Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Deon Potgieter – hou die kers aan twee kante gebrand

“… die wins aan die ander kant was veel groter as die skynbare verliese aan hierdie kant van die etniese verdeeldhede.”

Emeritus Deon Potgieter, tot in Maart 2021 VGK-predikant van Heidedal-Suid, is een van die kleurrykste persone in ons NG Kerk-familie. Jy wíl hom beter leer ken, want sy lewenservarings, belangstellings en diepe insigte sal jou lewe verryk. Ons het met hom gaan gesels.

Deon is in Bloemfontein gebore as die oudste van vyf kinders van dr Steph en Sonia Potgieter. Hy het in Dan Pienaar grootgeword en voltooi sy laerskooljare aan die Laerskool Willem Postma. Aan die einde van 1970 verhuis hul gesin na Yorkweg en hy matrikuleer in 1973 aan Grey Kollege in Bloemfontein.

In ’n mens se vormingsjare is daar verskeie mense wat ’n groot invloed op ’n kind se lewe het. Deon vertel: “As kinders het ons die NG Gemeente Berg-en-Dal se Sondagskool bygewoon en dr MT Zeeman het as leraar ’n groot indruk op my as kind gemaak. My katkisasie was in Bloemfontein-Noord waar ek ook belydenis van geloof afgelê het. Ek is baie te danke aan my katkisasie-onderwyser, mnr Senekal.  As leraar het dr Burger ook ’n groot rol in my jongmenslewe gespeel.”

Deon se roeping as predikant het alreeds as jong tiener begin: “My paadjie het met die CSV sedert my Graad 10-dae gekruis,” vertel Deon “en ek het talle vakansiekampe in Aliwal-Noord meegemaak met wyle mnr Smuts aan die stuur van sake. Hieruit het stranddienste by Groot-Brakrivier vir drie jaar (1972 tot 1974) gevolg. Dit was tydens die eerste stranddienskamp (aan die einde van my Graad 11-jaar) waar ek die roeping tot die bediening begin ervaar het. Dr Burger en ds Schoonnees van die NG Gemeente Bloemfontein-Noord, waar ek as jong lidmaat betrokke was, was baie ondersteunend in die ontluikende roepingsgevoel en die Admissiejare aan die Universiteit van die Vrystaat.”

Hierdie Christelike grondslag is verder op Universiteit gevoed. “As voorgraadse student was ek baie by die NG Gemeente Bloemfontein-Noord se jeugaksie betrokke,” vertel Deon. “Ons het onder andere heelwat uitreikwerk in die Floradale-omgewing saam met evangelis Ds Bees gedoen.”

Deon behaal sy BA (Admissie) in 1976 aan die Universiteit van die Vrystaat met Grieks en Hebreeus as hoofvakke waar veral prof Laubscher (Semitiese Tale), mnr Cronje (Grieks) en later prof Snyman (Grieks) in sy tyd diep spore getrap het; ook prof Von Delft (Duits).

Deon vertel: “Ek studeer teologie aan die Universiteit van Pretoria vanaf 1977 tot 1980. Saam met die teologie het ek ook ’n BA Honneurs in Semitiese Tale gedoen (1977 tot 1978). In hierdie tyd het prof Jimmy Loader ’n onuitwisbare indruk op my gemaak. Op die gebied van teologie het prof Andri du Toit (Nuwe Testament) die grootste bydrae ten opsigte van my vorming gemaak. In my laaste twee jaar by die Fakulteit Teologie het ek deeltyds vir prof David Bosch by UNISA gewerk. Dié werk het onder andere die skryf van artikels vir die tydskrif Missionalia behels; ’n nuwe wêreld is vir my ontsluit.

