Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die dag toe ’n Moslem-weermag hulle in Dracula vasgeloop het (nr 1)

Deur dr Enrico Casaleggio, Islam Getuienisaksie

Met die eerste oogopslag lyk die titel van hierdie artikel asof daar geen waarheid in kan steek nie. Wel, in Engels is daar ’n uitdrukking “fact is sometimes stranger than fiction”. Hierdie is een van daardie gevalle. Dit is egter noodsaaklik dat ons eers na die agtergrond van die verhaal kyk, voordat ons by die genoemde veldslag uitkom.

Die wêreld het die naam Dracula leer ken na aanleiding van die gruwelverhaal met dieselfde naam, geskryf deur die Ierse skrywer Bram Stoker. Dit sal ons baat om ’n oomblik stil te staan by hierdie skrywer. Om sake effens vooruit te loop, Stoker het die naam Dracula raakgeloop as deel van ander geskrifte waarop hy afgekom het, en gedink dié naam sal die karakter wat hy geskep het, goed pas. Die naam was gekoppel aan Vlad III (Vlad die Deurboorder), eertydse heerser van Wallachia. Stoker het nooit self Wallachia, die hedendaagse Roemenië, besoek nie en het die karakter van Dracula geskep deur jare se intense navorsing in biblioteke en deur inspirasie uit verskeie bronne te kombineer.

As ons chronologies kyk na die gebeure wat gelei het tot die ontstaan van Stoker se idee, dan begin dit in die somer van 1890 toe hy op vakansie na die kusdorp Whitby in Engeland gegaan het. Dit was hier waar die grondslag vir sy boek gelê is. In die Whitby-biblioteek het hy afgekom op ’n boek oor die geskiedenis van Wallachia en Moldawië, geskryf deur William Wilkinson. In hierdie boek het hy vir die eerste keer die naam Dracula teëgekom. Stoker het in sy eie notas neergeskryf dat “Dracula” in die Wallachiese taal “duiwel” beteken. Hy het dadelik besluit om die naam van sy hoofkarakter (wat hy oorspronklik “Count Wampyr” wou noem) na Count Dracula te verander.

Dit is belangrik om daarop te let dat Dracula mettertyd in Romenië die betekenis van “duiwel” gekry het. Dit het aanvanklik “draak” beteken en het juis verwys na ridders van ’n christelike orde, soortgelyk aan kruisvaarders, waaraan die koningshuis van Vlad III behoort het.

Voordat Stoker van Vlad die Deurboorder (Engels: impaler) gelees het, was hy reeds gefassineer deur Oos-Europese geskiedenis en volksverhale. Hy het destydse akademiese artikels bestudeer oor mites uit Trans-Silvanië, waar mense geglo het in die strigoi – spoke of lewende dooies wat snags uit hul grafte opstaan om die bloed van die lewendes te drink.

Hoe het hy dan hierdie inligting met Vlad die Deurboorder in verband gebring? Hoewel Stoker bitter min geweet het van die werklike historiese besonderhede van Vlad III se lewe, het Wilkinson se boek wel genoem dat hierdie spesifieke heerser (Dracula) baie wreed was en teen die Turke (Moslems) geveg het. Stoker het hierdie historiese grepie gebruik om sy fiksie-graaf ’n ryk, koninklike agtergrond te gee. In die roman verwys Graaf Dracula self na sy glorieryke verlede waar hy oorloë teen die Ottomaanse Ryk gelei het. Die Ottomaanse Ryk was ’n magtige, multi-etniese Islamitiese ryk wat van 1299 tot 1922 vir meer as ses eeue oor dele van Europa, Asië en Afrika geheers het.

Terwyl Stoker in Whitby was, het hy gehoor van ’n ware skeepsramp wat ’n paar jaar vantevore (in 1885) daar plaasgevind het. ’n Russiese skip genaamd die Dmitry het in ’n hewige storm daar gestrand. Stoker het hierdie ware gebeurtenis byna presies so in sy boek gebruik: in die storie spoel Dracula se skip, die Demeter, tydens ’n spookagtige storm by Whitby op die strand uit, met slegs ’n massiewe hond (Dracula in vermomming) wat van die dek af hardloop.

Stoker was die bestuurder van die beroemde Lyceum-teater in Londen en die persoonlike assistent van die legendariese akteur Sir Henry Irving. Baie historici glo dat Graaf Dracula se dramatiese maniere, sy intense teenwoordigheid en sy aristokratiese voorkoms direk gebaseer is op Irving se eie intense persoonlikheid.

Deur al hierdie elemente – ’n ware historiese naam, Trans-Silvaniese volksverhale, die atmosfeer van Whitby, en die dramatiese flair van die teaterwêreld – bymekaar te gooi, het Bram Stoker in 1897 een van die beroemdste gruwelverhale van alle tye gepubliseer.

Ons kyk volgende keer hoe Vlad III met groot sukses oorlog teen die Ottomaanse ryk gevoer het en hoe hy selfs deur die Pous vereer is as beskermer van die Christendom.

Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting oor so ’n uireik by enrico.casaleggio@absamail.co.za

’n Reeks Islam-artikels. Hierdie artikel handel oor die ware historiese karakter, Vlad III, ’n heerser uit Roemenië, wat sy land teen die Moslems beskerm het. Bram Stoker het sy karakter “Dracula” op Vlad III gegrond (hoewel daar min ooreenstemming tussen die twee karakters is).