Blog

Vryheidsdag

 27 Apr 2022  Dr Dawie Botes   Vrye Teuels

27 April 1994 is ingegraveer in elke persoon se geheue. Tydens daardie geskiedkundige verkiesing het ek die voorreg gehad om as verkiesingsbeampte te werk in die distrik Winburg. Daar was ‘n stukkie afwagting en onsekerheid, maar die gevoel van opgewondenheid was duidelik merkbaar in al die gemeenskappe waar ons tydens die verkiesing gewerk het. Talle geskiedskrywers verwys graag na die tydperk vóór 1994 en na die tydperk ná 1994, wat ook inderdaad kan dien as rigtingwysers vir ‘n bepaalde tydraamwerk in ons land se geskiedenis. Interessant dat vóór 1994, die NG Kerk se profetiese roeping teen die regering vanaf 1986 tot 1994, ongeveer 10 kernsake met die regering opgeneem het. In die tydperk vanaf 1994 tot 2002 het die sake tot vyf sake gehalveer, wat iets sê van die uitdagings wat die NG Kerk reeds in daardie tyd beleef het.

Een woord wat vir my uitstaan met Vryheidsdag is Vrede. Die NG Kerk het ‘n groot vredesrol gespeel tot die Vryheidsdag se datum van 27 April 1994. Menigte gesprekke is met al die leiers en partye in daardie tyd deur die NG Kerk gevoer, juis om ‘n stuk vrede te bewerkstellig. In die tydperk vóór en ná Vryheidsdag het NG Kerke baie gebid vir vrede in Suid-Afrika en het die Here ook wonderbaarlik vrede bewerkstellig waar dit soms net onmoontlik gelyk het. Ook in daardie geskiedkundige jaar van 1994 het president Mandela die NG Kerk gevra of hy die Algemene Sinode kan besoek - dit is toegestaan. Hierdie was die eerste keer dat ‘n president die Algemene Sinode besoek en toegespreek het - dit het nog nooit vóór 1994 gebeur nie. Dit is ‘n bewys van die waarde wat president Mandela geheg het aan die NG Kerk se rol in die land. In sy toespraak spreek hy onder andere sy waardering uit aan die NG Kerk vir haar rol en aandeel tot vrede en stabiliteit in die land.

Vryheidsdag kan seker baie beelde en verskillende boodskappe na vore bring - vir my is een boodskap: Vrede.

Die opgewondenheid van 1994 het nou plek gemaak vir verslaendheid, uitsigloosheid en moedeloosheid wat oorspoel na geweld. Hiervoor kan die ANC-regering net homself blameer. Die regering het elke mens in hierdie land só in die steek gelaat dat dit grens aan ‘n misdaad teen die mensdom. Kan die Kerk steeds ‘n rol speel 28 jaar ná daardie geskiedkundige dag? Natuurlik is en bly die Kerk ‘n integrale deel van die meeste mense in ons land en een van die boodskappe van die Kerk, ook nou, moet ‘n boodskap van Vrede wees. Die vredesgroet van die opgestane Here Jesus moet deur die Kerk verkondig word, dag en nag. Elke persoon in Suid-Afrika soek, 28 jaar ná daardie eerste Vryheidsdag, net weer ‘n stuk vrede. Dus het die Kerk ‘n groot taak om steeds vrede aan elke mens in ons land te verkondig, want ons het dit broodnodig. Ja, die Vrede, net in Jesus ons Here.


Hierdie is 'n opiniestuk. Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van NG Kerk Vrystaat nie.