Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die “werklikheid” waarmee ons só vertroud is

Onlangs woon ek ‘n konferensie by met die fokus op oorlog. Die hoofspreker begin sy referaat met die volgende woorde: “Kan ons enigsins vir onsself ‘n wêreld sonder oorlog verbeel?” Hierna weerklink die frase nog ‘n paar maal deur die lesing, sodat daar helaas geen twyfel kan wees oor die saak wat hy in ons midde wil plaas nie. Bloot in die manier waarop hy dit vra, suggereer reeds dat hy skynbaar vermoed dat ook hierdie gehoor – met van die voorste praktiese teoloë in die land daar teenwoordig – dit dalk moeilik mag vind om klein te kry. Tydens die vraetyd en bespreking word hierdie aanname oor die uitdagende aard van die vraag opnuut bevestig, naamlik dat daar ‘n sekere “werklikheid” is waarmee ons skynbaar veel meer vertroud is as met enige ander.

Toegegee, daar is meriete in die kritiese reaksie en vrae wat na die tyd gestel word, en tog kan ek nie help om te wonder oor die “werklikheid” waarmee ons ten diepste vertroud is nie. Anders gestel: Met watter “werklikheid” het ons nou eintlik mee “vrede” gemaak? Ek is bewus van die magdom vorme van geweld en oorlog wat daagliks op soveel plekke en tussen so baie mense afspeel, maar dit kan tog nie die grense van ons (Christelike) verbeelding so verkleur-en-bestem-en-verdoem dat dit helaas dui op geen ander begin en einde nie. Nog ‘n keer: Wat is nou eintlik ons “werklikheid”, en waarmee is ons regtig vertroud? Of, nog beter gestel: Wie is ons werklikheid, en is ons aan hierdie werklikheid van Hom – die Vredevors – getrou?

‘n Verdere opvolg-vraag sou tereg kon wonder oor die (gebrekkige) effek en belang wat liturgie en Christelike aanbidding dan in ons lewens speel. Daar is tog soveel momente in die erediens wat ‘n ander sosiale verbeelding oproep en stimuleer. Byvoorbeeld, die seëngroet en seënbede (lees: geskenk van vrede) is nie net daar om die begin en einde van ‘n erediens aan te dui nie, maar veel eerder ons lewens(wêrelde) te omraam en deursuur in sy totaliteit. Meer nog, iewers in verloop van die liturgie, op weg na die tafel waar ‘n einde aan geweld en dood gemaak is, word ons uitgenooi om mekaar in die naam van vrede te omhels en (kan jy glo, soos die vroeë Christene gedoen het), selfs te soen.

In die woorde van David Jensen:

“In the kissing of the church, the ties of water – not blood – were the ties that mattered, the intimacy that delighted. … The early Christians did not avoid the intimacy that mouth-to-mouth kissing suggested; instead, they embraced it.”

Kortom, daar is ‘n intieme beliggaming en viering van hierdie vrede, en die oorvloedige aard daarvan aan Christelike (tafel)gemeenskap deursuur eenvoudig die wêreld waarin ons leef.

Miskien moet ons dalk eers vra hoe die uitdrukking van vrede nog deesdae in ons eredienste en liturgie plaasvind, voor ons antwoord op die vraag of ons ons ‘n wêreld sonder oorlog kan verbeel. Die erediens het dit immers nie om die afwesigheid van oorlog nie, maar om die konkrete, lyflike, genotvolle, intieme teenwoordigheid van vrede. Die kadens van dié werklikheid is waartoe ons geroep word om weekliks mee vrede te maak. Shalom!

116 | Maatskaplike NOODLYN