Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Deernisvolle Kommunikasie: Hoe leef en praat ons met mekaar?

Deur ds Louwrens Scheepers, sameroeper van die DIDASKO, VBO Netwerk (en “Stillepolis”-retraites) en leraar van NG Gemeente Philippolis

Gemeentes is gemeenskappe van mense. Ons aanbid saam, neem besluite saam, werk saam, verskil van mekaar en probeer saam onderskei wat getroue kerkwees in ons tyd beteken.

En juis omdat ons mense is, is dit nie altyd maklik nie.

Ons bring onsself saam kerk toe – ons persoonlikhede en geskiedenis, ons vrese en verwagtinge, ons seerkry, ons oortuigings oor wat reg en verkeerd is, en ons verskillende prentjies van hoe dinge behoort te wees. Dit alles kom saam met ons die erediens, kerkraadsaal, kommissievergadering en whatsApp-groep binne.

Daarom gaan goeie kommunikasie in ’n gemeente oor veel meer as om die regte woorde te gebruik.

Dit gaan oor hoe ons teenwoordig is by mekaar.

Hoe ons luister wanneer iemand ánders dink as ons.

Wat in ons gebeur wanneer ons bedreig, gekritiseer of misverstaan voel.

Hoe ons met mag en verskil omgaan. Of mense veilig genoeg voel om eerlik te wees.

En of ons in moeilike gesprekke steeds die mens voor ons kan bly raaksien.

In hierdie reeks artikels wil ek saam met jou hieroor nadink. Ek gebruik die begrip Deernisvolle Kommunikasie, beïnvloed deur onder andere Marshall Rosenberg se werk oor Nonviolent Communication, maar ons gesprek gaan oor meer as ’n kommunikasiemodel of ’n stel tegnieke.

Die dieper vraag is:  Wie is ek wanneer ek met jou praat – veral wanneer ons van mekaar verskil?

Ons sal kyk na die stories wat ons oor mekaar vertel, wat met ons gebeur wanneer ons getrigger word.  Ons gaan eerlik gesels oor hoe maklik ons oordeel en blameer, oor ons gevoelens en behoeftes, verantwoordelikheid, empatie, grense, mag en konflik.

Maar deur alles loop een uitnodiging: om meer bewus te raak van wat in my gebeur, sodat ek met groter deernis, eerlikheid en verantwoordelikheid tussen ons teenwoordig kan wees.

En daarom begin ons nie met ’n kommunikasietegniek nie.

Ons begin met ’n vraag:  Hoe lyk die wêreld wat my woorde skep?

Artikel 2:  Die wêreld waaruit my woorde kom

In die vorige artikel het ons gevra:

Hoe lyk die wêreld wat my woorde skep?

Ons het begin raaksien dat woorde meer doen as om bloot inligting oor te dra. My woorde skep iets tussen ons. Dit kan ruimte maak of afstand bring. Dit kan veiligheid skep of jou op jou hoede laat wees. Dit kan jou nader nooi of jou laat terugtrek.

Maar daar is ’n ander kant aan hierdie vraag.

My woorde skep ’n wêreld tussen ons, maar my woorde word self gebore uit ’n wêreld binne-in my.

Dink weer aan ’n eenvoudige gesprek.

Ek praat met jou en terwyl ek praat, kyk jy na jou selfoon.

Dit is wat gebeur het. Maar amper onmiddellik begin daar iets anders in my gebeur. Stories begin in my kop afspeel:

  • Jy stel nie belang in wat ek sê nie.
  • Jy luister nooit regtig na my nie.
  • Ek is duidelik nie vir jou belangrik nie.

Dit gebeur so vinnig dat ek dikwels nie eens agterkom dat ek beweeg het van wat gebeur het na wat ek dink dit beteken nie.

En dit bly nie net ’n gedagte nie. Iets gebeur ook in my liggaam. Ek voel hoe die irritasie opkom. My kakebeen trek styf. Dalk voel ek seergemaak. Dalk word ek stil en trek terug. Of iets in my maak gereed om terug te baklei.

