Blog

Wanneer laas was jy met verwondering vervul?

 25 Nov 2020  Ds Mias van Jaarsveld   Algemeen

In die sentrale provinsie van Zambië, ongeveer 500 kilometer noordoos van Lusaka (en ook 30 kilometer van die Demokratiese Republiek van die Congo), is daar ‘n wildtuin van ongeveer 390 vierkante kilometer met die naam “Kasanka National Park”. Hierdie klein wildtuin is bekend vir gemeenskapsbetrokkenheid – daar word wildbewaarders opgelei, en lede van die gemeenskap neem verantwoordelikheid vir natuur- en wildbewaring in ‘n land waar wildstropery en ontbossing ‘n toenemende probleem is. Die wildtuin is uniek in die sin dat die klein parkie topografies verskil met die omliggende dele, en díe klein subtropiese woud is tuiste aan ‘n groot verskeidenheid voëlspesies, wildspesies, asook talle inheemse plante en bome. [Kantnota: Kasanka is ongeveer 50 kilometer van die David Livingstone gedenkterrein – die plek waar Livingstone gesterf het in sy soektog na die oorsprong van die Nylrivier in 1873. Destydse Zambiese president Kenneth Kaunda het ‘n monument laat oprig op die plek waar Livingstone se hart begrawe is, waarna sy liggaam na die kus gedra is om per boot vervoer te word na Engeland. Dus het die area ‘n ryk geskiedenis.]

Hoewel daar groter en meer indrukwekkende wildtuine in Zambië is – soos Kafue, South Luangwa, en Lower Zambezi – is Kasanka tussen Oktober- en Desembermaand vol bespreek met besoekers van regoor die wêreld. Die rede hiervoor is dat hierdie klein wildtuin ook die wêreld se grootste soogdiermigrasie huisves. [Nog ‘n kantnota: Die tweede grootste migrasie vind plaas tussen die Serengeti en Masai Mara, waar ongeveer twee miljoen wildebeeste trek.] In Oktober migreer ongeveer tien miljoen strooikleurige vrugtevlermuise van die Congo na Kasanka. Die waterstrome, hoë bome, digte bosse, en wildebessiebome wat net in hierdie area voorkom, maak hierdie lappie grond ‘n gunstige broeiplek vir die miljoene vlermuise. Mense gaan nie Kasanka toe om vir die wild en die bome te kyk nie – hulle gaan om hierdie skouspelagtige natuurverskynsel te besigtig. Twee keer ‘n dag – met sonop en sononder – word toeriste begelei na uitkykpunte waar hulle geduldig wag om die miljoene vlermuise te sien. Ek was daar in November 2018.

In die warmste maand op die Zambiese kalender, het ek ‘n Dettol-deurweekte langmouhemp, langbroek en toe skoene aangetrek om my te beskut teen tsetsevlieë en muskiete. Om 17:00 is ons begelei na die BBC-uitkykpunt – ‘n boomhuis in die middel van die woud. In die groep was daar Kanadese, Britte, Amerikaners, mense van die Midde-Ooste, Zambiërs en my reisgenoot, Franco. Ons gids se naam is Chisomo – wat “genade” beteken. Nadat almal die wankelrige houtleer uitgeklim het tot bo in die boomhuis, het ons uitgekyk oor die woudafdak met die son wat ondergaan in die agtergrond.

Skielik, amper asof iemand dit aangekondig het, begin iets roer en druis. Iets wat lyk soos ‘n donker wolk styg op uit die bos uit. Duisende der duisende vlermuise vlieg in ons rigting – hulle gaan nou vreet. Ek het verwag dat hierdie verskynsel vinnig verby sou wees, maar hierdie vlermuisvertoning het my toenemend verstom. Vir meer as ‘n uur het daar swerms vlermuise uit die bosse gekom. Die gesig was oorweldigend. Dit was skrikwekkend en asemrowend. Vlermuise – iets wat aardig en grillerig is – word skielik die rede waarom my mond in verwondering oophang. Die aand skryf ek in my dagboek: “As kind het ek gekoes en gevlug vir vlermuise, omdat hulle lelik en vreemd is. Vanaand het ek gehuil oor hulle verregaande skoonheid.”

Op pad terug na die kampterrein, het die eens-vreemdelinge saam gesels, gelag, foto’s vir mekaar gewys, vir mekaar geglimlag, en ek is selfs ‘n yskoue bier aangebied. Dis asof hierdie belewenis ons vriende gemaak het. By die kampterrein was daar geen krag nie, maar die donker nag het my nie bang gemaak nie – die bos is my nuwe vriend, en ek het soveel muskietgoed aangesmeer dat niks en niemand naby my sal wil kom nie. Die volgende oggend het ons vroeg terug gery na Lusaka, en my reisgenoot het heelpad geslaap. Ek het oorgenoeg tyd gehad om na te dink oor hierdie ervaring en die betekenis daarvan.

Hierdie was nie ‘n sommer-maar-net besoek nie – dit was ‘n eens-in-‘n-leeftyd, uitsonderlike belewenis. Ek was stomgeslaan deur die natuur, aangeraak deur haar skoonheid, in verwondering oor haar verskynsels. Ek het ook meer tuis gevoel in Zambië, nadat sy een van haar geheime met my gedeel het. Die feit dat ons gids se naam “Genade” (Chisomo) is, was so gepas, want dit is presies wat gebeur het – iemand moes my help om hierdie genadeteken raak te sien, en in ‘n boomhuis in die middel van Zambië ontmoet ek (en ontdek ek) die genadige God op ‘n verrassende en verstommende manier.

Vir ‘n oomblik word die boomhuis – ‘n plek waar ek weerloos is teen die natuurkragte – ‘n katedraal – ‘n plek waar ek gekoester voel; ‘n plek waar ek kan wegsmelt en rus vind in die oorweldigende bewustheid dat ek in die teenwoordigheid van Iets of Iemand groter en sterker as ek is. Hierdie genadeteken het gelei tot nuwe vriende, “familiar strangers”, wat niks gemeen het nie, wat mekaar raakgesien en menswaardig hanteer het.

‘n Vuil plek word ‘n kerk.

Vreemdelinge voel soos vriende.

In die donker sien ek die Lig.

Grillerige vlermuise nooi my in om God te beleef.

Morsigheid, ongemak, weerloosheid en vreemdheid word die perfekte kombanise vir God om my te verras en met verwondering te vul.

Dis so mooi, dit klink amper evangelies.

Ek het my ervaring met enkele mense gedeel, maar dit het niemand regtig geïnteresseer nie. Dis immers net vlermuise... En so het hierdie ervaring en die betekenis daarvan geleidelik verflou tot ‘n nostalgiese herinnering, ‘n storie van die verlede waaraan ek nouliks dink. Is dit nie tragies nie?! 

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.