Ek moes dink wat skryf ek en wat nie. Dis amper my hele lewensverhaal as ek moet skryf oor my reis as eerste vrouepredikant in die NGK. Ek het besef ek sal net penstrepe kan trek.
In my finale jaar belydenisklas het ek skielik begin worstel met die vraag: Hoekom kan daar nie vrouepredikante wees nie? In die dorpie waar ek op daardie stadium was, was twee gemeentes en ek het by albei predikante ‘n draai gaan maak oor die vraag. Die een het gesê: Vergeet daarvan, jy sal nooit ‘n predikant kan wees nie, omdat jy ‘n vrou is. Die ander een het gesê: “As die Here jou roep vir ‘n predikant, moet jy gehoorsaam wees. Jy kan wátter draaie loop, Hy sal jou terugbring”. Die gedagte het al sterker in my gegroei. Ek wou eintlik medies swot, maar soos die tyd verloop het, het die een deur ná die ander toegemaak vir medies en ek het al meer begin voel die Here roep my vir die bediening.
Op daardie stadium was al die ampte net vir mans in die NGK. Al wat ek op daardie stadium geweet het, is dat ek ‘n dominee wou wees en dat ek met jongmense wil werk, want ek het geglo as jy vroeg genoeg probleme in jongmense se lewens optel, kan hulle gelukkige volwassenes wees.
Yolanda Dreyer-Papp is in daardie tyd bevestig as eerste vrouepredikant in die Hervormde kerk. Ek het haar loopbaan gevolg sover ek kon.
Januarie 1980 skryf ek in Hoofgebou Kamer nr 10 (dit sou later ons Griekse klas word) saam met 80 manne in vir die graad BA Admissie. Natuurlik was my oë vol sterre, natuurlik was daar opgewondenheid, tot die eerste mansstudent vir my vra: Wat soek jy hier? My lugballon het gebars. Watse vraag is dit? Ek is mos oor dieselfde rede as hy hier. Die vraag moes ek baie beantwoord oor hoekom jy Admissie swot. Die antwoord is eenvoudig: Die Here het my geroep om predikant te word. Gewoonlik dan stilte.
Die volgende ontnugtering…. Ek het naïef geglo dat predikante wat elke Sondag die wet van liefde lees dit seker ook leef. Hier het ek niks ervaar van liefde nie. Dit het vir my gevoel ek is tussen die mees liefdelose mense. Predikante. Tussen mense wat sê hulle dien die Here. Vir sy diens geroep is.
So het die klasse begin. In die Grieks, Hebreeus en Wysbegeerte se klasse was baie manne en een vrou. Op een of ander manier kon die dosente van die vakke die teenwoordigheid van ‘n vrou hanteer, maar verseker het jy altyd uitgestaan. Dit was ‘n eensame pad. Daar was niemand in die koshuis wat kon help met die Grieks, Hebreeus en Wysbegeerte nie. Die manne kon dit saam uitwerk. So het ‘n eensame pad begin wat ek later besef het nie net in sekere vakke eensaam sou word nie, maar ‘n stuk eensaamheid sou word wat baie dieper lê, wat deel van jou mens sou word.
Ek het later vriende gehad onder die manne. O.a. die een wat vir my gevra het wat maak jy hier. Baie gou het ek agtergekom as jy wil deel neem aan ‘n mansgespsrek, beredeneer jy dit met feite. Jy dink nie emosioneel daaroor nie. Nee sussie, feite! Ek het wonderlike mansvriende gehad. Baie van hulle het jare bankvas agter my gestaan, die volle sewe jaar en langer.
Ek is ‘n introvert. Ek het nooit met iemand begin redeneer oor die vrou in die amp nie. Ek sou altyd na die ander persoon se storie luister. Dit is maar wat ek altyd gedoen het. Tussen die mans: stil en op my plek. Ek was/is nie ‘n feminis nie. Ek het nie gekies vir daardie pad nie. Eerste seker oor my persoonlikheid, seker omdat ek alleen was en nie eintlik ‘n aggressiewe vrou is nie en ek nie vyande wou maak met redenasies nie. Ek het nie baie gepraat nie maar was maar altyd daar saam met die mans. Ek het ook besluit ek gaan nie soos ‘n man word nie. Ek wil ’n “vroulike” predikant wees.
Maar altyd die vraag: Hoekom swot jy teologie? Later jare sou ek besef hierdie was een van die makliker vrae om te beantwoord. Later sou venynige skerp vrae met steke kom.
