In die vorige uitgawe van Vrypos beskryf ds Jan Lubbe die heilige grond as: “’n Geheimenis tussen God en die geroepene.” Dit was in die aanloop tot hierdie skrywe dat my oog op die bogenoemde aanhaling geval het.
In die ervaring en opdrag om geestelik te begelei, kom jy agter dat ‘n mede-gelowige jou toelaat om op die “heilige grond” van hul “lewe in Christus” te deel. Dit is ‘n plek van kontraste: die pendulum swaai tussen trane en lag, hoop en vertwyfeling en oopmaak en toemaak. Die fyn luister, die stille gehoor gee, die wink na ‘n moontlike ander perspektief, bring dikwels die een wat begelei tot ootmoed. En algaande word jy bewus dat jy wat begelei, eintlik die een is wat gelei word. Die seën wat die begeleide ervaar, word ruimer en ryker beleef deur die een wat begelei.
Hierdie waarheid het algaande my vreugde geword en die voorreg om ‘n getuie te wees van my naaste wat soek om die wil van Christus te ken.
Geestelike of spirituele begeleiding is ‘n dissipline wat uiteindelik ook in die Gereformeerde kultuur van ons gemeentes posvat. Die moeisame proses om hierdie handeling te vestig is die afgelope paar jaar, met ruim opbrengs, herken en aanvaar.
Daarom aanvaar ek ook met dankbaarheid my plek as verteenwoordiger en sameroeper van die Netwerk vir Geestelike Begeleiding in die NG Kerk in die Vrystaat. Magdaleen du Toit het hierdie amp beklee en sy is nou betrokke by die jeug van die Ha Phororo Jeugretreat by die Good Shepherd-kompleks in Hartebeespoort.