Deur ds Jan Venter | Leierskap Netwerk
“Clarens se weergalose stilte omvou ’n mens in die nag sodat die dag se ervarings diep gebêre word en ’n mens se siel kan rus.”
Die Clarens Hermitage bring stories bymekaar. My storie, God se storie en stories van Clarens. Daar is baie stories in dié dorp – vernoem na die Switserse dorp waar Paul Kruger as staatspresident van die Transvaalse Boererepubliek sy laaste dae geslyt het. Dit was ’n kopknik vanaf die destydse stadsvaders vir die rol wat Kruger (toe ’n kommandant) in 1866 gespeel het in die verdryf van die Basoeto’s ná hulle vyf boere-‘burghers’ vroeër in ’n verrassingsaanval gedood het.
’n Mens hoor ook dat Afrikaanse en Basoeto-nasate verskillend na dié geskiedenis kyk. Dit is deel van wat Clarens se hede meer kompleks maak. Hier bly by die 8 000 mense, die meerderheid van hulle in veel kleiner huisies as wat ’n mens kry in die sogenaamde ‘bodorp’. Dog, as een van die plaaslike gidse, Jabu Mokoena, vertel hoe trots hy is op die veranderinge wat hy hier sien en beleef, dan flikker ’n sprankie hoop op dat Mokoena se droom dat almal (ongeag ras of status) saam kan verenig, dalk waar kan word.
Op die dae wanneer die laaste stop op die pelgrim-staptog ver van die dorp is, neem ’n plaaslike minibus met sitplek vir 14 mense die moeë siele terug na die kerksaal vir middagete. Hierna is ’n mens vry om die middag na eie behoefte in te klee met rus, joernaal hou of om die 25-plus restaurante, kunsgalerye en boetiek-brouerye rondom die dorpsplein te gaan verken. Die name van die genoemde vyf “burghers” staan op ’n wit gedenknaald in die middel van die plein.
Groot moeite is gemaak om plaaslike inkoop deur gastehuis-eienaars, spyseniers en toergidse by die pelgrimstap-projek te kry. Karen van der Merwe, lid van die projekspan en plaaslike restauranteienaar, noem dat die pandemie die toerisme-gedrewe ekonomie van die dorp ’n gevoelige slag toegedien het. Sake-eienaars se hoop is dat hierdie eiesoortige pelgrimservaring met sy Christelike inslag byval sal vind -– nie net by lewensmoeë geestelike leiers nie, maar enigeen wat geestelik of psigies moeg en uitgebrand is.
Elke dag eindig weer in die kerksaal (wat oorspronklik die Paul Kruger-gedenksaal was … nog ’n storie) met ’n vroegaand sobremesa, die Spaanse tradisie vir rustig saamgesels ná ’n lekker ete oor die belewenisse van die dag.
Elke stapper vertrek dan na sy of haar slaapplek, een van die netwerk van gerieflike en goed toegeruste gastehuise waarvan die eienaars deelneem aan die projek. Clarens se weergalose stilte omvou ’n mens in die nag sodat die dag se ervarings diep gebêre word en ’n mens se siel kan rus.
Heléne Meissenheimer (joernalis van Kerkbode) skryf: “Daar is uiteindelik ’n veelheid van ervarings wat ’n mens bybly na vier dae in ’n omgewing wat met goeie rede bekend staan as die ‘Juweel van die Vrystaat’. Dit sluit gewone mikro-interaksies in: Waar iemand ’n hand uitreik om ’n ander oor ’n gladde rots te help, ’n oor wat onbevange na jou storie luister, die grappies onder mekaar en met mekaar. Vir stadsjapies die belewenis van ’n rustige dorpslewe soos ’n mens raarliks vandag nog in ons wye droewe land vind. Die nagstilte wat net deur ’n piet-my-vrou en ’n paar hoenderhane onderbreek word.”
Vir enige navrae of meer inligting, kontak gerus vir ds Jan Venter, sameroeper van die Leierskap Netwerk | j.a.n.venter@icloud.com