Deur Bertus Muller
Op ons ouderdom is ons elke dag nader en nader aan die volgende begrafnis van ou bure, vriende en familie wat ons sedert die 1960’s geken het.
Begrafnisse word nou ‘n groot werklikheid: ooms en tannies wat help kinders grootmaak het, nabye familielede, familie van wie ons lanklaas gehoor het en met wie ons kontak verloor het – hulle ontval ons een vir een. Covid het vele begrafnisse tot gevolg gehad. Mense van 93 jaar plus, wat ryke ervarings uit die ou dae kon deel en vertel, raak skaars.
Veral die spoorwegwerkers met hul ervarings as ploegbase wat die treinspore gebou het, raak uiters skaars. Hulle het van plek tot plek getrek namate die spoor gevorder het en die trein tot daar gekom het. Dis ons stukkie familie-geskiedenis.
Al wat oorbly is die ou dae se lokomotief-kiekies en memorabilia. En oumas se eetstelle en goetertjies wat geërf en oorgedra word aan die kinders.
Families waarmee trots gespog is, begin uitmekaar gaan, kinders gaan werk oorsee en die tradisionele gesin ná skool word verder uitmekaar gedryf.
Tog is daar wel vandag nog families wat bymekaar bly.
Eers nou en dan die gebruiklike begrafnis en dan die vreugde van ’n broer se seun wat vir dominee geleer het, beroep is en op die koop toe vir die familie ‘n skoondogter ingepalm het.
Die troue is eg plattelands en tradisioneel. Beide die bruid en bruidegom se ouers, selfs oupas en oumas van 80 plus, familie van beide kante, en dan die jongklomp wat in groot getalle opdaag.
Die kerk het twee pragtige ruikers, die jong bruidegom staan voor die kerkdeure en groet die gaste met aankoms. ‘n Oom neem ‘n foto van sy vingers vir “before and after”. Die bruidegom se ma en pa staan trots voor die ingang, uitgevat in pragtige klere, en die bruidegom in sy kerkpak. Die strooijonker-broer en ringdraer staan by en nog ‘n goeie vriend van die gevolg. Die suster en broer van die bruidegom se ma sorg vir Ouma wat in haar tagtigs in ‘n rolstoel is.
Die dominee wat die huweliksbevestiging waarneem, is die mentor van die bruidegom by die kweekskool.
Yskoue botteltjies water in ‘n waterbak met ysblokke en helderkleurige rose wag by die ingang, want dit is warm.
Die bruid se susters en vriendinne is pragtig uitgevat in mooi liggroen en groen rokke. Die troumars word gespeel en die bruid in ‘n pragtige wit rok word deur haar pa ingebring. Dan volg die gebruiklike soen van die dogter en die afgee aan die bruidegom. Dit is mooi.
Die dominee ken die bruidspaar en alles wat mooi is, word gesê. ‘n Sangeres sing die bruidspaar “Die Seënbede” van Anneli van Rooyen toe.
Ná die tyd staan almal buite terwyl die huweliksregister geteken word deur man en vrou, soos die huweliksformulier ook gelees is in die kerk.
Roosblare word gestrooi, foto’s word geneem. Ligte versnaperinge, frikadelle, worsies, koue vleis ensovoorts, voorberei deur die bruidegom se ouers, word bedien tydens die fotonemery. Die hawelose wat voor die kerk sit, ontvang met groot dankbaarheid van die tafel af brood en frikkadelle.
Die onthaal is in die kerksaal en die tafels is keurig gedek.
Die gaste kry hul sitplekke en die bruidspaar kom onder luide toejuiging die saal binne.
Die seremoniemeester verduidelik die reëlings en die gebruiklike grappie oor die skoonseun en skoonma volg.
Die bruidegom se pa lewer ‘n praatjie oor die bruidegom se grootwordjare en dankbaarheid teenoor die Here vir die voorreg wat hulle as ouers het om die nuwe dogter in die familie te kry.
Die bruid se pa lewer ‘n treffende boodskap oor die bruid wat ná ‘n baie moeilike bevalling en premature geboorte met baie gebede in ‘n wonderwerk-kind verander het. Gebed werk, is die getuienis.
Die bruidegom praat en sê sy vrou is die mooiste. Lank sal hul lewe, kinders by dosyne, oumas sal hul grootmaak, klink op met die heildronke.
Voor die ete word die dansbaan geopen en die bruidspaar swaai en draai op die maat van die musiek, van die gaste val ook in.
Die ete is heerlik met boudvleis, pampoenkoekies, boontjies, aartappels en mengelslaai.
Die bruidspaar beweeg in die rondte en bedank al die gaste vir hulle teenwoordigheid.
Die jongklomp begin die dansbaan gebruik. Die bruidsruiker word gegooi en ‘n jong vroutjie vang dit.
So word die herinneringe geskep in die nuwe familie na beide kante. Wat ‘n heerlike tradisionele troue en ’n geskiedenis in wording.
Hartlik geluk dominee Niel Muller en mevrou Emma Muller van NG Gemeente Aliwal-Noord wat op 16 Desember 2023 in Aliwal-Noord in die huwelik bevestig is deur dominee Craig Salzmann van die NG Gemeente Heuwelsig, Bloemfontein.
Hartlik geluk dominee Niel Muller en mevrou Emma Muller van NG Gemeente Aliwal-Noord wat op 16 Desember 2023 in Aliwal-Noord in die huwelik bevestig is deur dominee Craig Salzmann van die NG Gemeente Heuwelsig, Bloemfontein.
Ek het die skryfstuk opgestel oor die huwelik van ds Niel en Emma Muller op 16 Desember 2023 in die NG Kerk Aliwal-Noord waar ds Niel ‘n leraar is.
| verskaf : Die bruidspaar, ds Niel en Emma Muller.