Teen die tyd dat ek uiteindelik sê:  “Jy luister nooit na my nie!” het daar reeds ’n hele gesprek binne-in my plaasgevind.

Oren Jay Sofer beskryf dit wat hier gebeur treffend. Kommunikasie gaan nie bloot oor wat ons sê nie, maar ook oor waarvandaan ons praat. Ons gedagtes, persepsies en emosies beïnvloed dikwels, sonder dat ons daarvan bewus is, die woorde wat ons gebruik en die motivering waarmee ons dit gebruik.

Maar selfs dit neem ons nog net ’n entjie terug.  Want wat in my gebeur wanneer jy na jou selfoon kyk, het ook ’n geskiedenis. 

Ek bring myself saam na elke gesprek.

Ek bring my opvoeding. My vorige seerkry. My ervaring van konflik. Wat in ons huis gebeur het wanneer iemand kwaad geword het. Wat ek geleer het oor gesag en gehoorsaamheid. Wat ek geleer het ’n goeie kind, ’n goeie man of vrou, ’n goeie Christen behoort te wees. My ervaring van behoort en verwerping. My idees oor reg en verkeerd. My stories oor mense soos jy.

Dit alles sit saam met my aan tafel wanneer ons praat.

Dalk kan ons dit vergelyk met die operating system (OS) van ’n rekenaar of slimfoon. Die meeste van die tyd dink jy nie eens daaraan nie. Dit loop stilweg in die agtergrond, maar beïnvloed hoe die programme werk en hoe inligting verwerk word.

Iets soortgelyks gebeur met ons.

Oor baie jare word daar in elkeen van ons ’n soort innerlike operating system (OS) gevorm — ’n netwerk van stories, aannames, oortuigings en aangeleerde patrone waarmee ons probeer sin maak van wat met ons gebeur.

Hierdie OS help my om dikwels blitsvinnig vrae te beantwoord:

  • Wat gebeur hier?
  • Kan ek jou vertrou?
  • Is ek veilig?
  • Wie is reg en wie is verkeerd?
  • Wat beteken jou gedrag?
  • Hoe behoort ek nou te reageer?

Ons het almal so ’n innerlike wêreld. Die probleem is nie dat ons interpreteer of stories gebruik om sin van die lewe te maak nie.  Die probleem ontstaan wanneer ek vergeet dat my storie ’n storie is.

Dan word my interpretasie vir my die werklikheid.

  • Jy het nie meer bloot na jou selfoon gekyk nie — jy respekteer my nie.
  • Jy het nie bloot van my verskil nie — jy is moeilik.
  • Jy het nie bloot vir my “nee” gesê nie — jy is selfsugtig.

En nou begin my woorde uit dáárdie wêreld kom.

Ons begin ontdek hoe diep gevormde patrone van taal en gedrag met aannames, projeksies en vooroordele verweef kan raak. Dit help ons verstaan waarom ’n paar nuwe kommunikasietegnieke waarskynlik nie genoeg gaan wees nie.

Ek kan nuwe woorde leer en steeds vanuit dieselfde ou plek praat.

Ek kan selfs leer om baie mooi, rustig en beleefd te praat — terwyl my eintlike doel steeds is om jou sover te kry om te doen wat ek wil hê.

Deernisvolle Kommunikasie begin daarom nie by die vraag:  Wat moet ek anders sê? nie.

Dit begin ’n tree vroeër:  Wat gebeur in my waaruit my woorde gebore word?

En wanneer ons daardie wêreld begin ondersoek, ontdek ons iets besonders. Al het ons in verskillende huise, gemeenskappe en kerke grootgeword, het baie van ons verbasend soortgelyke dinge geleer oor reg en verkeerd, goed en sleg, gehoorsaamheid, skuld, straf en beloning.

Dit is asof daar ’n groter OS is wat baie van ons saam geleer het.

Marshall Rosenberg het ‘n groot deel van sy lewe daaraan gewy om juis hierdie manier van dink en leef raak te sien en te verstaan.

Dit is die wêreld waarna ons in die volgende artikel kyk.

Kontak ds Louwrens Scheepers vir meer inligting by louwrens@integernetwork.com