Deur ds Zak Scholtz, leraar, en prof Hesta Friedrich-Nel, gemeentebestuurder, van NG Woodland Hills Gemeenskapskerk
In die alombekende Alice’s Adventures in Wonderland[2] vra Alice aan die onsigbare kat: “Ek sal graag wil weet watter pad ek moet neem.”
“Dit hang af waarheen jy wil gaan,” antwoord die wyse kat.
“Wel dit maak nie regtig saak nie,” reageer Alice.
“Wel dan maak dit nie saak watter pad jy neem nie.”
“If you don’t know where you are going, any road will get you there.” Lewis Carroll
Drie vrae: Wat, Waarheen en Hoe?
Alice en Carroll verwoord iets wat die ope vraag in baie gemeentes, besighede en organisasies bly.
In ’n oorvereenvoudige vorm[3] is die vrae:
- Wat is ons huidige situasie?
- Waarheen wil ons hier vandaan gaan?
- Hoe gaan ons daar kom?
Figuur 1: Drie vrae as strategiese rigtingwysers
Die doel van hierdie skrywe is om die drie vrae (sien Figuur 1) as die vertrekpunt vir strategiese rigtingwysers te gebruik om die doel, rigting, groei en vooruitgang van ’n gemeente, besigheid of organisasie te begelei. Verder word nagedink of die kerk per se nodig het om die beginsels van strategiese beplanning aan te wend om aan haar doel te beantwoord. Hierdie gedagte herinner aan Benjamin Franklin[4] se gesegde ‘if you fail to plan you are planning to fail’. Sukses vra daarom ’n strategiese en georganiseerde benadering.
Die gelykenis
In Lukas 14:28-30[5] verwys Jesus in ’n gelykenis na ’n man wat begin bou voordat hy die koste bereken het. Hoewel Jesus dit van toepassing maak op dissipelskap, is die onderliggende beginsels van strategiese beplanning aanwesig.
Jesus kommunikeer dat betrokkenheid in die bediening nie lukraak aangepak moet word nie, maar strategies doelbewus, bepland en berekend moet wees. Dit vra dat onder andere die visie[6], die doel, die span, die finansies en die operasionele aspekte eers goed verstaan en gedefinieer moet word voordat daar oorgegaan word tot aksie. Hierdie hele proses begin by die drie eenvoudige vrae hierbo (sien Figuur 1).
’n Weldeurdagte strategiese bedieningsplan is dus juis ’n uitdrukking van verantwoordelike geloof, geloof wat beplan. Christus gee aan sy kerk gawes en dit is tot opbou van sy gemeente. Hierdie gawes word dan deur die Heilige Gees gebruik om effektiewe uitdrukking te gee aan die formulering en uitvoering van ’n strategiese plan vir die gemeente – wat gerealiseer word in en deur die werking van die Gees volgens sy Wil. Sonder ’n plan of struktuur kan dit dui op ’n onverantwoordelike gebruik van Goddelike gawes en hulpbronne wat Christus aan sy gemeente gee.
In die gelykenis is daar ook ’n stuk getuienis. As ons planmatig strategies omgaan met die Kerk van Christus, dan is dit ook ’n stuk getuienis na die wêreld daarbuite. Getuienis wat verklaar dat ons dit wat ons begin, ook deur die werking van die Gees einduit sal voltooi. Die teendeel is egter ook waar – en word weerspieël in die woorde van Jesus in Lukas 14:28-30:
“Want wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en bereken die koste, om te sien of hy genoeg geld het om dit te voltooi nie? Sodat dit nie gebeur dat, as hy die fondament lê en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, met hom begin spot en sê, ‘Hierdie man het begin bou, maar kon nie klaarmaak nie.’”
Die gemeente is geroep om verantwoordelik om te gaan met gawes en hulpbronne tot ons beskikking. Planmatigheid word in hierdie opsig dan ’n instrument van gehoorsaamheid wat ’n gemeente kan help om rigting, doel en ’n werkbare plan te formuleer. Lidmate van die plaaslike gemeente speel ’n aktiewe rol hierin (volgens Efesiërs 4:11–13).
