Deur dr Nina Müller van Velden, dosent in Nuwe Testament (UV)
en as leraar gekoppel aan die NG Gemeente Hugenoot, Bloemfontein
Augustus het aangebreek, en daarmee die viering van Vrouemaand. Op 9 Augustus 1956 het ongeveer 20 000 vroue oor kleurgrense heen na die Uniegebou in Pretoria gestap in protes teen die paswetgewing van die apartheid-regering – ’n historiese moment met verreikende gevolge, in ’n tyd toe vroue se stemme dikwels uitgedoof is. Sedert 1995 word hierdie gebeure met ’n openbare vakansiedag, Nasionale Vrouedag, in Suid-Afrika herdenk. Ons leer om te onthou van waar ons kom deur te reflekteer, en hou daarmee ’n spieël op vir besin oor waarheen volgende.
Die afgelope paar jaar het hierdie dag in verskeie kontekste ’n maandlange fokus geword: ja, van die viering van vordering wat sedert 1956 gemaak is ten opsigte van die sigbaarheid en erkenning van die rol van vroue in die samelewing, maar daarmee saam ook die wekroep (telkens weer) rakende hoeveel steeds gedoen moet word om respek, insluiting en veiligheid van vroue en meisies ’n werklikheid te maak. Ons is nie meer waar ons was nie, maar ons is beslis nog nie waar ons kan (en behoort) te wees nie.
Hierdie gelyktydige viering en wekroep word jaar na jaar (steeds) gehul in die realiteit van Suid-Afrika se hemelhoë voorkoms van geslagsgebaseerde en seksuele geweld teen meisies en vroue (na raming ’n ervaring wat 1 uit elke 3 vroue in ons land minstens een keer deurmaak). Dit is daarom geen verrassing dat Vrouemaand vir vele meisies en vroue min rede gee om te vier, maar eerder ’n herinnering is daaraan dat sorg, emosionele en fisieke veiligheid en respek nie ’n gegewe is nie. Dit, ten spyte van die beste pogings om vroue vir hierdie maand “spesiaal” te laat voel …
Wat het dit met kerkwees en geloof te doen, mag jy dalk wonder?
Diegene wat navorsing doen oor sistemiese verandering in samelewings en gemeenskappe meen dat daar ’n direkte verband getrek kan word tussen die manier waarop ons praat en die wyse waarop ons optree. Taal is immers die uitdrukking van hoe ons dink, wat ons waardes is, en wat ons glo. Dit verklap egter nie net wat ons reeds as werklikheid ag nie, maar skep terselfdertyd ook nuwe werklikhede. Wat ons dink, dit sê ons, en dit wórd ons. Ons kan tydelike en oppervlakkige verandering probeer aanbring deur aan die “doen” van ons werklikheid te timmer, maar dit is eintlik maar so effektief oor die langtermyn as om ’n pleister op ’n kraak in ‘n muur te plak terwyl die hele fondament besig is om te sak. Wat is dus eerder nodig? As ons reken dat verandering nodig is – soos die wyse waarop meisies en vroue behandel word in ons gemeenskappe en samelewings – dan is dit raadsaam om krities te luister na hoe ons praat. Wat verklap ons woorde oor ons diepste oortuigings oor die rol van vroue, hul waarde, die tipe bydraes wat hulle kan lewer, hoe welkom hulle werklik is?
In die NG Kerk kerk het ons al groot vordering gemaak met ons teologie en ons verstaan van die koninkryk as ’n ruimte waarbinne God mans en vroue gelykwaardig ag, roep en gebruik. Sedert 1990 word vroue sowel as mans toegelaat om as predikante in gemeentes te dien, en in vele gemeentes bestaan die leierskap en kerkrade uit beide mans en vroue, jonk en oud. Vrouelidmate maak dikwels die grootste deel uit van betrokke lidmate in ons gemeentes, en toenemend vind ons aan teologiese fakulteite dat vrouestudente ’n groter groep uitmaak as manstudente.
Tog verklap ons taal dikwels dat ons nog ’n ver ent het om te gaan.
’n Sprekende (!) voorbeeld is die gebruik van die woord “ouens” as versamelterm vir ’n groep persone – ’n woord wat onlangs weer by herhaling gehoor was by die sinodesitting van die Vrystaat. Op die oog af onskuldig en prakties – dis mos maar hoe ons praat! – maar grawe ’n mens bietjie dieper is daar dalk meer. Vir lank was vroue immers nie deel van die leierskap van die kerk nie, nie teenwoordig by sinodesittings en kerklike vergaderings nie, nie dominees van gemeentes nie, nie diakens of ouderlinge nie … Daar was dus letterlik net “ouens” in die vertrek! Stadig maar seker verander hierdie prentjie (genadiglik!), maar ons taal is nog nie daar nie. En selfs met ’n veranderende prentjie van groter verteenwoordiging van vroue – meer vroue in die vertrek, om die tafel, in die vergadersaal – beteken dit nie noodwendig dat hul opinies op dieselfde wyse geag word as dié van mans nie … Verteenwoordiging is ’n eerste tree, maar dit kan nie daar stop nie.
Party meen dalk: Ag nee, moet tog nie so fyngevoelig wees nie! Min mense gebruik tog met kwade bedoelings “ouens” … Waarop ek dikwels dan tong-in-die-kies wonder: as “ouens” dan almal insluit, hoekom is ek redelik oortuig sal mense aanstoot neem as ek op dieselfde wyse “vrouens” as versamelterm gebruik – veral in formele ruimtes? Hoekom is grappies in ons kringe dikwels nog ten koste van die Evasgeslag (dink maar aan die “dom blondine”, die “moeilike skoonma”, die “pantoffelregering”, die “klaerige vrou” …) Hoekom giggel ons nog saam oor die “onskuldige” skuinshou wat nog so dikwels inglip: “Ag, was julle tog maar nog steeds net kaalvoet en swanger voor die stoof” … “julle maak dinge alweer onnodig moeilik” … “as julle nie hier was nie, was ons al lankal klaar gepraat” …
Dalk nooi hierdie Vrouemaand ons as gelowiges uit om die pouse-knoppies so ’n bietjie te druk. Om ons woorde te (begin) weeg, en onsself af te vra: as ons ’n ruimte wil wees waar vroue en mans, meisies en seuns kan uitdrukking gee aan hul identiteit as geskapenes na die beeld van God, hoe behoort ons (anders) te praat? Klink ons praatjies, ons woorde, soos bloot net nog ’n braaivleisvuur-gesprek? Of gaan ons bewustelik om met die verantwoordelikheid wat ons het, om nuwe werklikhede – genaderuimtes – te skep, waar almal waardig geag word, en veilig is?

