Ds Johann Kemp is gebore in Ermelo in Mpumalanga, waar hy ook grootgeword en gematrikuleer het. Hy wou al van kleins af ‘n predikant word, maar dit is eers in sy matriekjaar dat hy bevestiging van sy roeping ontvang het en daarna by die Universiteit van Pretoria sy BA, BD en nagraadse diploma in Teologie voltooi het. Johann het sy bediening as leraar in 1982 in die gemeente van Cornelia begin en is vandag nogsteeds leraar van hierdie gemeente. Daar is min predikante wat ’n roeping na ’n gemeente ontvang en 38 jaar en 8 maande later nogsteeds kan sê dat hy gelukkig in dieselfde gemeente sy bediening wil voortsit.
Johann het egter nie net in die klein dorpie van Cornelia bedien nie. Hy was vir 36 jaar die skriba van die ring van Harrismith, is lid van die Kuratorium van die NG Kerk Vrystaat vanaf 2001 en ook sedert November 2014 die skriba van die Kuratorium. Hy is lid van die notulekommissie by al die sinodesittings van die NG Kerk Vrystaat van 1993 tot op hede. Hierdie jarelange diens as leraar het vir Johann baie dinge geleer en na hy gevra is wat sy raad aan jong predikante sal wees met al sy ervaring was die volgende sy antwoord:
As ons maar net kan leer dat ons elkeen ’n roeping het om in die voetspore van Jesus te volg en diensknegte te wees, sal mense al hoe meer vir Jesus in ons sien. Ons is nie geroep om heersers in die gemeente te wees nie, maar diensknegte. Stap daarom die tweede myl saam met mense en reik uit na mense. Mense het in vandag se tyd meer as ooit behoefte aan liefde en geestelike versorging. Mense het so ‘n behoefte om raakgesien te word, want elkeen is ’n ‘iemand’ – hy of sy is iemand se pa of ma, iemand se kind, iemand se broer en suster of iemand se vriend, en ek as leraar moet daardie iemand waardeer vir wie hy of sy is.”
Johann is ook baie positief oor die toekoms van die kerk, want dit bly immers Christus se kerk. Hy gee toe dat die struktuur reg deur die eeue verander het en waarskynlik weer sal verander, maar dat die kerk in watter vorm ook al wel sal voortbestaan, ons moet net aan Hom diensbaar bly. Uiteindelik erken Johann soos baie ander leraars dat hy ook nog baie dinge nie verstaan nie en baie antwoorde nie kon vind nie.
Gelukkig besef hy dat Psalm 131 ook die psalmis hiermee geworstel het: “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is nie. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”