Die ander aspek van die gelykenis is dat die plan uitvoerbaar moet wees. ’n Plan of rigting is ’n goeie begin – maar kan nie vassteek by goeie intensies alleenlik nie. Sommige gemeentes roem hulle op die visie, missie of kernwaardes wat hulle formuleer – maar kry nie die stap geneem om dit uitvoerbaar te realiseer nie. Slegs woorde op papier verloor betekenis, momentum en impak.
In hierdie gedeelte is die gelykenis gebruik om die belangrikheid van die drie vrae (sien Figuur 1) uit te lig. ’n Praktiese voorbeeld rakende die toepassing van sommige elemente vanuit die sake-omgewing – sou soos volg daaruitsien:
Die gemeente van De Aar [Operasionele Bestuur – Plek] wil graag dissipels maak [Teologie] deur Bybelstudie aan te bied by die plaaslike ouetehuis [Bemarking] op Dinsdagoggende. Daarvoor moet die saal reggesit en beplan word [Operasionele bestuur – Uitleg] om die Bybelstudie so effektief moontlik te laat verloop. Daar moet egter begroot word daarvoor [Finansiële Bestuur] dat die persone wat die Bybelstudie bywoon, elke keer ’n koppie koffie en ’n lekker eetdingetjie kan geniet [Strategiese Visie: Verhoudings].
’n Laaste gedagte
’n Kerk sonder ’n strategiese plan is soos Alice sonder ’n bestemming: elke pad lyk na die regte een, maar geen pad lei êrens heen nie.
Wanneer ’n kerk strategies begin dink, beplan en die plan uitleef, is die werklikheid meer as net ’n dokument. Dit word ’n lewend-kragtige rigtingwyser wat mense nader aan mekaar én nader aan God bring.
In die volgende skrywe is die fokus op die nodigheid vir formulering van ’n visie binne die gemeente, asook hoe so ’n visie, missie en kernwaardes prakties geformuleer word.
[1] Zak Scholtz en Hesta Friedrich-Nel dien tans onderskeidelik as predikant en as gemeentebestuurder by Woodland Hills Gemeenskapskerk. Vir navrae of gesprekke kan hulle gekontak word by bestuurder@woodlandhillskerk.co.za.
[2] Alice’s Adventures in Wonderland is geskryf deur Lewis Carroll – dit was ’n skrywersnaam van Charles Lutwidge Dodgson, ’n Britse wiskundige en skrywer. Alice’s Adventures in Wonderland is die eerste keer in 1865 gepubliseer. Carroll het die storie in 1862 aan drie jong susters tydens ’n bootvaart naby Oxford vertel. Een van die meisies, Alice Liddell, was die inspirasie vir die hoofkarakter van die boek.
[3] Sien Janes, Alex, and Ciara Sutton. Crafting and Executing Strategy: Text and Readings. 2nd ed. Maidenhead: McGraw-Hill Education, 2017.
[4] Benjamin Franklin was ’n Amerikaanse staatsman, uitvinder en skrywer wat ’n sleutelrol in die vorming van die VSA gespeel het.
[5] Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Die Bybel 2020-vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 2020. Alle verwysings of aanhalings uit die Bybel word gedoen uit die Nuwe Direkte Vertaling (2020) om so na as moontlik aan die bronteks-taal en ’n direkte-vertaalmetode te bly.
[6] Hierdie taal word ontleed vanuit die sake-omgewing. Daar sou ’n saak uitgemaak kon word dat die terminologie meer vanuit ’n Kerkgerigte perspektief ontleen kan word. Die doel van hierdie artikel is om die beginsels wat vanuit die sakeomgewing nuttig is, te verlig – eerder as om ’n debat rakende terminologie te voer.

