“God soek nie gegradueerde tuiniers om ’n verskil te maak nie, maar ’n hart wat gewillig is om te waag met ’n saadjie in die hand en ’n druppel reënwater wat opgegaar is.”
Ds Ronel Coertzen
Die NG Kerk Vrystaat het in die 2022/23-boekjaar ‘n bedrag van R30 000 aan elkeen van die 15 Vrystaatse ringe beskikbaar gestel om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die versoek was dat diens in samewerking met ‘n sinodale bediening gelewer moes word.
“Wat die Ring van Sentraal betref, is daar by die sinodale bediening Diens van Barmhartigheid ingeskakel,” vertel ds Ronel Coertzen, ringskriba van die Ring van Sentraal en predikant van die NG Kerk Fouriesburg.
Vertel ons meer van jul ringsprojek oor voedselsekerheid
“Ons ring het besluit om vir Thabo Olivier, ’n passievolle aktivis en leier van Let’s grow food te nader om dit waarvoor hy staan, te kom deel,” vertel Ronel. “Op 24 Maart vanjaar het verskeie verteenwoordigers van ons ring by Senekal-Noord vir hierdie geleentheid byeengekom. Thabo het van meet af aan elkeen se verbeelding aangegryp met sy woorde: Preach what you practise and have free food for life. Dié boodskap het ’n besondere impak op ons gemaak sodat ons met geïnspireerde hoop en moed uitmekaargegaan het.”
Ronel verduidelik: “Dit is belangrik om enige projek, veral een oor voedselsekerheid, volhoubaar te help maak. Om daarin te kan slaag, is dit nodig dat deelnemers die kapasiteit en die selfvertroue moet hê om daarmee te kan volhard nadat hulle begin het. Dit is vir ons elkeen moontlik om op ’n eenvoudige en maklike manier met so ’n projek te begin – spring in deur skouer aan die wiel te sit, die graaf op te neem en te begin spit; jy sal vinnig suksesvolle resultate sien.
“Herwinning, besparing en respek vir God se wonderskone skepping vra van elkeen van ons om ’n rentmeester te wees,” verduidelik Ronel verder. “God soek nie gegradueerde tuiniers om ’n verskil te maak nie, maar ’n hart wat gewillig is om te waag met ’n saadjie in die hand en ’n druppel reënwater wat opgegaar is. Soos wat ‘n klippie op die water ‘n rimpel-effek op die water het, kan die afskop van so ’n projek deur net een persoon met passie en selfbemagtiging ‘n hele omwenteling veroorsaak om armoede te help verlig.
“Dit dwing ons dalk om aan die beweeg te kom, want deur stil te sit en net te praat, kom niks gedaan nie. Skud die luiheid af, neem waar wat in jou omgewing beskikbaar is en werk met wat jy het om ‘n volhoubare groenteprojek daar te stel sodat meer as net een magie gevoed kan word. Armoede is die een ding waarmee ons as kerk van die Here Jesus Christus altyd te doen gaan hê. Armoede-verligting bring egter hoop, veral as jy die resultate kan geniet waarvoor jy hard gewerk het. ’n Leier is net sterk genoeg as hy of sy volgelinge het wat kan naboots om sy of haar voetspore trefkrag te gee deur groei en bemagtiging.
“Mielies, bone en pampoen het die potensiaal om, indien dit geplant is, groei te bevorder; geestelik, fisiek en liggaamlik. Die spreekwoord lui nie verniet ’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees nie. Waag dit saam, onder leiding van Thabo Olivier, om elke gemeenskap in Suid-Afrika te voorsien van ’n porsie groente ten bate van die bekamping van armoede. Dit mag dalk net die oortjies van die seekoei wees, maar om net met so ’n projek te begin, maak al klaar ’n verskil. Dankie, Thabo Olivier, vir die verskil wat jy reeds maak.”
Vertel ons meer van die voordele en uitdagings van so ’n projek
Ronel vertel: “Een van die grootste voordele van hierdie projek is die samewerking wat tussen die verskillende gemeentes en gemeenskappe ontstaan. Op hierdie manier help maak die projek ‘n volhoubare verskil en help spreek die ring ons diens van barmhartigheid aan ten opsigte van behoeftes in ons verskillende gemeenskappe.
“Hierdie projek bied ook die ideale geleentheid om ekumeniese bande te versterk, om oor kulturele en sosiaal-maatskaplike grense heen uit te reik en mekaar se hande te vat, want armoede is ‘n voldonge feit in ons gemeenskappe, veral ná die Covid-pandemie.
“Hierdie ondersteuning kan help dat gemeenskappe ‘n hupstoot kry om dan verder op hulle eie te kan funksioneer.
“Die grootste uitdagings waarmee die projek te kampe gehad het, was armoede, werkloosheid, morele verval en voedseltekort. Wat dit verder bemoeilik het, was die gebrek aan belangstelling van gemeentes; daar was min entoesiasme daarvoor.
Die sinodale fonds van R30 000 was natuurlik onontbeerlik met die afskop van hierdie sinvolle projek. Vertel meer oor hoe dit aangewend is en die beplanning daarvan verder.
Ronel verduidelik: “Van die bedrag is R5 000 gebruik om die vervoer- en optredekoste van Thabo Olivier te dek. Die res van die fondse is nog steeds beskikbaar om teruggeploeg te word in die verskillende gemeenskappe waar daar gemeentes is wat opleiding wil aanbied om sulke groentetuine te begin. Dit is ‘n deurlopende projek wat nog in sy babaskoene staan en dis waarvoor die fondse gebruik gaan word.
“Daar is voorgestel dat die ring ‘n gemeente of gemeenskap wat in die tweede kwartaal met hierdie projek wil begin, borg met R7 000 (en ook uit ander bronne) vir die opleiding van hul mense.
“Daar kan dus drie opleidingsgeleenthede plaasvind. ’n Vereiste vanaf Thabo se kant is dat ‘n opleidingsgeleentheid uit ’n groep van ten minste 30 lede moet bestaan, teen R1 000 per persoon. Dit sluit dan alle koste ten opsigte van vervoer, hulpmiddels en verdere ondersteuning in. R10 000 sal dus per opleidingsgeleentheid deur die ring geborg word en die gemeente(s) staan dan self in vir die tekort van R20 000 per opleiding.
“Gemeentes soos Fouriesburg en Ficksburg sou dus byvoorbeeld kan saamwerk waar elkeen genoeg vrywilligers oplei om die getal van 30 vol te maak. Dit sal as ‘n gemeenskapsprojek beskryf word en daar word besluit waar die opleidingsgeleentheid die beste geleë sal wees.
“Ons kan dan vir die nuwe boekjaar weer drie ander opleidingsgeleenthede ook op hierdie manier borg. Wees net bewus daarvan dat die koste van een geleentheid R30 000 beloop, ongeag of die getal van 30 lede deelneem of nie. Groepe kan nie groter as 30 lede wees nie.
Vir meer inligting kan ds Ronel Coertzen by 074 606 7352 of ronelc1905@gmail.com gekontak word.