“Tydens my Pretoria-studiejare het prof Dawid Bosch en sy vrou, Annemie, baie vir my beteken. So ook prof Willem Joubert (Regsgeleerdheid – UNISA) en sy vrou, Hulda, by wie ek vir drie jaar loseer het. Die SACLA-konferensie van Julie 1979 was ’n groot vormende gebeurtenis in my lewe. My paaie het ook gekruis met dr Hennie Möller van die NG Kerk in Afrika (NGKA) Mamelodi-gemeente. My kontakte met dr Piet Meiring, dr Willem Nicol (studenteleraar) en dr Willem Saayman (UNISA) het ook vormende invloede op my lewe gehad. My skoonpa, wyle ds CUL Fick van die NGKA Merafong in Welkom en sy bediening onder die mynwerkers saam met dr Stef Skeen, het ook ’n groot bydrae gelewer om my ontluikende belangstellings te versterk.

“In 2000 het ek Latyn begin leer onder leiding van wyle dr Dirk Coetzee onder die Latina 2000-vaandel. Dit het my aangespoor om Latyn III en toe Latyn Honneurs onder dr Johan Cilliers en prof Louise Cilliers aan die Universiteit van die Vrystaat te behaal.”

Nadat Deon in 1980 gelegitimeer is, begin hy sy beroepslewe aan die Justo Mwale Teologiese Skool van die Reformed Church in Zambia in Lusaka. “Van April 1981 was ek dosent (Bybelwetenskappe en later kerkgeskiedenis en sendingwetenskap) by Justo Mwale,” vertel Deon. “Dit was ’n baie interessante ondervinding, ’n uitdagende tyd, maar ook baie stimulerend.”

In April 1983 het Deon en sy vrou, Alta, as gevolg van hul oudste seuntjie wat vroeggebore was en spesiale ondersteuning nodig gehad het wat nie in Zambië beskikbaar was nie, ’n beroep na Heidedal-Suid (as destydse NG Sendingkerk) aanvaar. Hier was hy werksaam tot sy emeritaat, einde Maart 2021.

“Die Konsepbelydenis was dadelik op mens se tafel,” vertel Deon. “My Missionalia agtergrond, Pretoria-vorming en jarelange kontak met mense aan die ontvangkant van apartheid het my voorberei om hierdie belydenis heelhartig te onderskryf. Die oplaaiende verset teen die destydse staatsbestel was ook die voortdurende klankbord vir die Konsepbelydenis.  Ons as huisgesin het allerhande doodsdreigemente ontvang en snaakse insidente het hul afgespeel in daardie jaar – ’n duidelike intimidasieveldtog deur die Veiligheidspolisie.  In 1985 is ek op ’n dag skielik opgeroep vir militêre diensplig in die Infanterie Bataljon van Tempe. Ek was ‘n ingeskrewe student en kon dit vir nog ‘n jaar uitstel.

“Dit was duidelik dat ek nou ’n keuse moes maak. Ek het aansoek gedoen om as godsdiensbeswaarde geklassifiseer te word. Al my pogings om diensplig gedoen te kry by die hospitale van die stad het op niks uitgeloop nie. In die winter van 1987 het ek aangemeld by die Departement van Openbare Werke as klerk in die verhuringsafdeling.  Ek het voortgegaan om, waar moonlik, steeds die ‘voltydse’ leraar van Heidedal-Suid te wees. Hierin het die ring my sterk ondersteun.

“Presies ná ’n jaar by Openbare Werke, moes ek kantoorruimte huur vir die Veiligheidspolisie. Groot was die kolonel se verbasing toe hy my as klerk van Openbare Werke ontmoet! Dit was ‘n Woensdagmiddag. Die Vrydag is ek ingeroep en meegedeel dat ek voortaan in Glen Landbou Kollege my diensplig sal voortsit. Toe begin ’n nuwe ervaring. Ek was stoorklerk by die voorrade-afdeling en moes letterlik papiere tel en die stoor se voorraad staatsdiensvorms regpak.

