Die Heidelbergse Kategismus se derde deel handel oor dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is.
Dan by Sondag 36 en verder vind ons die volgende:
Vraag 99: Wat eis die derde gebod?
Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek (a), deur ‘n valse eed (b) of deur onnodig te sweer nie (c). Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons reg bely (f), aangeroep (g) en in al ons woorde en werke geprys word (h).
(a) Lev 24:15, 16. (b) Lev 19:12. (c) Matt 5:37; Jak 5:12. (d) Lev 5:1; Spr 29:24. (e) Jer 4:2; Jes 45:23. (f) Matt 10:32; Rom 10:9, 10. (g) Ps 50:15; 1 Tim 2:8. (h) Kol 3:17; Rom 2:24;1 Tim 6:1.
Vraag 100: Is dit dan só ‘n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en verbied nie?
Antwoord: Ja, seker (a), want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie.
Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf (b).
(a) Spr 29:24; Lev 5:1. (b) Lev 24:16.
Pla dit jou nog as jy hoor hoe daar in flieks, ensovoorts, in Jesus se naam gevloek word? Gee iemand nog om oor die vloek van ons Verlosser se naam? Dalk is mense net so besig en aan die hardloop dat dit die minste is vir veral sekere mense om oor hartseer te wees. Ja, pla dit jou? Ons kan slegs begin om die vraag te beantwoord deur eers na jou eie hart te kyk, dalk te kyk na jou verhouding met Jesus Christus. As jy nie in ’n verhouding met Hom leef nie, sal dit jou ook nie pla nie. Die belangrikste vraag is: Wat doen ‘n gevloek en die bespotting van God aan jou in jou binneste? Doen dit iets aan jou? Raak dit jou as God se Naam misbruik word? Maak dit jou nog seer as die Heilige Naam van God gelaster word?
Dit behoort elke ware kind van die Here bitter seer te maak as my en jou Verlosser se naam gebruik word om te vloek. Dink net die arrogansie om in Sy Naam te vloek.
Daar word gevloek in ons Verlosser se naam, die Naam bo alle name, Hy is die Koning van alle Konings. Hy is die Alfa en Omega, die begin en die einde, sê die Woord vir ons in Openbaring 1:8.
Dit maak baie van ons so baie seer en so kwaad as daar blatant gevloek word in Jesus se naam. Daarom die beswaar en teregwysing van die media en flieks wat blatant in Jesus se naam vloek.
Elke gelowige sal dadelik kan dink aan mense of plekke waar die Here se Naam ydellik gebruik word. Tog word ons in die wêreld waarin ons leef, op ’n daaglikse basis, deur die media gekondisioneer. Die hoeveelheid flieks waar die naam van God, Here, Jesus en Jesus Christus nie as uitroepe en vloeke gebruik word nie, kan mens op jou een hand tel. Niemand gebruik Allah, Mohammed, Boeddha of enige ander afgode se name as ’n kragwoord nie. Hoekom dan Jesus se Naam gebruik?
Ek luister na ‘n volslae ateïs wat ’n nadoodse ervaring gehad het, wat skrikwekkende getuienis lewer van hoe hy in sy nadoodse ervaring geteister word deur afskuwelike gedrogte en wanneer hulle hom aanval, roep hy Jesus se naam uit en elke keer deins hulle terug met die aanhoor van die Naam van Jesus.
Ons leef in ’n wêreld waar alles maar reg is, waar dit voel asof niemand meer opstaan vir wat reg is nie.
Mag jy, wat nou hier lees, opstaan vir jou Jesus oral waar jy gaan en saam bid vir herlewing sodat mense sal terugkeer na die Here en Sy Woord, asook om die Here se Naam te Heilig.
Hierdie is ‘n opiniestuk. Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van NG Kerk Vrystaat nie.