Elke keer as dit moeilik gegaan het, het ek aan my roeping vasgehou met die paar woorde in 1 Tessalonisense 5:24 (b) “ Hy wat roep is getrou”. Elke keer as ek nie weet watter kant toe nie en ek wou tou opgooi, was dit my roeping en hierdie paar woorde wat my gedra het.
So behaal ons die BA Admissie graad. Nou Teologiese fakulteit toe. Die “eerste vrou” by die NGK se Teologiese Fakulteit in die Vrystaat. Skiellik het die besef van “EERSTE” my getref. Ek het altyd gevoel hoe ek optree, sal vir jare ná my die vroue beïnvloed wat na hierdie fakulteit toe kom. Ek het nooit langbroeke klas toe gedra nie, altyd bloese en rompe gedra en in die winter sykouse daarmee saam. As die mans ‘n pak moes gedra het, het ek ‘n formele kerkpakkie gedra, want netnou benadeel ek dié na my met my kleredrag. In daardie tyd moes studente netjies klas toe kom. Die mans moes dasse dra en ‘n langbroek.
Daar begin die klasse en skielik is ek die probleem. Die dosente sal begin met “Broers….. en dan gaan die klas aan. Die laaste 5 minute van die klas word daaraan gewy dat hulle my as “broers “ aangespreek het en nie “suster” ook nie. Maar ek moet verstaan dat hulle my nie uitsluit, nie dit is maar net ‘n gewoonte. Prof De Klerk het ‘n ander manier van aanspreek gekies: “Broers en Gretha….”
Daar was ook ‘n dosent wat my eendag ingeroep het kantoor toe. Hy het my reguit in die oë gekyk en gesê: “Ek is teen die vrou in die amp. Ongelukkig kan ek niks aan jou doen nie, want jy volg ‘n akedemiese graad aan ‘n universiteit. Maar hier is ‘n afskrif van my intreerede – dit handel oor die feit dat vroue nie as predikante toegelaat moet word nie..” Ek was totaal verslae. Ek het nooit met mense geredeneer of die vrou in die amp moet wees of nie. Met my hele hart het ek geglo vroue kan. Toe ek die dag daar uitstap toe wonder ek: Werk die Heilge Gees net in manne se lewens? Roep die Heilge Gees net manne vir die besondere ampte? En die alleenheid? Met wie kan ek praat, wie kan vir my leiding gee? Na wie kan ek opkyk om te sien hoe moet ek die goed hanteer? Weer die besef jy is menslik alleen op die pad. Sorg vir jouself. Sterk wees, sussie.
Daar was ook die dosent wat vir my soos ‘n pa was. Wat vir geen oomblik getwyfel het dat ek ‘n plek in die kerk het nie. Hy het my ook gehelp dat ek ‘n proefpreek kon lewer. Almal in die klas kon, behalwe ek, want ek is ‘n vrou. Op 3 Augustus 1986 lewer ek my proefpreek in die NGK in Petrusburg. Die arme dosent moes daarna baie mooi aan die dekaan verduidelik hoe hy so-iets kon doen.
In 1986 moes die mans drie weke prakties in ‘n gemeente doen. Ek wou ook. Maar skielik is die suster weer ‘n probleem – waar gaan ons met haar heen? Skuif haar na die siekes. Kom daar by die hospitaalleraar. Nee, ek het nie plek vir jou nie. Soek vir jou ander plek.
So beland ek drie weke in ‘n verpleegsterskoshuis en help die kerklike werkster daar.
Intussen is die vrou as diaken toegelaat.
Ek studeer af in 1986. Aan die einde van die jaar ontvang ons ons Nagraadse Diploma in Teologie. Saam met die geleentheid was die legitimasie in die Odeion. Toe ek klaar my diploma ontvang het, het een van die administratiewe personeel my aan die hand gevat en na agter in die saal gelei dat ek nie “per ongeluk” ook die legitimasie eed aflê nie. Dit was die finale strooi. Toe breek die damwal en ek huil sonder ophou omdat my maats dit mag doen maar ek mag nie. Huil sommer oor die swaar van die hele sewe jaar.
Danksy ds Lombaard het ek die pos as kerklike werkster in Idahlia, die verpleegsterskoshuis gekry. Dit was ‘n gemeente in die kleine en ek mag darem in die hospitaalkapel gepreek het. Skielik het alles in plek geval. Ek wat met jongmense wil werk en ek kon iets van die mediese wêreld ook beleef. Later kon ek in Universitaskerk preek nadat daar lang en vermoeiende argumente in die kerkraad gevoer is of ek op die kansel mag klim of nie. Ek was een van twee Vroue-ouderlinge wat in die gemeente bevestig is, as eerstes.
