Deur Celicia McLean, redakteur van die Vrypos-nuusbrief van die NG Kerk Vrystaat
Jy glimlag. Jy werk. Jy gaan aan met jou lewe. Maar diep binne-in jou voel dit asof jou hele wêreld in duie gestort het. En niemand sien dit raak nie.
“Hoe gaan dit?”
“Goed, dankie. En met jou?”
Twee eenvoudige sinne. ’n Alledaagse gesprek. Maar soms is daardie “goed, dankie” die grootste leuen wat jy vandag vertel het, want die waarheid is dat jy glad nie oukei is nie.
Daar is dae wat jy wakker word en sommer dadelik weet: Vandag gaan moeilik wees. Nie omdat jy fisiek siek is nie, maar omdat iets binne-in jou net nie meer reg voel nie.
Dit voel asof iemand oornag die mat onder jou voete uitgeruk het. Alles wat eens bekend en veilig was, voel skielik onseker. Jou kop hou nie op dink nie. Jy is moeg, maar jy kan nie slaap nie. Jy wil met iemand praat, maar weet nie eens waar om te begin nie.
Tog staan jy op. Trek aan. Gaan werk toe. Groet die mense. Lag saam wanneer iemand ’n grappie maak. Jy doen alles wat van jou verwag word en niemand sien dat jy eintlik besig is om uitmekaar te val nie, want jy lyk dan goed. Jy gaan dan nog werk toe. Jy glimlag dan nog op foto’s. Wat kan dan nou so verkeerd wees?
“Ag, dis alles in jou kop.”
“Jy moet net meer positief dink.”
“Ruk jouself net reg.”
“Ander mense het dit baie erger.”
“Jy moet net meer bid en vertrou.”
Woorde wat dalk goed bedoel is, maar diep kan seermaak. En so leer jy om eerder stil te bly. Want hoe verduidelik jy iets wat jy self nie altyd verstaan nie?
Ons leef in ’n wêreld waar dit aanvaarbaar is om te sê jy het griep, maar waar dit steeds ongemaklik voel om te erken dat jy emosioneel nie meer kan nie. As jou been gebreek is, verwag niemand dat jy net moet opstaan en aangaan nie. Maar wanneer dit jou binneste is wat stukkend voel, word daar dikwels van jou verwag om net normaal aan te gaan.
En soms maak daardie verwagting die seerste. Veral in geloofsgemeenskappe, waar ons so maklik vir mekaar sê dat ons net moet glo en vertrou. Natuurlik mag ons glo en vertrou. Maar geloof beteken nie dat die lewe jou nooit onderkry nie. Dit beteken ook nie dat jy altyd sterk, dankbaar en gelukkig moet wees nie.
Selfs mense met ’n diep geloof kry swaar. Selfs sterk mense raak moeg. En om hulp te vra, beteken nie dat jou geloof tekortskiet nie. Miskien moet ons ophou om altyd ’n antwoord te probeer gee. Soms het iemand nie raad of ’n mooi Bybelvers nodig nie. Soms het hulle net iemand nodig wat langs hulle kom sit en sê: “Ek hoor jou. Ek is hier.”
Miskien moet ons minder vinnig oordeel en meer bereid wees om te luister. Ophou om mense se pyn te meet aan dit wat ons kan sien, want agter daardie vriendelike glimlag, daardie kollega wat altyd almal help, of daardie persoon wat Sondag langs jou in die kerk sit, kan daar iemand wees wat net probeer om deur die dag te kom.
Wees sag met mense. Jy weet nie altyd wat hulle stilweg dra nie.
En as dit vandag jy is wat die glimlag opsit terwyl jou wêreld uitmekaarval, onthou asseblief: Jy hoef nie elke dag vir almal te sê dit gaan goed wanneer dit nie goed gaan nie. Jy mag hulp vra. Jy mag erken dat jy nie vandag die krag het om alles bymekaar te hou nie, want net omdat ander nie jou seer kan sien nie, beteken dit nie dat dit nie bestaan nie.
En dalk is die dapperste woorde wat jy vandag kan sê, eenvoudig: “Ek is nie oukei nie.”
Dit maak jou nie swak nie. Dit maak jou mens.