“Met die dood van ds Lindo Pieters se seun, het dr Neels Conradie, een van die junior mediese superintendente by Pelonomi Hospitaal, met my gesels oor die Glen-situasie. Hy het dadelik daarvan werk gemaak dat ek na Pelonomi verskuif. Hy het my geplaas in die kantoor van die hospitaal se maatskaplike werker en opdrag gegee dat ek my eie pligstaat skryf! Vir my was hierdie jaar in die hospitaal sekerlik een van die mees aangrypende en vervullende jare van my lewe ten spyte van die geweldige druk om die kers aan twee kante te moes brand: Gemeente en diensplig. Die Sotho wat ek in my Kovsiejare gedoen het, het nou handig te pas gekom. Dithapelo ka Sesotho! Uiteindelik het FW de Klerk se aankondigings in 1992 die diensplig beëindig. Ek het baie swaar afskeid geneem van die hospitaal.”

Deon het sy passie vir die ekumene wat hy by prof Dawid Bosch ontvang het, dadelik in Heidedal begin uitleef. “Ons het baie gou met ’n maandelikse gesamentlike aanddiens op die tweede Sondagaand van elke maand tussen Heidedal-Suid, die Metodiste, Lutherse, Anglikaanse en Rooms-Katolieke kerke begin. Ons eie kerkgebou was vir ’n periode die vergaderplek vir die Rooms-Katolieke gemeente in die Opkoms-area van Heidedal se weeklikse biduur. Vader Hahn, ’n ou Duitse sendeling, was tot met sy uiteindelike aftrede die priester in Heidedal. Ek het kosbare herinneringe aan baie gesprekke met die eerwaarde Vader. Die gesamentlike diens het voortgeduur tot die Covid-inperkings van 2020. Ons informele leraarsforum in Heidedal waaraan vader Oswald Swarts (nou Biskop van die Anglikaanse Kerk in die Noord-Kaap) en eerw Ivan Abrahams van die Metodiste Kerk deel gehad het gedurende die 1980’s, was kosbare geleenthede.

“As ring van Heatherdale van die NG Sendingkerk het ons ook veels te veel kritiese vrae aan die sendingsekretarisse van die middel tagtiger jare gevra. Dermate dat daar op ’n stadium gedreig is om ons salarissubsidies te staak – ’n boeliepraktyk waaronder baie NG Sendingkerk-leraars in die destydse Kaapprovinsie deurgeloop het.

“Dit was ’n onvergeetlike belewenis tydens die sinodesitting van die NG Sendingkerk van September 1986 toe die Belydenis van Belhar aanvaar is.  Hierna was die dringende saak van kerkeenheid duidelik ’n hoofpunt op die agenda. Ons as Ring van Heatherdale het baie moeite gedoen om kontakte met die NGKA te vestig en te pleit vir kerkeenheid.  Die 1990 NG Sendingkerk Sinode het duidelike momentum daaraan gegee.  Ongelukkig het die politieke winde wat toe oor ons land stormsterkte bereik het, die hele kerkeenheidsproses in die NG Kerk-familie in ’n letterlike drukgang geplaas met die negatiewe gevolg van kerkskeuring saam met kerkeenheid na 1994.

“In 1995 is ek saam met ds Kees Appelo, ds Molete van Welkom en ds Dladla van Phuthaditjhaba deur die moderatuur van die VGKSA se Algemene Sinode gevra om as Ordekommissie ’n streeksinode vir die Vrystaat van die VGKSA saam te roep. In September van daardie jaar het die eerste vergadering van die VGKSA Streeksinode Vrystaat en Lesotho in Thabong-Oos-gemeente plaasgevind. Ek is gekies as scriba synodi, asook tydens die daaropvolgende sinodesitting in Kroonstad.

