Deur ds Louwrens Scheepers, sameroeper van die DIDASKO VBO Netwerk (en “Stillepolis”-retraites) en leraar van NG Gemeente Philippolis
Gemeentes is gemeenskappe van mense. Ons aanbid saam, neem besluite saam, werk saam, verskil van mekaar en probeer saam onderskei wat getroue kerkwees in ons tyd beteken.
En juis omdat ons mense is, is dit nie altyd maklik nie.
Ons bring onsself saam kerk toe — ons persoonlikhede en geskiedenis, ons vrese en verwagtinge, ons seerkry, ons oortuigings oor wat reg en verkeerd is, en ons verskillende prentjies van hoe dinge behoort te wees. Dit alles kom saam met ons die erediens, kerkraadsaal, kommissievergadering en WhatsApp-groep binne.
Daarom gaan goeie kommunikasie in ’n gemeente oor veel meer as om die regte woorde te gebruik.
Dit gaan oor hoe ons teenwoordig is by mekaar.
Hoe ons luister wanneer iemand ánders dink as ons.
Wat in ons gebeur wanneer ons bedreig, gekritiseer of misverstaan voel.
Hoe ons met mag en verskil omgaan. Of mense veilig genoeg voel om eerlik te wees.
En of ons in moeilike gesprekke steeds die mens voor ons kan bly raaksien.
In hierdie reeks artikels wil ek saam met jou hieroor nadink. Ek gebruik die begrip Deernisvolle Kommunikasie, beïnvloed deur onder andere Marshall Rosenberg se werk oor Nonviolent Communication, maar ons gesprek gaan oor meer as ’n kommunikasiemodel of ’n stel tegnieke.
Die dieper vraag is: Wie is ek wanneer ek met jou praat — veral wanneer ons van mekaar verskil?
Ons sal kyk na die stories wat ons oor mekaar vertel, wat met ons gebeur wanneer ons getrigger word. Ons gaan eerlik gesels oor hoe maklik ons oordeel en blameer, oor ons gevoelens en behoeftes, verantwoordelikheid, empatie, grense, mag en konflik.
Maar deur alles loop een uitnodiging: om meer bewus te word van wat in my gebeur, sodat ek met groter deernis, eerlikheid en verantwoordelikheid tussen ons teenwoordig kan wees.
En daarom begin ons nie met ’n kommunikasietegniek nie.
Ons begin met ’n vraag: Hoe lyk die wêreld wat my woorde skep?
Artikel 1: Hoe lyk die wêreld wat my woorde skep?
Dink vir ’n oomblik aan die mense wat die naaste aan jou leef. Jou lewensmaat. Jou kinders. Jou vriende. Die mense saam met wie jy werk. Die mense saam met wie jy kerk hou.
Hoe voel die wêreld wat deur julle woorde tussen julle geskep word?
- Is dit ’n wêreld waarin mense veilig genoeg voel om eerlik te wees?
- Waar iemand van jou kan verskil sonder om bang te wees vir wat daarna gaan gebeur?
- Waar jy ’n fout kan erken sonder om verneder te word?
- Waar iemand “nee” kan sê en steeds weet dat hy of sy welkom is?
Of is dit ’n wêreld waarin mense leer om versigtig te praat?
- Waar jy mettertyd agterkom watter onderwerpe jy liewer vermy.
- Waar jy leer wanneer dit beter is om stil te bly.
- Waar ’n gesigsuitdrukking, ’n stemtoon, ’n skerp opmerking of selfs stilte genoeg is om jou te laat weet: Moenie verder gaan nie.
Ons dink waarskynlik nie dikwels so oor ons woorde nie. Ons dink aan kommunikasie as die manier waarop ons inligting uitruil: ek sê iets, jy hoor dit en jy antwoord. Maar woorde doen meer as dit.
Woorde skep iets tussen ons.
Het jy al gewonder wat tussen ons gebeur wanneer die volgende woorde gesê word?
- “Jy luister nooit na my nie.”
- “Wat is fout met jou?”
- “Jy behoort teen hierdie tyd van beter te weet.”
- “As jy regtig vir my omgegee het, sou jy …”
- “Sulke mense sal nooit verander nie.”
Soms kan hierdie woorde selfs die resultaat gee waarna jy gesoek het. Die kind gehoorsaam. Die ander persoon hou op argumenteer. Die vergadering beweeg aan. Die persoon wat verskil, het uiteindelik niks meer te sê nie.
Maar die vraag bly: Wat het tussen ons gebeur terwyl ek gekry het wat ek wou hê?
- Het my woorde ruimte geskep of afstand gebring?
- Het hulle jou nadergenooi of jou laat terugtrek?
- Het hulle nuuskierigheid wakker gemaak of jou laat verdedig?
- Het hulle jou gehelp om eerliker te word, of het jy geleer om volgende keer ’n bietjie meer van jouself weg te steek?
Hoe lyk die wêreld wat my woorde skep?
Dit is ’n ongemaklike vraag. En dit bring ons by ’n moeiliker vraag:
Het jy al ooit daaraan gedink dat ons woorde ’n wêreld kan help skep waarin mense onveilig voel — en dat geweld dalk reeds dáár begin, lank voor iemand ’n vuis lig?
Die meeste van ons beskou onsself waarskynlik nie as gewelddadige mense nie. Geweld is iets wat deur ander gedoen word. Dit is wanneer iemand slaan. Wanneer iemand aanrand. Wanneer mense wapens optel. Wanneer oorlog uitbreek.
Maar wat as ons te laat in die verhaal begin?
Wat as geweld lank voor die vuishou begin?
Wat as daar, voordat een mens ’n ander fisiek seermaak, reeds iets gebeur het in die manier waarop ons mekaar sien, oor mekaar dink en met mekaar praat?
Maar hierdie vrae vra dat ons nóg ’n tree teruggaan en ’n ongemaklike werklikheid in die oë kyk: Nog voordat die woorde by my mond uitkom, het daar reeds iets in my gebeur.
Daaroor gesels ons volgende keer.
Vir eers wil ek jou net met een vraag laat: Hoe lyk die wêreld wat my woorde skep?
Vir meer inligting kan ds Louwrens Scheepers gekontak word by louwrens@integernetwork.com