Oktober 1990 – Algemene Sinode in Bloemfontein. Op die agenda – die vrou in die amp (ouderling en predikant). Ek het in die besoekersgallery gesit en die debat gevolg: Wat gaan sy doen as sy ‘n man uit die kroeg moet gaan haal, wat van as die man die vrou slaan, wat van as sy swanger raak, wat as haar man nie in dieselfde dorp as sy werk waar sy predikant is nie? En dan die goeie teologiese debatte. Net voor die teebreuk het prof Johan Heyns die laaste spreekbeurt gekry. Al wat hy gesê het, is: “Wie het die opstandingsnuus gaan vertel? Vroue!” Tydens die teebreuk het van die predikante na my toe gestap en gesê ons sal sorg dat dit nie deurgaan nie. Wat se jy? Wat doen jy dat jy nie in trane uitbars nie? Hoe hanteer jy sulke harteloosheid en dit in die kerk waar liefde moet wees?
November daardie jaar is ek gelegitimeer. 4 jaar nadat ek klaar studeer het. Die vorige dag toe ons die Kuratorium ontmoet het, het ‘n professor, wat nie deel was van die teologiese fakulteit nie, na my toe gestap en gesê: “Ek is teen dit maar ek het vir jou gestem”. Wat moet ek met die inligting maak?
Idahlia koshuis was deel van Universitas gemeente. Einde 1993 het ek saam met die verpleegsters oorgeskuif na Kovsiekampus-gemeente. Eindelik gebeur die groot ding ek word beroep na Kovsiekampus gemeente en op 20 Maart 1994 bevestig as die eerste vroue dominee in die NGK.
Die aand met die bevestiging was daar 21 persone wat my die hande opgelê het: Oud studente maats, dosente, mede-predikante, kollegas. Dit was ‘n ongelooflike gebeurtenis. Ek het eendag met ds Lombaard gaan praat en gevra: “Dominee, hoekom ek?” Ek het nie die persoonlikheid nie. Sy antwooord het gekom: “Jy is gewillig en jy het ‘n roeping.”
Weer het ek besef ”EERSTE”: Hoe moet ek ‘n predikant wees as vrou? Wat word van die EERSTE verwag? Watter implikasie het my “EERSTE” wees vir die vroue ná my?
Ek was weer so verskriklik eensaam, alleen. Ja, miskien klink dit hard, maar ek het al baie gedink hoe beleef lidmate die kerk. Die kerk was die plek waar ek die seerste in my lewe gekry het. Vir my was dit nooit ‘n vangnet, waar my wonde versorg word nie. Dit was nie vir my ‘n plek van liefde nie, inteendeel. Ja, ek gaan seker oor die woorde gekruisig word. Onthou net, dit is my eie verhaal, my eie subjektiewe belewenis.
In 1989 begin ek met my MTh studies in die Pastoraat. Later sou PhD volg. Sedert 2009 doen ek deeltyds berading. Ek geniet dit baie. Daar is niks wat so satisfaksie gee as jy iemand kon help en hulle lewensgehalte verbeter nie.
Wat my ook uitgeslaan het was vrouens se weerstand teen die vrou as predikant. Hulle het nie noodwendig die saak beredeneerd of beveg nie, maar dit voel nie reg nie. Venynig kritiek ook van hulle af. Ook daar nie aanvaar nie.
Ek was van 1987 tot 2009 in studentebediening. 2010 is ek na Hobhouse beroep. Dit was lekker om ‘n gemeente te hê met ou- en jongmense. Vreemd – ‘n plattelandse gemeente beroep ‘n vrou… Ek is baie goed ontvang en was gelukkig daar. Daar was glo voor die tyd opmerkings en kritiek oor ‘n vrou wat kom. Die Here het my geseën as goeie prediker en ek dink baie mense is stil gepreek . Daar het ek ook maar beleef wat baie predikante op die platteland beleef. Ongelukkig het die droogte gekom, die boere seergemaak en so ook die gemeente wat eintliik maar die kerk instand hou. My kontrak is toe na ses jaar beeïndig agv finansiële redes.
Huidiglik is ek in Reddersburg, ook ‘n plattelandse gemeente. Ek het baie kere voor die beroep daar gepreek toe ek nog ‘n studenteleraar was. Dus is die gemeente en ek jare lank al voorberei op mekaar. Na drie jaar verstryk my kontrak op 28 Februarie weens finansiële redes. Ja, my hart is seer. Ek was nog nooit goed met groet nie. Ja, wat is volgende? Ek weet nie wat 1 Maart 2021 gaan gebeur nie. Werkloos…? “HY wat roep is getrou…”