Deur Andries Gous, DEGNOS
Liewe vriende van DEGNOS
’n Seisoen van groei, toerusting en saamwerk
Die afgelope paar weke was dit weer duidelik hoe die Here deur mense, gemeentes en verskillende bedieninge in die DEGNOS-gebied aan die werk was.
Vriende van Tennessee Valley Community Church uit die VSA het Tsumkwe besoek en saam met DEGNOS hande gevat met evangelisasie-uitreike. Hulle het ook gehelp met die oprigting van ’n gemeenskapsgroentetuin by Aasvoëlnes, waar ds N!aici bedien. ’n Span van Worcester-Noord het op sy beurt in die Wes-Caprivi gehelp met die oprigting van ’n heining en ’n sinkhuis by die kerkie op Dije – deel van die gemeente se plan om weer ’n volhoubare bediening daar te vestig.
Die Luhebu-Noord-gemeente het op Omatako en Mangetti Duin deelgeneem aan die nasionale biddag wat deur Namibië se staatspresident, me Netumbo Nandi-Ndaitwah, uitgeroep is. Dit was ’n besondere geleentheid waar gemeentes saam voor die Here stil geword het.
Toerusting wat mense en gemeenskappe verander
Opleiding het steeds ’n groot deel van die bediening gevorm. Studente het in Grootfontein en Omega met die laaste opleidingsblokke van die jaar voortgegaan. Onderwerpe soos traumaberading, leierskap, beplanning volgens die boek Nehemia en praktiese gemeentebou is behandel.
Mentorskapsgesprekke is ook met studente gevoer om hulle geestelike en persoonlike groei te begelei. Die vrug van hierdie toerusting was reeds sigbaar – nie net in die lewens van die studente nie, maar ook in hulle gesinne, gemeentes en gemeenskappe.
Riana het intussen verdere opleiding tydens ’n Amos Meerkat Skool-slypskool in Windhoek ontvang, terwyl ’n DEGNOS-onderwyserslypskool in Grootfontein aangebied is. Die onderwysers is daarmee toegerus vir die laaste deel van die jaar.
Projekte wat begin vrug dra
Die bouwerk op Omatako het goeie vordering getoon. Die nuwe winkel was byna voltooi, die sonkragstelsel is geïnstalleer en werk aan die tweeslaapkamer-wooneenheid het voortgegaan.
Die winkel op Mangetti Duin het intussen bo verwagting presteer en het toenemend die potensiaal getoon om ’n betekenisvolle bydrae tot die gemeente se finansiële selfvoorsiening te maak. Hierdie projekte is daarop gerig om gemeentes te help om ’n eie inkomste te genereer en terselfdertyd die finansiële druk op plaaslike gemeenskappe te verlig.
Ook die gastehuise op Mangetti Duin en Tsumkwe het tydens die kultuurfees op Tsumkwe besonder besig geraak. Dank is uitgespreek teenoor die plaaslike spanne wat onvermoeid gewerk het om alles vlot te laat verloop.
Nuwe leiers word gevorm
In Tsumkwe is Temi en Kamashe as studenteleraars aangestel om saam met die plaaslike leierskap praktiese bedieningservaring op te doen. Frankie is ook as student-jeugwerker aangestel om saam met broer Mishe te werk en verder in jeugbediening ontwikkel te word.
Op Dije is Paulus Sikanduko beroep om moontlik leiding in die gemeente te neem. Hy het voor ’n belangrike tyd van onderskeiding gestaan om te bepaal of dit inderdaad die Here se roeping vir hom was.
Uitdagings én dankbaarheid
Die Wildevy-gemeente se grondkwessie op Tsintsabis het steeds uitdagings gebied. Gesprekke met regeringskantore het meer duidelikheid oor die wetgewing rondom staats- en kommunale grond gebring, hoewel die proses spanning en onsekerheid veroorsaak het.
Agter die skerms is daar ook voortgegaan met die jaarlikse finansiële oudit, as deel van DEGNOS se verbintenis tot finansiële deursigtigheid. Daar is verder hard gewerk aan die projekvoorlegging vir die beoogde Multidoel-opleidingsentrum aan Verre Naasten.
Te midde van al die bedrywighede het een boodskap telkens na vore gekom: die Here is getrou. Sy hand was sigbaar in mense wat bereid was om te gaan, te leer, te bou, te dien, te bid en saam te werk.
DEGNOS het daarom sy dank uitgespreek teenoor elke gemeente, ondersteuner en individu wat deur gebed, finansiële ondersteuning en praktiese betrokkenheid deel van die bediening geword het.
“Die Here is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid.”
Psalm 100:5
Gemeentes wat ’n uitreik na die DEGNOS-bediening in 2027 beplan, is gevra om hulle voorgenome datums so spoedig moontlik aan Andries by gousandries74@gmail.com deur te gee, sodat die 2027-kalender betyds gefinaliseer en teleurstelling voorkom kan word.
DEGNOS-groete
Bid asseblief vir hierdie twee manne, en bid dat die Here vir hulle getroue medewerkers sal gee wat saam met hulle op die oesland sal plant, skoffel en natgooi sodat die oes groot sal wees.
| Foto’s is deur Andries Gous, DEGNOS, verskaf.

