Working the Angles”.
Hoe het dit gebeur dat gebed nie meer sentraal in die lewe van christene (en predikante) staan nie? Hy gaan haal dit onder andere by die teologiese afskeep van die Psalmboek as die gebedsboek van die volk van God. Waar dit vroeër die sentrum van die teologie van die OT was, is dit nou uitgeskuif na ‘n perifere rol. Die gebede van predikante word nou die noodsaaklike ritueel om allerlei geleenthede seremonieel af te skop of af te sluit… “the starting pistols that shoot blanks to get things going” (45). Hierteen maak Peterson sterk beswaar. Hy wys op die gesegde van die ou wyse mense: “Be slow to pray”. Openbare gebed is nie grappies nie, dit is gevaarlik. Wat ook onthou moet word, is dat die mens se gebed nie die “eerste woord” is nie, maar altyd ‘n antwoord is: God se woord is die eerste. Is dit nie so dat ‘n kind eers begin praat nadat hy/sy eers baie duisende woorde gehoor het nie? ‘n Predikant kan gevlei voel dat jy vir soveel dinge nodig is, maar totdat die besef deurdring dat niemand skynbaar ooit van jou verwag om ‘n ware gebedsmens te wees nie!
Hoe om dit reg te kry? Deur die sabbat te handhaaf. Maar dit kan alleen met die samewerking van die gemeente geskied. Peterson meen dat dit tog kan gebeur as die predikant die behoefte behoorlik aan die gemeente verduidelik, en vra dat hulle help. Dit gaan nie oor om ‘n dag “af te vat” nie… dit is ‘n kulturele beskrywing van ‘n werksreëling. Nee, dit is ‘n bybelse reëling, ‘n ritme, ‘n geleentheid om God se stem te hoor. Interessant is sy afleidings van die bybelse motiverings in die sabbatsgebod. In Exodus is dit: God het gerus. Die werk/rus ritme is belangrik… die lewe is nie net werk, produksie nie. In Deuteronomium: die volk het vryheid gekry, nou kan hulle leef! In Peterson se woorde: “The two biblical reasons for sabbath keeping develop into parallel sabbath activities of praying and playing” (74). Hyself en sy vrou het Maandae geneem wat hulle noem “Emmaus Walks”, hulle twee alleen, iewers in die natuur, saam met die Here, rustig, maak nie saak hoe die weer is nie. En dit het vir hulle gewerk.
Die tweede hoek (“Angle”) waaraan hy werk, is die (lees van die) Skrif. Hy begin met die opmerking dat daar ‘n groot verskil is tussen die lees van die Bybel en die luister na God. Luister is ‘n interpersoonlike aksie, die boek is tog nie betrokke by jou lees nie! Ongelukkig, sê hy, is die luister na die woord verdring deur die lees van die woord. En daar is drie redes voor: Gutenberg se boekdrukkuns, die skoolsisteem, en dat daar van die predikant ‘n verkeerde verwagting geskep is (90).
Voor Gutenberg het mense nie kon lees nie, ook nie die Bybel nie, maar het geluister na woorde. Nou het die goedkoop gedrukte Bybel sinoniem met die “Woord van God” geword… maar jy “luister” nie meer na God nie. Tweedens is skoling met opvoeding (leer) verwar. Lees en skool – boeke – is onlosmaaklik van mekaar, en nou word ook Bybellees maklik net kennisoordrag vanaf ‘n boek… nie ‘n persoonlike ontmoeting nie. Derdens het ons “verbruikers” geword, en in die kerk moet predikante iets lewer: Hy/sy “kyk net” of daar iets is waarmee die verbruikers sal tevrede wees. Die sprekende mond van God, en die luisterende oor van die mens word maklik vervang deur letters op papier! Dit lyk vir hom belangrik dat in die sinoptiese evangelies (wat elkeen sy eie seleksie van gelykenisse het) die gelykenis van die saaier eerste staan: ‘n Gelykenis oor HOOR.
Eksegese is belangrik, sê hy. Nog nooit vroeër was daar soveel hulpmiddels beskikbaar vir die eksegeet nie, maar informasie moet nie verwar word met kennis en begrip nie. Die klank van die woorde moet deurdring. Hy praat van “kontemplatiewe eksegese”, om te “luister” na die Woord (117). Die gehoorde woord het ‘n lewende konteks, maar dit verdwyn wanneer die woord op papier is. Die boekrol in die hand van die kamerling op die Gaza-pad het lewe gekry toe twee mense met vrae en antwoorde daarmee besig was… eintlik in die teenwoordigheid van ‘n vierde: Die Jesus van die boekrol (130). Dit is nie die “waarhede” in die boek nie, maar dit is die stories wat tel.
Die derde “angle” waarmee hy werk is “spiritual direction” (geestelike begeleiding?). Hy definieer dit soos volg: “When two people agree to give their full attention to what God is doing in one (or both) of their lives and seek to respond in faith” (150). Ironies genoeg dink die meeste mense dat dit is wat predikante heeltyd doen, maar in sy ervaring dink die meeste pastors nie dat hulle dit regtig kan doen nie. Die feit is dat dit presies dit is wat hulle doen sonder dat hulle besef dat hulle dit doen! Maar dit behoort meer spesifieke aandag te kry. Gesprekke moet ernstig geneem word, en daar moet gereageer word op spesifieke sake. “The things that we do when we don’t think we are doing anything significant might make the most difference” (161).
Dan bestee hy ‘n hele hoofstuk (hoofstuk 8) daaraan om (uit sy eie ervaring) te motiveer waarom elke predikant eintlik iemand nodig het om só mee saam te stap. Juis predikante het dit nodig. Maar om ‘n goeie geestelike begeleier te wees, vra die regte instelling. Jy moet altyd verwonderd wees oor God se beeld in die een met wie jy te doen het, en jy moet ook besef hoe min jy werklik weet van die persoon se lewe en uitdagings. Alleen op hierdie manier sal julle saamstap ook gedra word deur die krag en verwagtings van gebed.