ʼn Mens sou maklik met goeie rede aan Christus se Hemelvaart as ʼn onttrek en ʼn vertrek kon dink, maar dalk dui die eintlike betekenis van die gebeure en fees veel eerder op die teendeel. In plaas van so ʼn soort Groot Trek wat hier plaasvind, is daar dalk veel eerder sprake van ʼn verdere, algaande en blywende wending wat ons gaan intrek, omtrek en voltrek. By beide kante gaan dit weliswaar daaroor om te trek, maar die trek geskied duidelik in verskillende rigtings.
Eersgenoemde interpretasie (lees: misverstand) is byvoorbeeld te sien in die eerste van twee soorte vrae aan die begin en einde van Jesus se Hemelvaart in Lukas se Handelinge-teks. Eers begin dit met daardie nasionalistiese teruggryp-en-verlange van die dissipels wat vra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Hierdie soort vrae kan maklik posvat wanneer voorafgaande en daaropvolgende wendings in die verhaal vergete raak. (Veertig dae is immers ʼn lang tyd! En om nie eens te praat van wat dag vyftig vir ons inhou nie!) Anders gestel, die oomblik wanneer Christus se Hemelvaart nie meer skarnier tussen Opstanding en Pinkster nie, kan die beweging daarvan maklik sy koers en rigting verloor. Of, kom ek stel dit so: Hemelvaart sonder Opstanding laat ons rigtingloos, en Hemelvaart sonder Pinkster is misleidend. Dit is nóg Sy onttrek, nóg Sy vertrek – Hy is hiermee veel eerder besig om Sy verhaal en skrywe van ons lewens te omtrek en te voltrek. Reste van die ou manier van dink skuil nog in daardie vraag van die dissipels, maar God verlang en begeer om Sy liggaam en Ryk só te voltrek dat beide Jood en heiden daarin omtrek sal word. Die gevolgtrekking is niks anders nie as dat ons hierin ingetrek word.
Teenoor bogenoemde inleidende vraag van die dissipels aan die begin hoor ons ook van die engele wat teen die einde krities vra: “Waarom staan en staar julle na die hemel?” Anders gestel: “Het julle gehoor van die voorafgaande en blywende wending wat onder meer vertel: ‘Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld’”? Kortom, as ons dan nie gaan teruggryp en verlang na vroeëre ideale nie, wat daarvan dat ons dan liefs eerder onttrek deur te staar na die hemele? Sulke starre bewondering is inderdaad ʼn groot versoeking vir die dissipels, maar van korte duur deurdat die engele dit vinnig kom kortknip. Die wonder, krag, majesteit, heerlikheid en verborgenheid van die gebeure is voorwaar voortreflik, maar dit moet uiteraard nie losgemaak word van die skopus en fokus op elke duimbreedte van ons bestaan waarin Hy nou met ons inbeweeg nie. Christus se Hemelvaart verteenwoordig in hierdie sin nie Sy vertrek en onttrek van die aarde nie, maar juis Sy regering wat Hy deur sy Gees in óns oor die aarde wil voltrek. Sy opwekking dui inderdaad op Sy liggaam wat in beweging is en nou voort-tabernakel in die wêreld deur allerlei mure en grense wat in sy kruisdood afgebreek is, weg te vee, pad te maak en algaande voort te beur, onderweg na Sy telos én uiteinde met ons.
Net soos die beweging na die hemel verband hou met elke uithoek en duimbreedte van die aarde, so ook hou ons daaglikse, onmiddellike aanbidding van Christus ten nouste verband met die reis en beweging hier op aarde. Wie ook al die oog op Christus se (Opstanding en) Hemelvaart (en uitgestorte Gees) rig, kan nóg hul oog van Sy aarde afhaal, nóg agtergelaat word in die proses, nóg vasval met Hom. Die Hemelvaart steek ʼn drempel oor en dui op beide Christus en Sy volgelinge se dinamiese beweging vorentoe in die voltrekking van God se bestemming met ons. Só word ons lewens voorwaar-en-voorwaarts bestem om getuies te wees van Hom wat besig is om alles te voltrek … ja, te omtrek.