Sedert die einde van 2022 bestaan daar en is daar vrye toegang tot kunsmatige intelligensie wat werk met taalmodelle in die vorm van ChatGPT. Omdat prediking uiteraard met taal te maak het, is dit ook moontlik dat kunsmatige intelligensie preke kan genereer. Daarom hierdie interessante vraag: Hoe preek kunsmatige intelligensie?
Om dit eenvoudig te hou, het ek vir ChatGPT die instruksie gegee om ’n kort preek te skryf oor Psalm 23:4a “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my” (AFR20). En die terugvoer was dit: “Hierdie magtige verklaring verwoord ’n diepe vertroue in God se beskerming en sorg. Dit erken dat die lewe nie altyd maklik is nie en dat ons situasies in die gesig mag staar wat ons oorweldig en bang laat voel. Maar die psalmskrywer herinner ons ook dat ons nie alleen in hierdie momente is nie. God is met ons en loop langs ons deur die donkerste kloof” (ChatGPT, my vertaling).
Drie opmerkings hieroor. Eerstens, kunsmatige intelligensie is duidelik daartoe in staat om ’n preek te formuleer wat gedifinieer kan word as instruktief. Wat hier gepreek word is inderdaad korrek in ’n tegniese sin van die woord. Daar is instruktiewe verduideliking. Die teks handel oor ’n diepe vertroue in God. Die lewe is van so aard dat moeilike omstandighede op ons pad kom. Ons word herinner dat ons nie alleen is nie. God is met ons. As ek nie verkeerd is nie, mag ons almal al sulke instruktiewe prediking teëgekom het in eredienste. Dalk was daar selfs ’n tema wat die prediker aan die begin van die preek aangekondig het, net soos wat ChatGPT die tema van “troos” bygesit het – sonder my instruksie om so te doen.
’n Tweede opmerking. Alhoewel die preek inderdaad tegnies korrek is as ’n beskrywing van die teks, is dit juis op hierdie punt relatief vervelig en sonder verbeelding. Toe ek dit vir ChatGPT uitwys, en vra dat ek graag ’n meer verbeeldingryke preek wou hoor, was die volgende sin bygesit: “Ons word uitgenooi om onsself te verbeel op ’n gevaarlike pad” (ChatGPT, my vertaling). Goeie poging, maar nie juis daar nie. Ek dink dit is veral op die punt van verbeelding waar ChatGPT sukkel. Dit is alles goed en wel om ons aan te moedig om vreesaanjaende en oorweldigende situasies te “verbeel”. Maar ek is nie oortuig dat verbeelding so werk nie, soos asof die woord “verbeel” ons bloot aktiveer om te verbeel. Verder is dit goed en wel om te beskryf dat hierdie teksgedeelte handel oor vertroue in God, maar inspireer dit vertroue in God? Dit is moontlik om bloot te beskryf dat God met ons is, maar bevorder dit die ervaring van God se teenwoordigheid?
Derdens is kunsmatige intelligensie tog ’n behulpsame bron vir onderrig. Hier is my punt, ChatGPT se prediking wys ons hoe prediking nié moet wees nie. Predikers is tot meer in staat as dit en behoort ook tot ’n hoër standaard gehou te word as die prediking wat kunsmatige intelligensie kan genereer. Dit is ’n bekende opmerking dat prediking drie take het: Om te leer, om te verbly en om te inspireer. Indien prediking slegs leer, sonder vreugde of inspirasie, is daar inderdaad ’n krisis van prediking en is daar geen verskil tussen ons en die robotte nie, as ons nie alreeds slegs robotte geword het nie.
Dalk, net dalk, kan ons woorde vind wat meer doen as kunsmatige intelligensie. Hier volg ’n ekstrak uit ’n preek geskryf in ’n preekklas deur studente oor dieselfde vers:
Eerstens, ek gaan die kloof binne.
Net ek.
Alleen, sonder ’n metgesel.
En dit is nie soos asof ek ’n Jimny het nie.
Daar is geen veilige ruimte vir my nie,
blootgestel en kwesbaar.
Tweedens, ek gaan die kloof binne.
En soos ons weet is ’n kloof nie soliede grond nie.
Dit is nie die euforie van die berg nie.
Dit is die beweging afwaarts,
in die dieptes in,
na die onbekende,
ons kan selfs sê:
na hel.
Dan derdens, hierdie kloof is die donkerste.
En as jy jouself hier sou vind,
sou ek nie verbaas wees om paniek op jou gesig te sien nie.
En bewing deur jou hele liggaam.
Maar, hierdie is nie waar ons teks eindig nie.
Hier is nie waar ons gelos word nie.
Hier, alleen,
paniekbevange en bewend.
Daar is meer, daar is goeie nuus!
“Is ek nie bang vir gevaar nie,
want U is by my.”
U is my Herder, o Here.
U troos my.
Soos ’n moeder haar kind vertroos.
Terwyl die weerlig naby slaan,
en die wind die bome insluk.
U hou my in U arms.
En skielik verdwyn my vrees.
U is my Herder, o Here.
U begelei my.
Soos wyses jongelinge begelei,
van onkunde na kennis.
Van donkerte na lig.
Van dood na lewe.
En skielik word my vrees moed.
U is my Herder, o Here.
U berei ’n helder toekoms vir my.
Soos ’n gasheer vir ’n gas die tafel voorberei.
’n Beker wat oorvloei met geleentheid.
’n Bord vol van lewe.
’n Bak van seën.
En skielik word my vrees hoop.