Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die ghoeroe en die gesig van Jesus

Deur dr Enrico Casaleggio, leraar van NG Gemeente Fichardtpark

‘n Wonderlike geleentheid om die Evangelie te deel met ’n Hindoe-ghoeroe het heel onverwags oor my pad gekom.  Nou onlangs besoek ek weer met ’n groep katkisante die oudste Hindoetempel in Durban, trouens die oudste een op die kontinent.

Aangesien ek al dikwels hierdie tempel met katkisante besoek het, en selfs al die geleentheid daar bygewoon het waar Hindoes oor die kole loop, is ek al ’n ou bekende vir die ghoeroe. ’n Man in sy laat sestigs. Kenmerkend van hom is dat hy net een siende oog het. Die ander een is ’n pêreloog. Soos die meeste Hindoes het hy ook ’n kolletjie op sy voorkop, wat ietwat vreemd lyk tussen die oog en die pêreloog.

Hy groet almal in die groep vriendelik en veduidelik waar ons ons skoene moet los voordat ons die tempelterrein betree. Sommige van die meisies, wat na sy oordeel nie geskik geklee is om die tempel binne te gaan nie, kry ’n sari (‘n Indiese kledingstuk) om om hulle te draai.

Redelik aan die begin van die toer vertel hy dat ’n gesin Hindoes wat by daardie tempel aanbid, hom ’n week vantevore gekontak het omdat hulle ma op sterwe lê. Hulle het hom gevra om haar dringend te besoek om haar gereed te maak vir haar volgende lewe, vir haar reïnkernasie.

It is very important to meet the divine with a clean slate,” verduidelik hy. Hulle as ghoeroes het ’n belangrike rol om te vervul as ’n tipe ’n middelaar tussen die sterwende en die godewêreld. Sterwende persone het ook ’n klomp moets en moenies om na te kom, hulle het in werklikheid baie rekeninge om te betaal. Hulle moes byvoorbeeld al teen daardie tyd die mense wat hulle te na gekom het, om vergifnis gevra het. Soos die ghoeroe sê: “They must also clean their own slate where they can.

Dit is die ghoeroe se taak om die verkeerde wat die persoon gedoen het voor die gode te bring en die persoon rein na hierdie oorgang te lei. Hy is die laaste een wat die verantwoordelikheid het “to clean the slate”.

Hy vra my: “Wat glo julle as Christene? Het jy as predikant ook so ’n rol om te vervul by die afsterwe van Christene?  Moet jy ook mense in staat stel om die hiernamaals met ’n skoon lei in te gaan? Moet Christene ook swoeg en alles moontlik doen om met ’n skoon lei die volgende lewe in te gaan?”

Ek was verstom dat die Here net daar en dan vir my ’n geleentheid gegee het om te getuig. Ek kon nie glo dat ek so onverwags gevra is om die Evangelie te verduidelik nie. Dit was of daar ’n gordyn oopskuif. Ek struikel amper oor my woorde in my entoesiasme om die geleentheid te benut.

“Nee,” sê ek. “Ons hoef niks te doen nie. Ons maak ook nie self ons saak met die Here rein nie. Christus is die Een wat ons met God versoen het. Ons hoef dit nie self te doen nie. Trouens, ons kán nie. Ons moet dit net aanvaar dat Hy dit gedoen het. Ons gaan ook met ’n skoon lei na die Here, maar nie op grond van wat ons of enige persoon vir ons gedoen het nie. Ons moet net positief reageer op die Here se uitnodiging.”

Ek haal vir hom Jesaja 1:18 aan: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.”

Foto verskaf: Dieselfde lap van nader bekyk gee
die indruk dat daar ‘n gesig op is.

“Ons wag ook nie vir ’n sterfbedervaring nie,” verduidelik ek. “Die oomblik wanneer ek Christus se offer aan die kruis aanvaar, is ek gereed om die Here te ontmoet, selfs al sou ek daarna nog baie jare hierdie kant van die graf leef. Johannes 1:12 sê: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”

Tot my verbasing was die ghoeroe stomgeslaan. Dit kon tog nie die eerste keer wees wat hy van Christus en die kruisiging gehoor het nie. Wat hom wel geskud het, was die besef wat vir die eerste keer tot hom deurgedring het, naamlik dat Christene glo in ’n God wat alles vir hulle gedoen het. Dat hulle nie allerhande offers hoef te bring, oor kole hoef te loop en menslike tussengangers hoef te hê nie.

