Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die vlam van leierskap

Die woord “leierskap” het in die tweede helfte van die vorige eeu amper magiese status gekry as ‘n soort van “goue sleutel” wat alle uitdagings in interpersoonlike en organisasie-dinamika oopsluit. Waarskynlik honderde duisende boeke en artikels het sedert 1920 hieroor verskyn. In die laaste twee of drie dekades het daar egter ietwat van ‘n kentering gekom en ‘n groeiende besef dat die wyse waarop ons leierskap verstaan, dalk nie so klinkklaar is as wat ons dink nie. 

Hall merk tereg op: “Most of us have been seduced at some time by the leadership illusion and, often, those who should have a clearer view only succeed in obfuscating the topic further. Leadership – both theory and practice – is characterized by complexity, contradiction and confusion.” (The Leadership Illusion, 2010: 7)

Ten spyte hiervan is dit ook waar dat leierskap/leiding ‘n universele verskynsel is. Bass (Handbook of Leadership, 2008:3) het ‘n interessante verklaring hiervoor. Hy sê: “Leadership has been built into the human psyche because of the long period we need to be nurtured by parents for our survival.” Hoe dit ookal sy, leierskap is ‘n onvermydelike deel van alle menslike interaksie, en sou mens kon sê, meestal die deurslaggewende faktor in alle menslike strewes en aksies.

In die laaste dekade van die vorige eeu het skrywers begin om die soeklig te laat val op die ontwykende “hart” van leierskap. Die gesprek het (in breë trekke) geskuif van ‘n meer “tegniese” benadering na ‘n meer organiese benadering. Uit my perspektief as teoloog klink hierdie moderne “taal” van leierskap “verdag”, baie soos die wyse waarop die Bybel op leierskap sinspeel. Dit blyk al hoe meer uit die ontwikkelende leierskapsdenke dat leierskap inherent en ten diepste ‘n geestelike oorsprong het. In Wheatley se woorde: “Leadership IS Spiritual.”

Die Netwerk vir Leierskap gaan probeer om ruimte te skep vir ons as kerklike/geestelike leiers (leraars en ander gemeenteleiers ingesluit) om oor die “hart” van leierskap te dink, te praat, te skryf en te doen. Ons wil nie ‘n benadering volg wat fokus op “eienskappe, vaardighede of profiele” nie. Eerder wil ons toegee dat die “first movement” van leierskap diep in die siel/menswees (van elkeen) lê. Ons wil deur ‘n verskeidenheid van ervarings en geleenthede mekaar help om ons unieke “vlam” van leierskap aan die brand te kry.

As jy wil deel wees en/of saam gesels hieroor, kontak my gerus, sodat ons ‘n “leier”-span aan die gang kan kry.

Ds Jan Venter (NG Gemeente Clarens) | Leierskap Netwerk | E-posadres: j.a.n.venter@icloud.com