Blog

Woorde wek, maar voorbeelde trek

 30 Jul 2021  Dr Nico Mostert   Publieke Getuienis

“Nou wat sê die kerk?” of “Wat sê die Sinode hieroor?” ‘n Reaksie of opmerking wat mens nogal gereeld die afgelope tyd hoor van baie lidmate op ‘n verskeidenheid van gebeure of kwessies in die samelewing en binne die kerk. Dit laat mens nogal wonder oor wat lidmate se verstaan van die “kerk” is. Is die kerk geboue, kerkrade, mense, ringe, sinodes, amptenare, dominees, lidmate, ens.? Hopelik is ons verstaan van kerk nie meer gekoppel aan geboue as die “kerk” nie! Dit laat ons met die menslike komponent.

Die kerk is ‘n samekoms van mense onder die leiding van en in opdrag van Jesus Christus. Binne die Apostolicum en die Belydenis van Nicea (ons oudste uitdrukkings van wat die inhoud is van dit wat ons glo) kry ons die beskrywing van die kerk wat soos volg lees: “ons glo in een heilige algemene Christelike kerk”. Nicea praat van “een heilige algemene Apostoliese kerk”. Oor die eeue heen is die eenheid (met Jesus as hoof en ons as mense onder mekaar), die heiligheid (die kerk groep mense wat uitgeroep en afgesonder is binne die wêreld), algemeenheid (oral versprei oor die wêreld heen) en Christelikheid of Apostolisiteit (die andersheid in doen en optree) die kern van hoe ons dink oor kerk.

Die kerk het dus ‘n goddelike komponent en ‘n menslike kant. Dit is die menslike aspek of kant van kerk waarmee ons sukkel. Die mens is ‘n sosiale wese wat bestaan binne sosiale verbande en verhoudings. Alhoewel Jesus die hoof van die kerk is, bly ons die lidmate, sosiale wesens. Die implikasie is dat ons sosiale omgang met mekaar en die sosiale kragte en invloede van ons omgewing, altyd ‘n bepalende invloed op ons optrede in die wêreld sal hê. Dus is die kerk nie vrygestel of geïsoleer van sosiale invloede nie. Daarom worstel die kerk as sosiale verskynsel maar met eenheid, heiligheid, algemeenheid en Christelikheid.

Dis moeilik om eenheid te hê binne ‘n diverse wêreld. Mense verwar maklik eenheid met eendersheid en wil dan hê dat die kerk eenders moet wees. Eendersheid is gewoon nie moontlik nie, maar eenheid in geloof in Jesus as die redder van diverse mense is wel moontlik. Heiligheid word maklik verwar met vreemdheid en uiterlike uitdrukkings van hoe ‘n heilige mens of kerk nou eintlik moet lyk. As my prentjie van jou prentjie verskil dan maak mense maklik ‘n waarde-oordeel wat eintlik neerkom op een vorm heiligheid wat beter is as ‘n ander vorm. Daar is dan bitter min te sien van ‘n groep wat uitgeroep is juis om anders te wees. Die algemeenheid word maklik verwar met duplisering. Ons dupliseer ons verstaan van kerk regoor die wêreld of regoor ons bepaalde gemeenskap. Dit lei tot ‘n elitistiese verstaan van die kerkgenootskap dws die NG Kerk is eintlik die enigste ware of regte kerk. Almal moet eintlik soos ons wees. Iets wat die NG Kerk genadiglik besig is om af te sterf,maar wat ander groeperinge baie vinnig opneem. Dan is daar die Christelikheid (Apostolisiteit) wat klem plaas op die anderse manier van doen van die kerk. ‘n Ander manier van doen was die kern van Jesus se lewe hier en dit het ook die kern geword van die leer van die apostels.

Dus, die kerk vind uitdrukkings in sosiale verbintenisse en kontrakte, soos in ons geval, in gemeentes, ringe en sinodes. Daardie groepe leef binne gemeenskappe wat heeltyd verander en oral verskillend lyk en optree. Daar is die groter samelewingsgoed waaroor die kerk op ‘n sinodale vlak kan uitsprake lewer. Maar daar is ook die goed in en op ‘n plaaslike gemeenskapsvlak waaroor lidmate op plaaslike vlak ‘n uitspraak kan maak. Dit is soms verstommend dat daar ‘n afwagting is vir ‘n uitspraak op ‘n sinodale vlak oor ‘n netelige saak terwyl daar ‘n doodse stilte heers oor onreg binne ‘n plaaslike gemeenskap.

Nou gesê wat die kerk? Wel, die kerk (sy lidmate eerder) kan wag dat iets gesê word, óf hulle kan ‘n Christelike kerk wees wat die hande en voete is van die liggaam van die Here Jesus! ‘n Christelike of ‘n Apostoliese kerk doen anders binne die konteks waar so kerk hulle self bevind. Hulle belydenis in leer en lewe maak ‘n daadwerklike verskil en bring hoop. Dalk moet ons ‘n ander vraag vra naamlik: “nou wat doen die kerk?” Wat doen jy en ek binne die verval van die wêreld? Daar waar dienslewering opgehou het, daar waar plundering voorkom, daar gesinsgeweld gepleeg word, daar onreg geskied, daar waar rassisme hoogty vier, daar waar seer en hartseer is, daar waar die pandemie hoogty vier. Dalk moet ons ophou om ‘n “sê”-kerk te wees en eerder beweeg om ‘n Christelike of Apostoliese kerk te wees wat die hande en voete van Jesus is in die wêreld. Dalk is die Afrikaanse spreekwoord “woorde wek, maar voorbeelde trek” ‘n raak beskrywing van wat die kerk moet wees!

Nuutste Artikels