“Uiteindelik het die Ring van Heatherdale besluit om te ontbind en in te skakel by die VGK Streeksinode se geografiese ringe. Dit was ’n stap wat nie altyd die beste uitkomste vir ons Afrikaanssprekende lidmate in die ‘diep’ platteland gebring het nie. So het ek in 2007 betrokke geraak by die groepie lidmate in Springfontein as konsulent van Springfontein-Bethulie. Om vir hulle ’n kerklike bediening te verseker, het ons hulle as individuele lidmate in 2012 opgeneem en ’n wyk van die gemeente gemaak. Ek is steeds maandeliks by hulle met eredienste en so nou en dan op ’n Woensdag met huisbesoeke, kinderwerk en ’n biduur betrokke. In 2015 het die groepie lidmate in Ebenhaezer Hoogte, Wepener, ons Ring van Bloemfontein genader en gevra om ’n gemeente van die ring te word. Uiteindelik het hulle in 2016 besluit om liewers net ’n wyk van Heidedal-Suid te wees. Ek is ook tot vandag toe by hulle betrokke met ’n maandelikse erediens. Ek was ook van 2015 tot met my emeritaat die konsulent van die VGK Gemeente Noordmansville in Trompsburg.

“Een stukkie kosbare arbeid met baie kosbare herinneringe was die tak van die Christelike Alkoholiste Bond (vandag die Christelike Afhanklikheidsbediening) wat ek in 1984 gestig het. Dit was ’n bediening van die destydse NG Sendingkerk wat voortgesit is in die VGKSA. Van meet af aan was die probleem van alkoholisme en die verwoestende aard daarvan op gesinne se lewens en groei ’n saak waarvan mens as pastor nie kon wegstap nie.

“Later jare het die kantoor van Heatherdale Diakonale Dienste geskuif na die huis langs ons kerkgebou. As jarelange sekretaris van die bestuurskomitee kon ek beleef hoe hierdie maatskaplike werkdiens gegroei het van een maatskaplike werker na die vier van vandag op die terreine van gesinsorg (statutêre werk), slagofferbemagtiging (die Victim Empowerment Project wat uitreik na die slagoffers en sekondêre slagoffers van geweld) en ’n wegwendingprojek vir jeugoortreders, naamlik Kinders-in-Konflik-met-die-Gereg. Diakonale Dienste word befonds deur staatsubsidies, maar ongelukkig dek dit nie naasteby alles nie. Ek is baie trots op die kerkraad van Heidedal-Suid wat op hul koste deur al die jare die infrastruktuur vir hierdie werk daargestel het.”

Vra jy vir Deon om iets oor sy kruis-kulturele ervarings met ons te deel, antwoord hy as volg: “As dit kom by kruis-kulturele werk, moet ek sê is daar geen kortpaaie nie. Mens moet jouself verbind tot jou ‘nuwe familie in Christus’ en jou verbintenis gestand doen.  Hierdie verbintenis het as gevolg van apartheid en sy taaie nalatenskap meegebring dat mens baie moes prysgee. Maar die wins aan die ander kant was veel groter as die skynbare verliese aan hierdie kant van die etniese verdeeldhede.”

Ander invloede op Deon se roepingsbewustheid deur die jare was ’n DVD wat hy met die 500ste herdenking van Calvyn se geboortedag in 2009 gekoop het, Witherspoon Press se John Calvin His life & legacy, ’n film van Vernon Leat en Blake Richter. Dan is daar Kenneth E. Bailey se Poet & Peasant and Through Peasant EyesA literary-cultural approach to the Parables of Luke. (1984 Grand Rapids: William B Eerdmans). “Ek is ’n groot aanhanger van Brevard S. Childs, die oorlede reus van Yale in die Ou Testament-wetenskap,” vertel Deon. “Ek moet ook sê dat die blootstelling aan die Latynse letterkunde vir my van onskatbare waarde was. Ek bly ’n student van die klassieke en probeer weer my Hebreeus en Siries optof. Jean Vanier, die stigter van die l’Arche, bly ’n baie groot inspirasie.”

Deon se droom vir die kerk word verwoord in VGK Heidedal-Suid se visie wat in 2000 geformuleer is: ’n Geestelike tuiste vir almal waar jy jou roeping in God se Koninkryk kan uitleef en die missie: Dien die Here, ondersteun mekaar, gee om vir alle mense, versorg die skepping!

