Blog

Verras oor Paasnaweek

 14 Apr 2021  Ds Hannes du Plessis   Dis ‘n Ring-ding

Oor die afgelope Paasnaweek het ek vir die eerste keer in sowat ses jaar besluit om oor Paasnaweek verlof te neem sodat ons as gesin saam kan rus oor ʼn naweek wat normaalweg baie besig is met eredienste en voorbereidings. Ek en my vrou het besluit dat ons by my skoonfamilie gaan kuier in Belfast. Met Covid-19 en meegaande inperkings, was ons meer as twee jaar terug by my skoonouers aan huis. Met ons vertrek Vrydagmôre was die kinders baie opgewonde (ons as gesin het ook meer as twee jaar terug só ver - 650 km - saam gereis). Op pad Belfast toe loop alles bo verwagting goed. Selfs die kinders, onderskeidelik 3, 6 en 9 jaar oud, was nie soos gewoonlik geïrriteerd en bakleierig op die lang pad nie.

Op pad Belfast toe het ons natuurlik deur ʼn paar tolhekke gegaan. By elke tolhekstop het ek my ruit afgedraai. Van die tweede tolhek af (Vaalplaza) was elke keer se venster afdraai gevolg deur ʼn “arghhh” en “sies!” van my medepassasiers af. Iets het gestink na rook en brand. Aanvanklik het ons besluit dit is al die vragmotors op die pad se uitlaatgasse wat oor die tolhek hang, maar toe ons by die derde tolhek weer dieselfde reuk kry, het ek in stilte begin wonder of die reuk nie dalk van ons af kom nie.

Juis daarom was ek baie dankbaar en verlig toe ons uiteindelik van die N4 af na Belfast afklim en binne ʼn paar minute by my skoonouers stop. Kort voor lank was my vreugde egter gedemp. Met die volgende rit winkel toe het ek besef – iets is fout met my kar. Wanneer ek wegtrek en my koppelaar pedaal intrap, het daar ‘n eienaardige tjierie-tjierie geluid onder die voertuig se enjinkap geskree. Die koppelaar beheer was ook nie soos dit moet wees nie. Terug by my skoonouers se huis het ek dadelik my plaaslike werktuigkundige (en buurman) in Bloemfontein gebel en met ʼn paar kort vrae en senuweeagtige stiltes het hy die gevreesde woorde aan my oorgedra... “ek dink jou “clutch” se “release bearings” is besig om te gaan”. Hierdie woorde was die inleiding tot ʼn droewige Paasnaweek. Wat maak jy as jy oor Paasnaweek in ʼn ver dorp is en jou voertuig raak onklaar? Planne is gemaak en laat vaar. Die versekering sleep net tot die naaste veilige hawe. Geen werktuigkundige is beskikbaar nie. Om van ʼn insleepdiens gebruik te maak, is onbekostigbaar. Iemand het my selfs aangeraai om sonder die koppelaar te ry (blykbaar is dit moontlik), maar skoonma het my duidelik laat verstaan dat sulke toertjies nie met ʼn kar vol kinders deug nie. Ná al die planne en idees geweeg is, was daar net een plan van aksie wat genoeg gewig gedra het:  Vroulief en die twee skoolgaande kinders sal Maandag op ʼn bus na Bloemfontein klim. Kaartjies is vinnig gekoop, want baie busdienste was reeds vol bespreek. Ek en die jongste sal agterbly in Belfast en Dinsdagmôre vroeg werk maak van die voertuig se herstel. Maar, het skoonpa my herinner, maak jou reg vir ten minste ʼn week se wag. Parte moet bestel word (en Subaru-parte is skaars), die hele “clutch kit” sal vervang moet word en daarvoor moet byna die hele enjin uitgehaal word. Hierdie onaangename inligting van skoonpa het my dadelik genoop om reëlings te begin tref vir my afwesigheid van werk vir die week wat kom.

