Onlangs was ‘n paar van ons by die fakulteit in gesprek met kollega Henco van der Westhuizen oor sy boek Letters to a young theologian (Fortress Press, 2022). Dit is voorwaar ‘n uitstaande publikasie. Om bloot alleen net soveel van die voorste stemme in die teologiese wêreld byeen te bring en te laat spreek tot studente wat op die vooraand van ‘n groot avontuur staan, is alreeds merkwaardig. Bloot die dát hiervan spreek boekdele oor die wát nog kom. Buiten die kreatiewe en oorspronklike aard in die koor van stemme byeen, spreek die boek myns insiens ook op besonderse wyse in die hier sowel as daar; die nou sowel as later. Dit is ‘n boek wat enige belangstellende in die teologie kan lees, en tog nog sommer gou gaan klaar lees. Verstaan reg: Dit wil gelees word, deur boonop enigeen, maar weliswaar soos goeie ryk donker sjokolade … stadig en tydsaam, met elke brief/blokkie op sy tyd.
Ekself is nog besig met die boek, want om elkeen van die briewe vir jouself persoonlik aan te trek, neem tyd. Buiten dat ‘n beduidende deel van die Skrif as briewe en/of persoonlike geskrifte (ook) aan ons gerig is, benodig mens dae en nagte – ‘n week – van die een na die ander. Dit neem tyd om ‘n brief te prosesseer, want die leser word helaas ook gelees. Nóg lees ons slegs net die brief, nóg word ons ook daardeur gelees, want die bedoeling is immers om self so ‘n brief te word en te wees aan ander. Om te word wat ons hoor, vereis tyd en ruimte, ‘n inleef-in-wording.
So ‘n inleef veronderstel natuurlik ‘n onderweg-wees. Die ontluikende en voortgaande aard van die gesprek tussen die jong en die ouer teoloog is simbolies dalk heel toevallig te siene in die somtotaal van die 41 versamelde briewe. Dit is nie 40 nie, maar ook nog nie 50 nie … dit is in wording, onderweg, verby die grens van afhandeling, anderkant die kruisweg se genoegsaamheid; ‘n wording in verwondering. Dit is algaande gaande (én gaande!) oor dié is wat word, en dié wees wat kom. Dit is vol van daai soort belofte!
Laat ons onsself dus nie blind staar teen die oënskynlike jongmens en “teoloog” aan wie hier geskryf word nie. Wie inleef hierin, se voorland veronderstel allermins verstok en verkramp; verguis en vergruis; en versadig en stadig. Nee. Wie hier skryf is meeste grys, dog wys; oud in dae, dog jonk in jare. Hierdie is briewe van jong teoloë aan ander “jong” teoloë met die uitnodiging tot ‘n vreemde veroudering in Christus (lees: vernuwing tot jeugdigheid in God – ja, algaande in volkome afhanklikheid aan God). Wat aan oënskynlike jong teoloë gerig is, is voorwaar komende van nog jonger teoloë! Anders gestel: Die lees van sulke (teologiese) briewe en die uiteindelike geskryfde lewe wat dit impliseer, maak beide van ons nog jonger, broser én plooibaar! Amper soos in The Curious Case of Benjamin Button, maar meer nog soos ons lewe in Christus.
Maar, waarvan praat ek dan nou alles? Wie van ons skryf immers nog briewe? Wie van ons lees nog briewe? Daar is ‘n haakse tydigheid aan briewe, veral dié briewe – soos immers ook met preke, eredienste en teologie, veral in ons dag en tyd.
Daarom: Tolle lege, tel op en lees, en jy sal nie te groot word vir jou skoene nie … en ook weet as dié skoen jou pas. Preke het dit ook oor sulke “letters”, met ‘n bepaalde gees en nog soveel meer.
Martin Laubscher
Ns. Op Vrydagmiddag, 7 Oktober (14:30-15:30) is ek by die Vrystaat Kunstefees in die Netwerk24 Feeskafee in gesprek met prof Henco van der Westhuizen oor Letters to a young theologian.