Blog

Voetspore

 29 Jul 2022  Ds Ronel Coertzen   'n Laaste Gedagte

Dit gryp my verbeelding aan om te dink aan die invloed wat voetspore het in ander se lewe.  Hetsy dit groot spore is van ‘n nr 12-manskoen of die spykerhakkie van ‘n nr 5-dameskoen – die potensiaal van daardie spoor kan maak of breek.  Spore gebeur nie altyd net deur loop, hardloop of dans nie, dit kom gewoonlik vanuit die mond.  Die venynigheid van ‘n opdrag tref soos ‘n klipharde skoensool op ‘n dubbeltjie-pad wanneer die persoon alreeds stukkend en seer is. Die stroperige kompliment wat ‘n valserige noot voortbring, kan ‘n gat dwarsdeur ‘n verwonde hart trap wanneer jy gereeld hoor jy is nie goed genoeg nie.

Klein, versigtige spoortjies is duidelik sigbaar wanneer ‘n peuter genoeg moed bymekaar geskraap het vir die eerste probeerslag om die wêreld aan te durf.

Hoeveel keer is dit soms nodig dat ek en jy uitgedaag word om iets te leer van die realiteit waarin ons lewe?

“Trek jou skoene uit en wikkel jou tone so ‘n bietjie”. 

‘n Aardige gevoel, veral as jy gewoond is om binne ‘n veilige omgewing te funksioneer en sowaar, hier vra die dominee van die kansel af vir die gemeente om dit te doen. Huiwerig word daar afgebuig en siedaar, ‘n klomp gekousde voete in die banke. 

Skielik maak die refrein van Elvis Blue se liedjie “Spore” se koortjie meer as ooit sin:

“Kom saam, kom saam, dis al wat dit is, ek en jy is gemaak om spore te los.”

Jesus Christus het vir ons die volmaakte voorbeeld kom stel, waarom dan nog huiwer om jou roeping te omhels, te koester en te gehoorsaam:

1 Petrus 2:21: "Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg."

Mag jy só lewe dat jou voetspore sal getuig van liefde, deernis en omgee vir ander.

Wees geseënd.