In ’n oomblik het dié wete tot hom deurgedring en hom oorrompel: ons verhouding met God het nie sy basis in wat ons vir Gód doen nie, maar dit wat God in Christus vir óns gedoen het. Hy is die Een wat die versoening bewerkstellig het.

Die ghoeroe het vir ’n hele rukkie stilgebly. Hy was duidelik baie diep geraak deur die boodskap wat hy gehoor het. Na ’n rukkie het hy weer bewus geword van die groep wat voor hom staan, en ná ’n verleë laggie het hy voortgegaan met sy aanbieding. Dit was egter duidelik dat die boodskap wat hy sopas gehoor het, in sy gedagtes bly maal het.

Met ons vertrek het hy ons vriendelik gegroet en vir my baie dankie gesê vir ons besoek – dat dit vir hom baie beteken het. Die kommunikasie tussen my en hom is beperk tot die reël van besoeke aan die tempel. Daardie aand kry ek egter weer ’n WhatsApp van hom. Dit was buite die gewone gang van sake. Meer ongewoon is dat hy my weer bedank het vir ons besoek. Hy het herhaal dat ons besoek vir hom baie beteken het.

Toe ons drie dae daarna veilig tuis is, kry ek weer ’n boodskap van hom: Hy wil maar net seker maak dat ons veilig is en hy wil weer beklemtoon dat ons besoek vir hom baie beteken het. ’n Boodskap wat my tot groot dankbaarheid gestem het.

Daar was egter ’n baie belangrike gebeurtenis wat tot hierdie verhaal aanleiding gegee het. ’n Verhaal wat ek doelbewus tot op hierdie punt verswyg het. En dit is dat kort voor ek die geleentheid wat ek gehad het om die Evangelie aan hom te verduidelik, daar ’n ander gebeurtenis was wat eintlik die tafel gedek het, sodat ek die getuienis wel kon lewer. 

Toe ons daar kom, was daar ’n boom by ’n altaar met ’n groot lap wat om die stam gedraai is. Die ghoeroe noem toe dat daar ’n veldbrand in die omgewing van die tempel was. Dié spesifieke lap was in die vuur. Hy het dit uitgeruk om te keer dat die veldbrand versprei. Daarna het hy die lap om die boom gedraai. Hy het dit eers nie besef nie, maar mense wat daar kom offer het, het vir hom gesê dat daar die onmiskenbare lyne van ’n gesig op die doek is, wat deur die vlamme daar gelaat is.

Hy vervolg dan deur te vertel dat die Hindoes wat daar kom offer sê dat dit die gesig van Jesus Christus is. Dan vra hy: “Pastor, what do you say?” Voor ek kan antwoord, gaan hy verder. Die mense sê dan vir hom dat Christus vir hom ’n boodskap het. Weer vra hy: “But pastor, what do you say? What do you say?”

Foto verskaf: Die boom by die altaar wat met
die lap toegedraai is
.

Toe ek uiteindelik die kans kry, sê ek vir hom: “Daar is twee dinge waarvan ek seker is: Eerstens dat die gesig op die lap nié die gesig van Jesus Christus is nie. Tweedens is ek seker dat Christus wél vir jou iets wil sê. Dat Hy wél ’n belangrike boodskap vir jou het.”

Min het ek geweet dat ek vyf minute daarna die wonderlike boodskap van verlossing in Jesus Christus aan hom kon oordra.

Christus het dus inderdaad ’n belangrike boodskap vir die ghoeroe gehad. Christus het egter ’n baie belangrike boodskap vir die totale mensdom. Mense wat rondom ons woon. Ander wat dalk ver van ons woon. Mag die woorde van 2 Petrus 3:9 ons nie met rus laat nie, sodat ons die Evangelie na almal sal neem: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”

116 | Maatskaplike NOODLYN