Blog

Wanneer ons dan “Belhar” hoor, kan ons die inhoud ernstig opneem

 10 Sep 2021  Dr Wessel Wessels   Verbi Divini Minister

Dr Martin Laubscher verwys in die vorige uitgawe van die Vrypos na ‘n insident waarin ‘n lidmaat die erediens verlaat het omdat daar verwys is na Belhar. Uiteraard het dr Laubscher ‘n belangrike gesprek ontlont oor hoe die NG Kerk die nagmaal vier. Maar, daar is ook ander aspekte aan die gebeurtenis wat nadenke benodig. Iets wat my dadelik opgeval het (en dit is deel van die huidige kerklike en Suid-Afrikaanse klimaat) is die veronderstelde identiteits- kategorisering met die aanhoor van “Belhar”. Uiteraard veronderstel ek dat daar soortgelyke sentimente te vinde is in die NG Kerk en dat hierdie een lidmaat nie alleen staan in sy optrede nie – alhoewel dit nie gewoonlik in die publiek ontbloot word nie. Ek dink tog dit is die geval.

Terug by die punt, dit blyk my dat hierdie veronderstellings van identiteit binne Belhar verdeeldheid teweeg bring, eerder as die inherente hoop (in die belydenisskrif self) van eenheid en versoening. Die vraag is dit: Hoe gebeur dit dat ‘n dokument wat hoop vir eenheid en versoening in realiteit, sentimente teweeg bring wat eenheid en versoening teenwerk?

Sowat drie jaar gelede, toe ek ‘n predikant in die VGK was, vind ek myself by ‘n sinodesitting. En soos dit gewoonlik gebeur, is daar ‘n predikant van die NG Kerk wat ons besoek as ‘n simboliese handeling van solidariteit. Hy lewer ‘n kort boodskap waarin hy sy wens van voorspoed vir die vergadering uitspreek. En dit is opmerklik duidelik dat hy omgee oor die welsyn van die VGK en die verhouding tussen die VGK en NG Kerk. Maar dan gebeur iets buite die postuur van hierdie boodskap. Die gemoedere van die vergadering loop dadelik hoog en daar is ‘n koue atmosfeer in die vertrek. Een van my kollegas staan op en vra: “Wanneer gaan die NG Kerk een word met die VGK? Ons het baie lidmate, ons benodig groter geboue.”

Tot vandag nog is ek gruwelik verbaas oor hierdie opmerking. Net soos ek gruwelik verbaas is oor die lidmaat wat die erediens verlaat het. En aan die ander kant, is dit ook te wagte. Maar net omdat dit te wagte is, beteken nie dat dit verskoon of goedgepraat kan word nie. Die een se optrede verskoon ook nie die ander s’n nie.

Maar daar is iets kommerwekkends oor dit alles. Verdeeldheid vind die opperhand, en die hoop vir eenheid en versoening raak verlore. Ten diepste verskil hierdie veronderstelde uiterstes nie veel van mekaar nie. Hulle is albei besorgd oor die welstand van hulself en hul gemeenskappe. ‘n Misplaaste besorgdheid uiteraard, maar besorgd nietemin. Maar dit is my punt, hulle verskil nie veel van mekaar nie.

‘n Beduidende probleem, myns insiens, in die gesprek rondom Belhar, is hierdie miskenning van identiteit. Ons dink in die paradigma van identiteit soos ons dit uit die verlede ontvang het. En alhoewel daar baie goeie dinge uit die verlede kom, is identiteitskategorisering nie een van die goeie dinge nie. Wanneer ons Belhar hoor, hoor ons nie hoop vir eenheid nie, ons hoor die klokke van rasseklassifisering. Wanneer ons Belhar noem, dan is dit nie die oproep tot versoenende samewerking tot die soeke na die welstand van die mens wat posvat nie, maar beelde van verskillende groepe wie se verskille onversoenbaar is. Dit is die miskenning van identiteit waarmee ons moet wroeg, dekonstrueer, en herkonstrueer tot ‘n identiteit wat posvat in die narratiewe van God se verhouding met die mens.

Inteendeel, dit is juis in die ontbloting van identiteitskonstruksies waar ons God vind. Daar waar Rut, die Moabiet, ‘n voorouer van Jesus is. Daar waar die heiden ingelyf word in die mense van God, want God breek die reëls van ‘n suiwer identiteit. En daar waar God self van alle goddelike identiteit afstand doen en iets ondenkbaar doen - mens word. Tog dit sou problematies wees om hier te eindig, want dit mag ons steeds laat dink dat identiteit is soos dit is. So gemaak en so gelos. Seer seker is ons verlede meer kompleks as ‘n suiwer identiteit. Maar nog meer, ook ons toekoms veronderstel en versoek ‘n identiteit wat nie vasval in wie ons nou is nie. Die roeping van God is ook die roeping tot bekering. Soos ek die Griekse woord vir bekering verstaan, is dit ‘n verandering van die bewussyn. ‘n Anders dink en word van die self. Om die ander van onsself te word, keer op keer. Hierin word die identiteits-konstruksies waarin ons tans vasval, ontbloot en tot niet gemaak. En wanneer ons dan “Belhar” hoor, kan ons die inhoud ernstig opneem. Dit is die inhoud wat belangrik is.

Nuutste Artikels