Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Duideliker Spraak

Prediking vind plaas deur spraak. En spraak kan wêrelde skep of afbreek, mense inspireer of verdruk, emosies wek of verveel. Daarom is dit belangrik dat die prediker fyn bespiegel oor die woorde wat gebruik word en opweeg hoe dit gekonstrueer word in sinne en paragrawe en die uiteindelike vloei van die hele preek. Tog, uit eie ervaring (en wat ek glo ander predikers ook ervaar), is hierdie taak beduidend moeilik. Een versoeking wat ekself al ervaar het, is om te verval in geykte uitdrukkings en terme. Dink jouself net in hoeveel keer jy geykte uitdrukkings hoor in preke: “Jy moet ’n verhouding met God hê. As ons ons harte verander, dan sal die koninkryk nader kom.” Of selfs terme soos: “Liefde, genade, en hoop.”

Indien ek met myself eerlik sou wees, sou ek moes vra: “Wat bedoel ek met ’n verhouding met God?” Ons mag dalk almal onsself iets daarvan kan indink, maar omdat dit so baie gebruik word, sal dit minder sin maak. Wanneer iemand byvoorbeeld vertel van die hartomleiding wat hulle onlangs ontvang het, sal daar minder moontlike interpretasies van die saak wees, want ’n hartomleiding is ’n duidelik gedefinieerde mediese operasie. Maar wat presies is ’n verhouding met God?

Die prediker sal dus moet besluit: “Laat ek geykte taal toe in my prediking, of is dit belangrik om duidelik te sê wat ek bedoel en om te definieer sodat daar gehoor en verstaan kan word?”

Uiteraard is duidelike spraak beter as onduidelike spraak – dit is ’n kwessie van kwaliteit. Maar hoe praat die prediker duideliker? En hoe vermy jy geykte uitdrukkings? Ons sal uiteraard moet praat oor konsepte wat geyk geraak het met tyd. Tog is daar moontlikhede om geykte uitdrukkings nuwe lewe te gee, nuwe betekenis en om nuwe wêrelde te skep.

Eerstens kan die prediker die uitdrukking definieer. Kom ons definieer ’n verhouding met God as volg: Om te leef soos asof God bestaan en die individu ’n verantwoordelikheid tot die lewende God het. Dan kan ons verder gaan, om te leef asof God bestaan, is om ’n lewe te leef wat soek na die goeie. En dalk is om te leef op soek na die goeie om eerlik om te gaan met jouself, jou familie, en die samelewing. Dalk is dit ook om jou verantwoordelikhede in werk en gemeenskap met erns aan te pak en tot die beste van jou vermoë te dra. Dalk is so ’n individu iemand wat ’n verhouding met God het. Hierdie is maar een moontlikheid van so ’n definisie, maar dit is uiteraard meer duidelik as geen definisie.

Tweedens kan jy ’n verhaal vertel. Verhale help ons om dit wat moeilik is om te verstaan en te begryp op ’n emosionele vlak te herken en te assosieer. Maar goeie verhale is ook belangrik. Goeie verhale toon menslikheid en hoe die protagonis se karakter verander en verdiep. Hierdie is ’n ware verhaal. Ek het ’n vriend wat op ’n tyd in sy lewe groot hartseer ervaar het, tragedie op tragedie. In kort het hy sy familie, werk en tuiste verloor. Dit is nie ’n klein tragedie nie, maar drievoudig. Gedurende hierdie tyd het hy homself voorgeneem om geen verhouding met God meer te hê nie, uiteraard het hy gedink hierdie tragedie is deels God se toedoen. En so het hy totaal en al sy lewe verander; geen kerk, geen gebed, geen Bybel. Nietemin het sy lewe nog verder afwaarts verval en die ervaring van depressie was sy daaglikse brood. In hierdie donkerte van hel het hy afgewyk van sy vorige planne en een vers gelees, Psalm 22:1a: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Hy het homself verhoed om verder te lees, want hy het geweet daar is hoop in die verse daarna, en hoop het te gevaarlik vir hom geblyk. So het dit aangehou vir maande; een vers, een gebed, een frase. Dit was sy hele verhouding met God, maar dit was iets.

Derdens kan jy ’n vergelyking of metafore gebruik. ’n Verhouding met God is soos die liefde. Jy weet wanneer jy dit het, jy weet wanneer jy dit verloor het, maar jy het geen benul daarvan as jy dit nog nooit ervaar het nie. Of ’n metafoor. ’n Verhouding met God is die dagbreek ná ’n slapelose nag; dit is die vroeë somerreën; dit is die skadu van die wilger op ’n vuurwarm middag. Tog moet die prediker bewus wees dat metafore en vergelykings nooit volledig is nie; dit is slegs ’n perspektief en ’n enkelvoudige blik op ’n konsep.

Predikers sal altyd met taal werk, en ons taal sal altyd tekortkominge hê. Ons sal nooit volledig, sonder foute of onsekerheid kan praat nie. Tog kan ons poog om duideliker te praat.