“Ongelukkig bly dit meesal nog net ’n visie- of missie-standpunt-inname, gegewe die kerklike situasie van ons NG Kerk-familie. Ons is nog baie ver van die saamdien en –werk in en vir die Koninkryk. Die nalatenskap van apartheid het myns insiens nog ’n baie sterk leefkrag. Ons is op Sondae steeds ’n duidelike rasgeskeide geloofsgemeenskap. Dit was ook ’n baie groot fout om die NG-gemeentes in die strukture van die Gesamentlike Getuieniskommissies só in te deel dat die verdeling VGK/NGKA voortgesit is. Ek hoop regtig dat die saamstudeer in teologiese opleiding ’n geslag studente die kerk sal instuur wat as herders en leraars anders sal dink en optree as die patroon wat vir hulle neergelê is.”

Een van Deon se grootste belangstellings is botanie. Hy vertel: “My ouers was lede van die Botaniese Vereniging en my pa was ook lank voorsitter van die Vrystaat-tak hier plaaslik. Ek moet egter sê dat die twee jaar in Zambië skielik die dormante belangstelling gaande gemaak het. Die bome van die Afrika-savanna het my uitgeboul. Net voor die boomgogga my heeltemal ‘boomkoors’ gegee het, moes ons terugkom na die Vrystaat.

“Toe word ons huiseienaars en daar is ’n tuin. Een van die eeste boeke wat ek gekoop het, was Kristo Pienaar se Plant inheems in 1985. Ek het aangesluit as lid van die Botaniese Vereniging en kwartaalliks die tydskrif Veld & Flora deur die pos ontvang.  Een van die lede-voordele van die Botaniese Vereniging was dat mens jaarliks ‘n kwota saad van die Kirstenbosch Saadkamer gratis kon kry. My kwota was 25 pakkies. Ek het dit van 1985 elke jaar ten volle opgeneem! Die Saadkamer het jaarliks ‘n saadlys publiseer met meer as 600 spesies om van te kies – oor die hele spektrum van inheemse plante. My eerste aanplantings was die winterreënstreek se eenjariges – my plek het soos Namakwaland in die lente begin lyk. Ek het sukses gehad met die kweek van Moraea aristata van die saadlys. Dit is ‘n winterreën knolplantjie wat al uitgesterf het in sy natuurlike habitat en nog net aangeplant word.

“Algaande is ek betrek by die komitee van die Vrystaat-tak van die Botaniese Vereniging en is helaas op pad om ’n instelling te word.  Ons land met sy 23 000 plantspesies het genoeg sodat jy nooit in ’n leeftyd verveeld kan raak nie. Die krimpende natuurlike habitat veroorsaak egter genoeg woede om jou lewenslank ’n entoesiastiese yweraar te maak vir die behoud van ons bio-diversitet.”

Deon is getroud met Alta Fick, dogter van die sendelingspaar, ds Uys en Marie Fick, wat onder andere ook in Zimbabwe en Zambië gewerk het. Alta is ’n afgetrede psigiatriese verpleegkundige. Deon vertel: “Ons het twee verstandelik erg gestremde seuns. Hulle is ook fisies gestremd. Steph is in 1982 gebore en Cornelis in 1984. Hulle woon steeds by ons aan huis. Cornelis benodig totale sorg en kan niks regtig vir homself doen nie. Hulle was albei leerders van die Lettie Fouché Skool. Tans maak ons kinders gebruik van Beulah van Aswegen se Beudene Sentrum in Rayton (die naaste aan ‘n l’Arche huis wat ons in die Vrystaat sal teëkom) se onmisbare dienste. Die kinders het ons lewens ingrypend verander – ver bo wat mens kan bid of dink! Hulle bly lewenslank van ons sorg afhanklik.”

Deon-Potgieter, sy-vrou Alta, en hul seuns Steph en Cornelis. Die foto is geneem op-28 Maart-2021 met Deon se demissie
116 | Maatskaplike NOODLYN