Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die twee nature van Christus

Foto: Canva

Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis

Vir ons as Christene is ons belydenis dat God drie-enig is en die feit dat Christus twee nature (’n goddelike en ’n menslike) het, baie nóú aan mekaar verbind. Hoewel die twee sake baie naby aan mekaar is, is dit belangrik om dit te onderskei. Dit is soveel te meer belangrik om dit te onthou wanneer ons met mense van ander godsdienste praat.

Moslems aanvaar ook die maagdelike geboorte van Jesus deur die Heilige Gees – hoewel die Koran sê dat sy moeder Maria of Mariam die suster van Moses en Aäron en die dogter van Amram is (Koran 3:35-51, 19:16vv, 66:12). Islam verwerp egter enige idee van die inkarnasie (dat God in Jesus mens geword het). Jesus was volgens hulle bloot ‘n mens. ‘n Goeie mens, ‘n profeet, maar net ‘n mens.

Die besware wat Moslems teen die inkarnasie (vleeswording) het, is dat dit onlogies is, ‘n aantasting van God se aard is, en dat dit teen die Koran is. Die Christen-apologeet Samuel Green[1] doen aan die hand dat, indien ons wil vordering maak met Moslems wat dié saak betref, ons die volgende onderwerpe in gesprek met hulle op die tafel moet sit: skepping, God wat onder sy mense woon, en die beeld van God.

Die leerstelling van die inkarnasie het as onderbou dat God Hom persoonlik met die verbind het in wat genoem word die hipostatiese vereniging Dit wil sê, daar is ‘n vereniging van twee nature, een goddelike en een menslike, in die persoon (hipostase) van Jesus, en dat in hierdie vereniging nie een van die nature gekompromitteer word nie. Christene sê nie dat God in Christus sy natuur van goddelik na geskape verander het nie, maar dat Hy in Christus God gebly het, terwyl Hy ook mens geword het. ’n Baie ou formulering wat dit betref, lui: Jesus het gebly wie Hy was (God) toe Hy geword het wat Hy nie was nie (mens)”. Moslems verwerp die hipostatiese vereniging as ‘n aantasting van God se transendensie en heiligheid.

Die punt is dat God met die skepping in kontak bly. Hy is nie net transendent nie, maar ook immanent (naby, teenwoordig). Dit was die Griekse filosofieë wat God as so transendent gesien het dat hy nie direk met die skepping kon verbind nie. Dit was ook as gevolg van hulle Griekse skeppingsleer dat vroeë Christelike ketters soos die Dosetiste (wat ontken het dat Jesus ‘n ware mens was) en die Arianiste (wat ontken het dat hy waarlik God is) die inkarnasie verwerp het.

Ons moet met Moslems hieroor praat, want selfs die Koran erken dat Allah skep, onderhou, alomteenwoordig is en homself openbaar. In werklikheid maak hy sy hande vuil wanneer hy Adam uit klei skep (Koran 38:71-75). Volgens die Koran (75:22-23) sal Allah op die oordeelsdag deur Moslems gesien word – klaarblyklik sonder om sy goddelike natuur in te boet. Moslems het dus geen logiese gronde om die inkarnasie te verwerp nie.

Moslemleiers sê dat die inkarnasie ‘n ontkenning van die Skrif is. Die probleem is egter dat die Koran natuurlik ‘n heel ander boodskap het as die Bybel. Die Koran het onder andere geen tempelteologie nie.

Teen die tyd van Mohammed was die tempel wat in Jerusalem was, reeds vir meer as 500 jaar vernietig en Judaïsme het ontwikkel tot ‘n godsdiens wat klaargekom het sonder ‘n tempel. Die invloed van die geen-tempel-teologie op Mohammed (en dus die Koran) was diepgaande. Dit het ‘n teologie voortgebring waar God nooit by sy mense woon nie. In die Koran woon Allah nie by Adam in die tuin nie. Allah woon ook nie in ‘n tabernakel of tempel nie. Hy kan ook nie in die paradys gevind word nie. Hierdie saak is belangrik omdat Jesus homself as ‘n tempel beskryf.

Ons moet Moslems vra hoekom die Koran niks van die tempel het nie, terwyl al die ander Ou-Testamentiese profete (wat hulle amptelik aanvaar) wel daaroor skryf. Om hulle te help om die tempel en God se teenwoordigheid te verstaan, sal hulle help om die inkarnasie te verstaan.

Hierdie is net ‘n paar van die kwessies wat ons moet opper as ons met Moslems praat oor die inkarnasie. Nog ‘n belangrike onderwerp om te oorweeg is die leerstelling van die Beeld van God, wat sê dat die mensdom God verteenwoordig, God se karakter kan vertoon en in God se heerlikheid sal deel.

Christene moet verseker wees dat die Evangelie waar is. Ons het goeie gronde vir wat ons glo en hierdie vaste grond is die plek om te begin wanneer ons die inkarnasie aan Moslems verduidelik.

[1] Green, S. 2020. Glory or Blasphemy? Answering Muslim Objections to the Incarnation, in The Gospel Coalition, Evangelism & Apologetics, 21/12/2020

Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hierdie artikel handel oor die saak van die twee nature van Christus. Dit is ’n moeiliker artikel om te verstaan. Apologetiese gesprekke met Moslems is egter maar ’n ingewikkelde saak.