Behalwe vir die gewone vergaderings, afsprake en preke was daar een ding wat my gepla het. Ek was geboek om die week by Radio Rosestad die oggendgodsdiens te lei. Die Maandagboodskap was reeds opgeneem, maar die res van die week moes lewendig uitgesaai word vanuit die ateljee. Die groot vraag was:  Waar gaan ek iemand kry om vir my in te staan? Die dame wat die datums vasmaak, het juis genoem dat sy sukkel om leraars vir dié week te kry. Uiteindelik was ek verplig om op my ringskollegas se knoppie te druk. Ek het besluit om dit met ʼn temerige stemmetjie op ons WhatsApp-groep te stuur met die hoop dat ek só meer empatie sal wek. Vir lank was die groepie doodstil, maar ná ʼn paar uur het ʼn ringskollega my gebel. Ek was opgewonde en gretig om te antwoord, want ek het gehoop hy sal vir my oggendpreke by Radio Rosestad kan instaan. Groot was my verbasing toe ek oor die foon hoor dat my kollega ʼn nuwe plan het, een wat ons nog nie oorweeg het nie. As ek ʼn groot wa huur, sal hy ons kom haal. Hy ken iemand wat waens uitverhuur in Bloemfontein en ek het dadelik besef dat dit ʼn veel beter som is as om van ʼn insleepdiens gebruik te maak. Daar was egter nog een probleem. Dit is Paasnaweek en hy weet nie of die eienaar wat die waens verhuur daar is nie en ook nie of hy hom oor die Paasnaweek sal kan help nie. Maar, kom ons bid en vertrou dat ons sal regkom. En ja, bid het ek gebid, want die plan sou die lewe aansienlik makliker maak. Kort voor lank het my kollega baie geesdriftig teruggebel. “Ek sal nie glo nie”, sê hy. “Hy was op pad winkel toe en het daar in die eienaar van die wa-verhurings vasgeloop. Hy kon sommer dadelik die wa gaan haak.”

ʼn Dag later (Maandagoggend) laai ons vroeg-oggend die voertuig op die wa en durf die besige pad terug na Bloemfontein aan. Alles het goed afgeloop, tot so paar kilometer voor die Grasmere-tolhek. ʼn Verkeersbeampte het ons afgetrek. Ons was nie bekommerd nie, want al ons voertuie was wettig en alle lisensies op datum. Maar, terwyl my kollega buite staan en ek in die voertuig wag, kon ek sien dat sy lyftaal verander. Iets was fout. Ek het uitgeklim en nader gekom om self te sien wat dan nou fout kan wees. Die verkeersbeampte het vinnig en met groot gebare vertel dat ons nie verder kan ry nie. Die wa wat ons sleep is ʼn 2 ton wa en my kollega het nie die regte lisensie om dié wa te sleep nie. Ons moes saam terug Pretoria toe en daar wag totdat ons iemand kry wat die regte lisensie het, óf ons kan ʼn “plan” maak. Ons het verduidelik dat ons Maruti’s is en ons dus nie ander “planne” gaan maak nie. (Op hierdie punt moet ons eers ʼn kort draai in die verlede maak. Sowat 4 jaar terug het ek tydens my langverlof my swaarvoertuig-lisensie (EC) gekry. Dit het baie bloed en sweet gekos, maar ná ʼn week se probeer het ek uiteindelik die toets geslaag. Ek was nog nooit heeltemal seker waarom ek so hardkoppig was om dit te doen nie, maar op híérdie oomblik het ek net geweet dat dit alles ʼn bestiering van bo was.) Ek het die beswaarde verkeersbeampte onverwags stil gemaak toe ek my swaarvoertuig-lisensie kon uithaal, verskoning vra dat ek nie van die begin af bestuur het nie en belowe dat ek van hier af aan sal bestuur. Die verkeersbeampte het nog so bietjie getalm, maar uiteindelik kon ons ons reis voltooi.

Met ons aankoms in Bloemfontein die middag kon ek nie anders as om dankbaar te wees nie. Dankbaar dat:

  • My motor se koppelaar nie vroeër ingegee het langs die N1 nie, maar eers toe ek in Belfast is.
  • Dat ek ʼn kollega het wat ʼn deel van sy Paasnaweek opoffer om ons te kom haal.
  • Dankbaar dat my kollega “toevallig” in die eienaar van die verhuringsplek vasgeloop het en dat hy dadelik kon help.
  • Dankbaar dat ek my week se verpligtinge kon nakom en ontwrigtings in ons gesin kon vryspring.
  • Dankbaar vir  ʼn plaaslike werktuigkundige wat my die volgende oggend op ʼn betroubare manier kon help met die herstel van my voertuig.
  • Dankbaar vir die feit dat ek ʼn paar jaar gelede my swaarvoertuig-lisensie kon kry, min wetend hoe nodig ek dit tog eendag sou hê – wie weet wat vir ons sou voorlê as ons nie verder kon ry nie en na Pretoria onder polisiebegeleiding moes terugkeer.
  • Dankbaar dat ons op ʼn besige pad met ʼn groot wa geen moeilikheid op die pad gehad het nie.
  • Dankbaar dat ek oor ʼn “af” Paasnaweek iets van die Here se dood en opstanding, wanhoop na hoop, moedeloosheid na opgewondenheid, aan my eie lyf kon ervaar.