In 2018 het ‘n goeie vriend my aanbeveel om hierdie boek te lees. Dit is in 2015 gepubliseer en is na my mening een van die beste boeke oor leierskap in veranderende tye. Ek vind dat dit baie nuttig, insiggewend en relevant is vir leierskapkwessies, veral in die Kerk.
Die skrywer, Tod Bolsinger, was tien jaar lank verbonde aan die First Presbyterian Church in Hollywood. Daarna dien hy sewentien jaar as senior predikant by die San Clemente Presbyterian Church. Hy is tans ‘n vise-president by Fuller Seminary.
Hierdie boek gebruik die epiese reis wat Meriwether Lewis en William Clark van 14 Mei 1804 tot 23 September 1806 onderneem het, as metafoor vir leierskap in veranderende tye.
Bolsinger vertel hoe Meriwether Lewis en hul geselskap ‘n ontdekkingsreis onderneem het om die beste roete na die Stille Oseaan te ontdek. Europeërs het al eeue lank gesukkel om ’n westelike roete na die Stille Oseaan te vind. Die aanname was dat hulle net oor ’n gewone bergreeks moes loop en dat hulle dan aan die ander kant ’n rivier sou kry waarop hulle met kano’s tot by die Stille Oseaan sou kon roei. Gevolglik was al hulle voorbereidings en toerusting hierop gefokus. Die eerste vyftien maande van hul reis het alles volgens plan verloop. Toe loop hulle hulself vas teen die Rocky gebergtes. Lewis en Clark ontdek toe “that three hundred years of experts had been completely, utterly wrong”.
Op daardie stadium moes Lewis en Clark ‘n besluit neem. Hulle kon erken dat hulle reis misluk het en hulle kon terugdraai. Of hulle kon aanpas en verder probeer reis. Hulle besluit toe om die tweede opsie uit te oefen, nl. om aan te pas. En dit is waaroor hierdie boek handel – oor aanpasbare leierskap. Om te besef dat dit wat ons gebring het tot waar ons nou is, ons nie verder sal bring nie.
Bolsinger pas hierdie beginsel veral toe op kerklike leierskap. Hy merk op dat baie predikante vandag kla dat “my opleiding my nie hierop voorberei het nie”. Hy noem dat ongeveer 1 500 predikante elke maand die bediening verlaat. Een van die redes is dat hulle leierskapstyl nie by ’n veranderende wêreld kon aanpas nie. Hy noem dat kerkleiers hulle op ’n onbekende terrein bevind en dat van hulle verwag word om sterwende gemeentes in ‘n post-Christelike kultuur te lei – ’n kultuur wat die kerk beskou as ‘n opsionele, uit voeling en irrelevante relikwie van die verlede. Hy sê dat die antwoord nie is om harder te probeer nie, maar om ‘n nuwe avontuur te begin.
Met die COVID-19-pandemie is kerkleiers met ’n groot stuk onsekerheid gekonfronteer en die besef is daar dat die manier van kerkwees soos ons dit geken het, dalk vir altyd verander het.
Ironies genoeg stel Bolsinger voor dat probleme waarmee kerke vandag te kampe het, baie keer die resultaat van gister se oplossings is. As sekere metodes vir jare lank suksesvol was, is dit uiters moeilik om dit te laat gaan. Dit vra dat ons nuut sal moet dink.
Hierdie is voorwaar ’n boek wat elke predikant in hierdie uitdagende Covid-19-tyd behoort te lees.
Ds Charles James | Leraar by NG Gemeente Pellissier
Hierdie is ‘n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.