Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Clarens Hermitage | ’n Netwerk van dagstappe rondom Clarens

Oorgeneem uit Kerkbode, deur Heléne Meissenheimer / 1 Desember 2021 / Artikels, Nuus

’n Netwerk van dagstappe rondom Clarens, geselsies met ’n verskeidenheid plaaslike inwoners en sakelui asook – in pelgrimstradisie – die eet en uitspan ná ’n lang dag … 

Daar was byna 60 jaar in ouderdomsverskil tussen die oudste en die jongste in die mengelmoes-groepie van 13 pelgrims wat onder ’n oorhangrots ’n bietjie skuiling teen donderbuie gesoek het op die eerste stapdag van die proeflopie van die Clarens Hermitage.

Die Basotho’s vertel ’n mooi legende oor hoe Clarens se inwoners weet dit gaan reën. Hulle kyk of Setlofe – hulle naam vir berg Horeb, die hoogste piek wat oor die dorp troon – haar wolksluier om het. Volgens die legende was Setlofe, ’n skaam Basotho-nooi, verloof aan Matsa (die Sotho-naam vir Rehbokkop in Golden Gate), ’n Basotho-kryger. Hy het haar egter in haar liefde verlaat en elke keer as sy daaraan dink, haal sy haar bruidsluier uit en gooi dit oor haar. Maandag, die eerste stapdag, het sy al deur die nag haar mantel styf omgewoel en wyd gegooi.

Daarom was die groepie stappers nie op ’n hoë kontoerpad op die oorspronklike bergroete soos wat ds Jan Venter, leraar van Clarens-gemeente, en sy projekspan oorspronklik so noukeurig uitgemerk het vir die eerste dag van die Clarens Hermitage of Toevlug nie. Die moontlikheid van donderweer en weerlig het dít te riskant gemaak.

Die projekspan het daarom besluit ’n korter stap op een van die 10 of 11 staproetes om die dorp is ’n veiliger keuse en dié oorhangrots, waar die groepie dankbaar kon wegval aan die roosterkoeke in hulle snoeppakkies, het net betyds opgeduik.

As die woord “hermitage” effe vreemd op die oor val, is dit omdat dit ’n ou Engelse woord is wat onder meer op ’n tyd van doelbewuste geestelike afsondering kan dui, aldus Venter. “Ons het op hierdie naam besluit omdat ons voel die term ‘retraite’ is al so holrug gery,” het hy die vorige aand met die groep se eerste bymekaarkom in die kerksaal van die NG gemeente gesê.

Venter het die idee agter die Vrystaters se eiesoortige pelgrimsbelewenis só aan Kerkbode verduidelik: “Die hermitage is ’n storie wat al baie lank in my lewe kom van reg van die begin af in my bediening. My passie is om mense se lewenspotensiaal in Christus te laat blom. Ek het nog altyd die belewenis gehad dat ons soos weeskinders buitekant ’n restaurantvenster staan en met ons hande teen die glas en ons neus teen die venster inkyk na ’n lewe wat ons hoop ons kan hê … so die hele gedagte van twee of drie, vier dae weg wees in die berg, tyd in stilte deurbring waar God ons juis in die stilte kan ontmoet, het oor jare ontwikkel tot wat ons besig is om hier in Clarens te doen.”

Vir enige navrae of meer inligting, kontak gerus vir ds Jan Venter, sameroeper van die Leierskap Netwerk |  j.a.n.venter@icloud.com

116 | Maatskaplike NOODLYN